Met komplimente van die ‘Vrye Mense’

Deel op

Nico Smith se verwysing na Algerië in sy onlangse pleidooi dat Afrikaners hulle oorgawe moet verdiep tot verdwyning soos die Franse koloniste kwansuis sou gedoen het, is onbeholpe om die minste te sê. Dit spreek van ‘n onkunde oor die land en sy mense.

Die Franse koloniste het ‘n tuiste gehad om na terug te keer en dus het hulle nie opgelos in die groter geheel deur Arabies te word nie. Vir die “colons” wat nie meer tuis gevoel het nie, was daar ten minste ‘n taaltuiste oorkant die water.

In Algerië is die gemeenskap wat vandag uitwissing in die gesig staar ook nie tevrede met die gang van sake nie en dikwels openlik in opstand teen die verdrukking wat hulle verduur.

Algerië is, benewens Islamitiese ekstremisme wat sedert die tagtigerjare oral in Noord-Afrika posgevat het, ook die land van ‘n baie ou volk, naamlik die Berbers in Kabilië. Hierdie gemeenskap, inheems aan Noord-Afrika, tussen 30 en 40 miljoen van hulle, strek van Marokko tot en met Egipte. Hulle het in vroeër tye selfs kolonies in Mauritanië en Timboektoe gevestig.

Die oorsprong van die Berbers is Mediterreens en hulle het geneties meer met Europeërs in gemeen as met Afrikane. Selfs onder die Toeareg-Berberbevolking het 38,6% blou of groen oë, ‘n persentasie baie hoër as vir die Siciliaanse of Spaanse bevolkings.

Hulle taal, ‘n vertakking van die Afro-Asiatiese taalfamilie, staan ook bekend as Tamazight, die generiese taalterm, en in Algerië as Taqbaylit en verder wes as Tashelhit. Na hulleself verwys die Berbers dikwels as die “Imazighen”, meervoud, of “Amazigh”, enkelvoud.

Die woord beteken “vrye mense”. Die benaming kom waarskynlik van die Romeinse naam vir die Berbers: “Mazices”.

Die antieke Grieke het na die Berbers as die “Libiërs” verwys en voor die Slag van Irassa (570 vC) was die verhoudinge tussen die Grieke en Berbers vriendskaplik. Trouens, bekende figure uit die Griekse mitologie was sogenaamde “Libiërs”, ‘n ouer term vir die Berber. Herodotus het Athena as ‘n “Libiër” beskryf en so ook Medusa.

Die meerderheid Berbers was aanvanklik Christene, maar is later verislamiseer. Daar is selfs ‘n aantal Berberteoloeë wat ‘n blywende bydrae gemaak het tot die vroeë Christendom soos Donatus Magnus wat die Donatistiese orde op die been gebring het.

Die Romeinse keiser, Septimus Severus, was ook deels van Berberoorsprong. Meer onlangs is die bekendste figuur die Franse sokkerheld Zinedine Zidane. Maar daar is, benewens die reeds genoemdes, ‘n lang Berbergeskiedenis besaai met skrywers, argitekte en musici.

Die verislamisering van die Berbers het nie sonder baie teenkanting geskied nie, veral vanweë die rassistiese houding van die Arabiere. Sedert ten minste 739 – 40 vC, toe die Berbers in opstand gekom het teen Arabiese onderdrukking en slawerny, is dié mense bekend vir hulle egalitêre sienswyses.

Die Moslems wat Iberië in 711 binnegeval het, was grotendeels Berbers. Teen die 9de eeu was die hele Noord-Afrika so te sê Berber.

Alhoewel hulle vandag as nomadies gesien word, is hulle van oorsprong landbouers en is tot trek gedoem deur hulle Arabiese plunderaars.

In 1962, ten tye van die vryheidstryd in Algerië teen Frankryk, was die Berbers anti-koloniaal en hulle is dit steeds. Dit is eintlik waar die parallel tussen Algerië en Suid-Afrika moet lê: Tussen die inheemse vryheidsliewende gemeenskappe in albei lande.

