Griekwas spartel op nat Nuweland

Die Griekwas was geheel en al onvoorbereid op ‘n springgety op Nuweland: Nie ‘n paddavoet of snorkel in sig nie. Die Diamantdelwers kan hardloop, hulle kan lak, hulle kan dryf – dis nou dryf soos in om voorwaartse momentum op te bou. Dryf soos in om bo-op baie water te bly, dié kan hulle nie. Gister was hulle soos visse op droë grond, heeltemal oorbluf oor die sopnat Nuweland en algeheel sonder antwoorde vir die WP se spel.

Die WP, in teenstelling, het getoon dat as die veld nat genoeg is, hulle ‘n moontlike Curriebekerwenspan sal wees, dié seisoen. Die voorspelers het iewers vastrap in die modder gevind, die agterspelers het dikwels genoeg die bal gevang en uitgegee en die lostrio van Watson, Vermeulen en Francois Louw het die modderstoeiery gewen.

Boonop het eers Peter Grant en toe die Aussie-invoerproduk, Matt Toomua, merkwaardige beheer oor die nat bal gedemonstreer. Die skraal blonde sluipskutter, Joe Pietersen, het indrukkend uit die laaste vesting pale toe geskiet en 19 punte aangeteken. Anders as wat mens egter sou verwag het, is daar meer punte deur drieë as skoppe deur die WP aangeteken. Eers het Brock Harris uit ‘n losskrum op die Griekwa-doellyn oorgekruiptrekker vir ‘n drie voordat Joe Pietersen ruimte gevind het om deur te blits vir nog ‘n vyfpunter.

WP het teen rustyd voorgeloop met 24-3.

In die tweede helfte het Duane Vermeulen sy pad oopgebeur vir die WP se derde drie en later het Juan de Jongh ‘n bal via Toomua gekry en ‘n skoppie deurgeknikker vir Frikkie Welsh om in die doelgebied op te val. Pieter Louw het heel teen die einde ‘n lang bal van die Australiër gekry en ongehinderd oorgedraf vir die vyfde van die dag.

Die WP het hulle meesterskap in die reën bewys. Indien hulle wel, soos dit nou lyk, ‘n tuishalfeindstryd behaal, behoort hulle nie op die wispelturigheid van die weer staat te maak nie. Hulle sal wys wees om die sproeiers betyds aan te sit. Dis nog nie duidelik of hulle mans genoeg is vir ‘n Haaie-span of ‘n trop Blou Bulle op ‘n droë veld nie. Maar as Nuweland nat genoeg is, kan daar hierdie jaar ‘n beroemde goue beker in die span se kabinet opduik.

european rouletteОлександр Васильович Фільчаков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.