Krieket: Engelse pootjie Sri Lanka

Deel op

Die voorspellings is toe bewaarheid: Gister, op die Wanderers, was daar ‘n span vol kalmte, presiesheid en veglus wat gespeel het teen ‘n span vol onsekerheid en mog’t –troffe krieket. Die skok was dat dit die Engelse was wat alles voortreflik gedoen het, terwyl dit toernooigunstelinge Sri Lanka was wat gestrompel en gesteier het.

Eoin Morgan het Engeland uiteindelik gestuur tot ‘n moraalopkikkerende ses-paaltjie oorwinning oor Sri Lanka in die Kampioenetrofee.

Engeland het ‘n 213-lopie teiken op ‘n springlewendige blad gehaal met nog vyf boulbeurte om te gaan, danksy Morgan (62 nie uit nie), Man van die Wedstryd Paul Collingwood, (46) en Owais Shah (44.)

Suid-Afrika en Sri Lanka het nou elk een oorwinning uit twee wedstryde, terwyl Engeland hulle eerste wedstryd gespeel het nadat hulle 6-1 in ‘n onlangse tuisreeks deur Australië afgeransel is.
Nieu Seeland het hulle openingswedstryd verloor. Die twee topspanne sal deurgaan na die halfeindrondte.

“’n Mens kan baie uit so ‘n wedstryd leer. Ons spelers het sonder vrees gespeel en as ons so aanhou, kan ons ‘n goeie span wees,” het die Engelse kaptein, Andrew Strauss gesê.

“Collingwood, Shah en Morgan het briljant gespeel. Die sleutel was om nie te veel paaltjies vroeg te verloor nie. Dit was ‘n sinvolle en professionele lopiejaagtog.”

Sri Lanka se tolboulers, Muttiah Muralitharan en Ajantha Mendis, van wie verwag is dat hulle Engeland onder druk sal hou, kon nie veel indruk maak op ‘n blad wat stadige boulers beswaarlik gehelp het.

Engeland se oorwinning is in die wieg gelê deur die spoedboulers, James Anderson (3-20,) Stuart Broad (3-49) en Graham Onions (2-58.) Hulle het voortreflik geboul om Sri Lanka op ‘n naatvriendelike blad te beperk.

Engeland het op 19-2 geswoeg toe hulle die openingskolwers, Strauss en Joe Denly, verloor het, maar die verbete Collingwood het die kolfbeurt op die regte koers gekry met ‘n ywerige teenaanval.

Nuwan Kulasekera het die vroeë skade aangerig toe hy Strauss vir nege en Denly vir vyf lopies verwyder het in sy vlymskerp openingskof.  Hierna het Collingwood die druk verlig deur onder andere met die kolfblad af te skuifel en Kulasekara oor middebaan te trek vir ‘n ses waarna hy die volgende twee aflewerings vir viere gewiks het. Na sy vertrek het Morgan aangetree om toe te sien dat Engeland die paal haal toe hy sewe viere in sy sewende halfton in eendag internasionale wedstryde aangeteken het.

Sri Lanka in hulle beurt het vroeg reeds gewankel op 17 vir vier voordat Kandamby met 53 lopies en Matthews met 52  die wa terug op sy wiele gekry het. Sri Lanka se kaptein, Kumar Sangakkara het gereken die span se telling van 212 was ‘n goeie een op ‘n blad wat nie ‘n tipiese eendagstrook was nie.

Tydens die Sri Lanka-beurt het die Engelse kaptein, Andrew Strauss, gewys dat hy iets van die Suid-Afrikaanse sportgeesinbors behou het, toe hy Mathews teruggeroep het om verder te kolf toe dié as uitgehardloop uitgegee is nadat hy in die bouler vasgehardloop het op pad na ‘n tweede lopie.

Of hierdie oorwinning van Engeland, en die gelatenheid waarmee Sri Lanka dit beleef het, blote afwykings was, sal gesien moet word. Engeland speel Sondag teen Suid-Afrika in ‘n wedstryd wat van dié antwoorde sal verskaf.

дома интернеталександр лобановский харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.