Lydende Smith lei vergeefs en Proteas is uit toernooi

Graeme smith verlaat die veld
Deel op

Graeme smith verlaat die veldDie Engelse krieketspan het gister op Supersportpark in Verwoerdburg ontwaak om die hoogaangeskrewe maar vormverlore Proteas uit die IRK se kampioenskapstoernooi te boender.

Andrew Strauss het die loot gewen en besluit om die Proteas se swakpunt, vir eens die boulaanval, uit te buit. Hy is self op 25 uit toe hy agter die stokke deur Boucher van Parnell se boulwerk uitgevang is. Denly het ‘n kort Kallis-aflewering bykant toe gelepel en is op die grens deur Duminy uitgevang. Dit was die laaste Suid-Afrikaanse vreugdetjie toe Owais Sha en Paul Collingwood die Protea-aanval met aggressie en goeie oordeel betrek het.

Hierdie aanval was ‘n bont affêre, met die boulers wat Graeme Smith tot waansin gedryf het met aanvalle weerskante van die teiken. Collingwood het uiteindelik op 82 lopies gesneuwel en Sha is tot sy afgryse twee lopies kort van ‘n ton agter die penne uitgevang.

Dit het egter nie die Proteas se ellende verlig nie. Eoin Morgan, deurtrek met ‘n hewige kleinmannetjiesindroom, het onder die Proteas se boulers ingeklim met ‘n geweld wat aan die Aussies se David Warner aan die begin van sy loopbaan herinner het. Hy het bykans twee lopies uit elke bal gewiks voordat hy op 67 lopies van 34 balle uit is. Dit het die Suid-Afrikaners 324 lopies gelaat om nog asem in die toernooi te haal.

Hierdie sou nie ‘n dag van 438-heldhaftigheid wees nie. Die Proteas het wel 301 lopies gehaal, maar het dwarsdeur agter die hakke gelyk. Maar laat Graeme Smith se knor nie geminag word nie. Hy het 141 lopies met tipiese Biff-bombasme, getemper deur ‘n sekere berekendheid, geklop. Verpletterend genoeg het dit nie die wa deur die drif gesleep nie. Hy het maar papperige ondersteuning van sy kolfkamerade gekry. Die naasbeste tellings was AB de Villiers se 36 en JP Duminy, wat homself weer in eendagkrieket moet ontdek, se 24.

Die Engelse het nou, raar genoeg, drie wenwedstryde in ‘n ry. Dit sal ongetwyfeld so deur die Engelse media besing word, dat hulle krieketspan met rapperstylarrogansie later vanjaar hier sal opdaag. Dis ook goed. Dis altyd lekker om te sien hoe lyk hoogmoed voor die val.

crystal tiarasФильчаков прокуратура харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.