Die onderdrukking van meesal binnelandse “Vrye Mense” se kulturele identiteit, wat al sedert die gedugte seemag van die Feniciërs aan algehele oorname ontkom het, het in 1992 weer tot uitbarsting gekom. In 1998 het die sluipmoord op geliefde Berbersanger, Lounes Matoub, deur Islamiste, weer tot hewige onluste in Kabilië gelei en tot die val van president Liamine Zeroual.

In April 2001 het die Arabiese polisie op skares losgebrand en tussen 60 en 80 Berbers gedood toe onluste opnuut uitgebreek het na die dood van ‘n Berberjeugdige, Massinissa Guermah. Hy is dood nadat hy 12 skote ontvang het. Die amptelike verklaring was dat ‘n geregsdienaar gegly het en sy wapen per ongeluk afgegaan het.

Natuurlik het die Berbers nie die regering se verspotte weergawe van die gebeure wat tot die jong man se dood aanleiding gegee het, aanvaar nie.

Die Algerynse owerhede gebruik herhaaldelik die Islamiste se terreurveldtog as verskoning om hardhandig teenoor die Berbers op te tree.

Die kat-en-muis speletjie van die militêre bewind in Algerië met die Kabilisie bevolking is op sigself egter ‘n aanduiding dat totale onvrede ‘n hoë prys sal dra. Konstitusioneel word Algerië amptelik as ‘n “Arabiese, Berber-, Moslemvolk” beskryf en die taal as ‘n “nasionale” taal. Die taal is ‘n keusevak op skool in Berbergebiede.

In Marokko, waar Berbername eens verbode was, het die taal geen amptelike status nie, maar word as ‘n verpligte vak op skool aangebied ongeag die geografiese ligging van die skool.

Die beweging wat stry vir die onafhanklikheid van Kabilië, MAK, fokus veral op taal, want ten spyte van al die oënskynlik vriendelike amptelike gebare, voel die Berbers ‘n staatsvyandigheid.

Kabiliese nasionaliste is dit eens dat die Algerynse regering ‘n lae-intensiteit oorlog teen hulle voer. Nie net met sluipmoorde en onverklaarde skietvoorvalle nie, maar ook met brandstigting.

Aan die begin van die jaar het die MAK owerhede verras met ‘n reuse opkoms by ‘n betoging. Vierduisend studente het in Tizi-Oezoe byeengekom onder die Kabiliese vlag met slagspreuke wat die “regering van sluipmoordenaars” veroordeel.

Sedert die herverkiesing van premier Bouteflika in 2004 is die weermag in Kabilië herontplooi en elke somer beleef die inwoners ‘n inferno van vlamme wat hulle sê deur die Arabiese weermag aangestig word.

Die somer vanjaar is herdoop tot die “Hel van 2009”, die ergste brande wat Kabilië tot nog toe moes trotseer. Olyfboomplantasiese in Maatkas, Bouzegane, Amizour, en vele ander is vernietig in die Arabiese vagevuur wat oor Kabilië afgeroep is.

Dit herinner tewens sterk aan die boere in Suid-Afrika se stryd met brande wat kwaadwillig gestig word

Die inwoners van Tadmait, 18km wes van Tizi-Oezoe, die hoofstad van Kabilië, het op 24 Julie 2009 twee van die regering se veiligheidsmanne op heterdaad betrap terwyl hulle ‘n brand probeer stig het. Die weermag verhoed ook inwoners wat huisraad van hulle brandende huise of die huis self wil red, om die vuur te blus.

‘n Pamflet wat deur die minister van godsdienaangeleenthede gratis in Kabilië versprei word, getiteld “Trane voor vuur – psigologiese oorlogvoering” het die inwoners verder oortuig van die regering se kwaadwilligheid.

Voordat Nico Smith dus weer Algerië uitsonder, moet hy homself liewer vergewis van wat vandag in die land afspeel: ‘n Plofbare mengsel van taalnasionalisme, etnisiteit en ‘n onblusbare vryheidstrewe. Alles met komplimente van die “Vrye Mense”…

медицинская справка 86Александр Фильчаков Васильевич

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.