Godsdiens: ouers moet ook hul kant bring

Deel op

Dis oorlog oor skolegodsdiens. ‘n Mens het respek vir die hoofde van skole wat nog dapper teen die aanslag probeer terugveg ten spyte van die oormag teen hulle. Hulle verdien groot lof en het die hele land se Christene se voorbidding nodig.

Nou het ek maar net gewonder – is dit regtig die skool se verantwoordelikheid om aan ons kinders godsdiensonderrig te gee? Is dit nie maar hoofsaaklik die plig van die ouers, met klem op die kinders se ma’s, om die kinders in die vrese van die Here groot te maak nie? Het ons nie maar in die verlede ons plig so bietjie versuim en sulke belangrike sake op die skole en kerke afgeskuif nie?

Ek hoor uit tientalle kele dames nou skree dat hulle nie die tyd het om nog aan godsdiens ook af te staan nie. Ek het begrip vir die hedendaagse vrou wat ook in ‘n beroep staan en dan saans nog die huishouding ook moet behartig.

Is dit regtig so vreemd? My ouers was beide betrokke by die onderwys en bitter min by die huis, maar ek onthou reëls wat ek later op my eie kinders toegepas het. Dit was reëls wat ons nie durf verontagsaam het nie. Woensdae was Engelse dag en glo my die stilste dag in die Richards-huishouding, want dit was moeilik om in Engels te baklei. My kinders is net soos wat ek en my suster en broer was, half in paaiemente en ver uitmekaar met net een ding in gemeen en dit is om goed te kan baklei.

Ritte skool toe en terug met my kinders was vir my ‘n nagmerrie en toe onthou ek van die “stil” dae op Woensdae waarmee ek grootgeword het. Die tye in die motor skool toe en terug word toe ons “Engelse tyd” en ek kon die motor in vrede skooltoe of huistoe bestuur.

So moes ons ook elke dag ‘n moeilike Afrikaanse- en Engelse woord uit die woordeboek kry en ons lysies voltooi. Woensdae moes ons spelling skryf by die huis oor ons Engelse woorde en Vrydae oor die Afrikaanse woorde en dit het niks met huiswerk vir die skool te doen gehad nie.

Vrydagmiddag was dit ook biblioteektyd. Voordat ons boeke teruggeneem is, moes ons eers ons “leesverslae” vir my pa of ma wys. Daarin was kolomme getrek waarin ons die naam, skrywer en tema van die boek moes neerskryf en ook of ons die boek geniet het al dan nie en redes daarvoor gee.

Sondagmiddag was Bybeltyd – dan moes ons iets vertel wat ons getref het uit die Bybel wat ons gedurende die week gelees het. Ons kon ook vrae vra oor gedeeltes wat ons nie verstaan het nie. My ma het selde of ooit later jare tyd gehad om vir ons in die aande uit die Bybel te lees voor ons gaan slaap, maar sy het seker gemaak dat ek, wat die oudste is, vir die twee jongeres voorlees totdat hulle dit self kon doen.

Vandag word daar so gesukkel met kinders wat nie kan lees en skryf nie. Neem ouers nog vir voorskoolse kinders boeke uit en lees dit vir hulle hardop? Leer ons nog ons kinders om boeke te respekteer? Hoeveel ouers lees hulle kinders se voorgeskrewe boeke sodat hulle met hulle kinders daaroor kan debatteer?

Hoeveel ouers is negatief oor lees? Hoeveel ouers laai hulle kinders by die Sondagskool af maar gaan self nie kerktoe nie? Is ons nog die rolmodelle vir ons kinders soos wat dit hoort?

Hoe lank gaan ons kerke nog vrylik mag dienste hou? Sal ons dan gereed wees om die pligte van die leraar oor te neem en voort te bou om die Bybel aan ons kinders oor te dra?

Ons mammas wat so sukkel om tyd in te ruim vir alles – gooi maar net iets van een van die sepies op televisie by ‘n geselskap in en kyk na die reaksie. Kan ons nie maar ‘n tydjie inruim om voor die kinders se slaaptyd vir dié wat nog nie kan lees nie te lees en dié wat wel kan lees toe te sien dat hulle wel hulle Bybels bestudeer.

Beklee ons as ouers nog ons regmatige plek in ons gesinne of het die rolle omgedraai?

play 21 forпрокурор Фильчаков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.