Halfpas-Proteas goed genoeg vir Swart Pette

Deel op

Die Proteas het gister geen spiere verrek om die Nieu-Seelanders in Verwoerdburg te klop nie. Nogtans is hierdie nog nie ‘n span wat lyk of al die werkende dele in posisie geklik het nie. Tog is die tekens daar dat hierdie span ‘n wedstryd of twee daarvan is om soos die meedoënlose masjien van die vorige seisoen te lyk. Nieu-Seeland is inderdaad ‘n span wat niks dreigender lyk as ‘n pak malvalekkers nie, maar die Suid-Afrikaners het op alle gebiede tog ‘n snarsie akkurater, vinniger en meer doelgerig gelyk.

Wayne Parnell was weereens spandabelrig met lopies, maar het darem vyf paaltjies gekoop al was dit teen Woolworths-pryse van 7,12 lopies per boulbeurt. Dale Steyn het minder paaltjies gekry maar sy knaende en onstuimige boulwerk het net 32 lopies in een bal minder as tien boulbeurte afgestaan. Parnell was waarskynlik die begunstigde toe kolwers uit pure verligting aan die einde van elke Steyn-boulbeurt probeer het om Parnell se boulwerk te kasty. Dis ‘n strategie wat met peperduur paaltjies beboet is.

Lopies het eers in ‘n skaflike vloed gekom, maar het toenemend opgedroog. Roelof van der Merwe en Johan Botha, op pad na iets soos sy gewone vorm, het die kraantjie nog stywer toegedraai.  Van der Merwe het lopies met die iesegrimmigheid van ‘n Skot afgestaan en het twee paaltjies vir 35 geneem.

Brendan McCullum het ‘n ongewone 68 balle verbruik vir sy 44 lopies voordat hy skuins agter sy rug uitgevang is deur JP Duminy van Johan Botha se kort bal af. Daarna het Ross Taylor vasgeskop asof hy ‘n vyfdaagse toets probeer red. Hy het uiteindelik op 72 die toneel verlaat. Die gebruiklike einde-van-die-beurt aanslag het uitgeflikker toe kolwers een na die ander terug paviljoen toe gedruipstert het met enkele lopies op hulle telkaarte. Die 213 lopies wat hulle aangeteken het, weliswaar op ‘n growwe kolfblad, het nooit na ‘n wentelling gelyk nie.

Graeme Smith het gou die harde werk aan die res oorgelaat toe hy hondmak uit is na ‘n skephoutjie na ‘n kort diepby met sy telling op 7. Hashim Amla was die ene onskouspelagtige konsentrasie waar rondom  die Proteas die beurt gekonstrueer het. Kallis was meer dominerend vir 36 lopies van 39 balle. Maar, nie vir die eerste keer nie, was dit AB de Villiers wat waaksaamheid met waaghalsigheid gekombineer het vir ‘n gepoleerde 70 lopies van 76 balle. Albie Morkel het ‘n selfversekerde 19 lopies vir die verbruik van 14 balle gewiks.

Volgende op die Groen-en-Goud spyskaart is die Engelse. Wonderwerke gebeur, maar as die Proteas enigsins verbeter, is ‘n wonderwerk wat dit sal verg vir die Engelse om te wen.

детский магазин игрушкиФильчаков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.