Centurion was vol roesvlokkies

Deel op

Graeme Smith stap pawiljoen toe

As jy gister op Centurion mooi gekyk het, sou jy gesien het die veld is vol rooibruin vlokkies. Dit was roesskilfers wat van die krakerige Proteas in hulle eerste wedstryd in drie maande afgeval het. Om van die roes gestroop te word, is ‘n goeie ding, maar die prys daarvan was ‘n nederlaag teen die deeglikgeoefende Sri Lankaanse krieketspan.

Die Suid-Afrikaners begin selde ‘n seisoen of ‘n reeks op ‘n hoogtepunt. Mickey Arthur en Graeme Smith het ‘n goed georganiseerde masjien gebou, een wat gebaseer is op presiesheid van plan en uitvoering. Gisteraand was dit juis hierdie element van presiese uitvoering wat onderbreek het. Meeste van hulle aksies was net ‘n bietjie stadiger, ‘n bietjie minder sekuur, ‘n bietjie lomper.

Smith het vir ‘n verandering die loot gewen en, reg uit die Arthur-Smith handleiding, gekies om te boul, selfversekerd van die Suid-Afrikaanse boulerskorps om die Sri Lankane bedeesd te hou en veral in die kolwers om enige teiken te jaag. Boulers is egter die spelers wat die meeste aan arenaroes ly en dit was veral die jong Wayne Parnell wat bont geskiet het. Voor die penne, vrygestel van die tipiese wurgende Protea-druk, het die onortodokse Tilekeratne Dilshan gedy en hy het ‘n sorgelose honderdtal geslaan in geselsskap van ‘n bestendige Sangakkara wat self ‘n vloeiende halfton versamel het.

Selfs die normaalweg onverstoorbare Johan Botha het óf lyn, óf lengte gevind maar selde lyn én lengte. Dit was net Dale Steyn wat selfversekerd gelyk het en 3 paaltjies vir 47 lopies geneem. Parnell het óók 3 paaltjies geneem, maar teen ‘n koningslosprys van 79 lopies. Sri Lanka het min moeite gehad om 319 lopies op die telbord in te vul.

Die Suid-Afrikaanse lopiejaagtog was deels besigheid soos gewoonlik, deels roesgestrem. Hashim Amla het sy paaltjie soos ‘n stoere toetskolwer verdedig en sy drie lopies met tien balle gekoop. Graeme Smith, aan die ander kant, het die bal met sy gewone brutaliteit geslaan. Jacques Kallis het by hom aangesluit en met die konstruksie van ‘n beurt begin. Dié vennootskap het belowe om die Proteas se kastaiings uit die vuur te hark – totdat die jong Ajantha Mendis die strydware opgeneem het en Smith kous oor die kop getrek het met ‘n bal wat weg moes draai en ingeswiep het tot teen die Suid-Afrikaanse kaptein se wegpen.

Daarna was dit alles redelik voorspelbaar. AB de Villiers het ‘n paar skerfies van meesterskap getoon voor hy na ‘n kortbal geswaai het en aan die bykant uitgevang is. JP Duminy het ook gesien hoe ‘n eerste bal van Mendis sy wegpen laat bollemakiesie en Boucher se been is voor die paaltjie getref.

Tog was daar tekens van wat die Proteas kan doen as hulle eers weer gewoond geraak het aan die gras onder hulle voete. Roelof van der Merwe is so astrant en effektief soos gewoonlik, Albie Morkel slaan steeds die bal asof hy die een kant daarvan wil plat kry en Dale Steyn is ‘n halwe kilometer per uur van sy eie dodelike self af.

Uiteindelik het die reën opgedaag met die Proteas op 206 vir sewe met ‘n rapsie meer as twaalf boulbeurte oor. Menere Duckworth en Lewis het bereken dat hulle vyftig lopies agter was. Sri Lanka wen gemaklik.

Nou ja… as die Proteas vooraf besluit het om één wedstryd te verloor, is hierdie die regte een. Hulle moet nog teen Engeland en Nieu Seeland speel. Verloor hulle een van dié, verdien hulle buitendien nie om die toernooi te wen nie. En kruis hulle paadjies voorkant toe in die toernooi weer met Sri Lanka, sal dinge anders lyk.

москватопкарго отзыв

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.