Die mite van die Krugermiljoene

Deel op

Die aand van 28 Mei 1900 was bewolk en donker. Lord Roberts se 100 000 Britse soldate was reeds suid van Johannesburg ná sy opmars uit Bloemfontein. Dit is nou reeds agt maande sedert die Anglo-Boere Oorlog in Oktober 1999 uitgebreek het. Pretoria, die hoofstad van die ZAR, sou die volgende paar dae ingeneem word. Daarna sou die Boeremagte volgens lord Roberts se doktrine hul wapens neerlê. Die oorlog sal vir Haar Majesteit se regering gewonne wees.

Minstens vier muilwavragte goudstawe en krugerponde moes die nag van 28 Mei uit die Munt op Kerkplein verwyder word. Die ZAR se opperbevel het gelas dat die goud na Europa verskeep moes word. Dit sou per trein na Lourenço Marques geneem word en op ‘n Duitse skip, die Bundesrath, wat reeds in die hawe wag, gelaai word. Indien lord Roberts die goud as oorlogsbuit sou konfiskeer, sou die Britte die hele oorlog daarmee kon befonds en bonop ‘n aardige batige saldo vir Haar Majesteit se regering oorhou. Roberts was reeds ingelig dat al die goud sedert Oktober die vorige jaar in Pretoria geberg word. Hy kon dus nie wag om sy hande daarop te lê nie.

Die muile se hoewe maak ‘n klak-klak-geluid op die small sementpaadjie agter die Muntgebou wes van Kerkplein. Die muilwa is swaar gelaai en die diere beur aan die swaar vrag. Die 25-jarige Gustav Preller, wat die verantwoordelikheid vir die vervoer van die goud het, het al sy geduld en inspanning nodig om die diere stasiewaarts te dryf. Min het hy geweet dat hy in later jare ook die Afrikaners so sal moet dryf om hul taal en kultuurgoedere te waardeer en uit te bou. Maar vanaand moes hy vier vragte goud by die wagtende trein by Eerste Fabriekenstasie kry.

By die goedereloods wag ‘n paar donker mansfigure hom in. Gen. J.C. Smuts staan heel links. As Staatsprokureur is hy in bevel van Pretoria vandat die ZAR-regering stilweg na Machadodorp verskuif het. Hy gee opdrag dat Malherbe, die tesouriergeneraal van die ZAR, Jannie Marais, die ouditeurgeneraal en Paul de Villiers die goud by Gustav Preller in ontvangs moet neem. Hulle praat in gedempte stemme terwyl die dokumente onderteken word. Tyd is beslis nie aan hulle kant nie, want die voorhoede van die Britse magte word nou enige oomblik verwag.

Die trein se bagasiewa is met kluise toegerus. Dit is dieselfde wa wat vantevore die goudstawe na Lourenço Marques vir verskeping na Europese banke vervoer het. Vier gewapende polisiemanne moes die goud na die hawe vergesel. Die swaar goudstawe word vanaand sorgvuldig in die kluise gepak en aangeteken. Die sakke met opgerolde goudplaat waaruit die munte gepons word, word saam met die sakke vol Krugerponde in ‘n afsonderlike kluis toegesluit. Preller ontvang ‘n kwitansie vir elke item. Dan haas hy hom weer terug na Kerkplein om die volgende vrag te gaan haal.

Jules Perrin was ‘n Franssprekende Switser. Hy was die tegniese hoof van die Munt en is deur die twee Meyerbroers bygestaan. Vir hulle was die hele gedoente natuurlik ‘n hartseersaak. Hulle sou hul muntponsmasjien, skaal en goudskroot wat in die laaste kas op die muilwa gepak word nooit weer sien nie.

Die ZAR se goudvoorraad het ‘n langerige aanloop gehad. Op die 19de Oktober die vorige jaar, ‘n week nadat die oorlog begin het, het die ZAR alle gouduitvoere verbied. Alle goud sou voortaan vir wapens en ander oorlogsdoeleindes aan die staat behoort. Daarvoor sou produsente ‘n amptelike sertifikaat kry wat ná afloop van die oorlog deur die staat vereffen sou word.

Gedurende die afgelope paar maande het verskeie besendings krygstuig en 44 000 sak meel uit Duitsland per trein uit Lorenço Marques aangekom. Luit.kol. S.P.E. Trichardt was die bevelvoerder van die Staatsartillerie. Die wapentuig onder sy bevel bestaan uit C96 Krupp veldkanonne, 75mm Creusot veldkanonne en 37mm Vickers Maxim “Pom-Poms”, 120mm Krupp Howitsers en die vier beroemde 155mm Creusot kanonne, wat as die “Long Toms” herdoop is. Die sakke meel en die meeste van hierdie wapentuig moes nog met goud betaal word.

Regter F.E.T. Krause het die vorige maand aan dr. Leyds laat weet dat gen. Kok tydens ‘n besoek aan verskeie goudmyne ongeveer 120 000 onse rugoud op die mynpersele opgemerk het. Die mynbase het dit waarskynlik met opset vir die Britse magte agtergelaat om te buit. Met gen. Botha se instemming gee dr. Leyds toe opdrag aan Kok se kommando van 90 man om al daardie goud op te kommandeer en met muilwaens na Pretoria te neem. Speurder Burchardt voer die opdrag nougeset uit sodat geen goud in Britse hande sou val nie.

Vroeg die oggend van die 29ste Mei vetrek die trein uit Eerste Fabriekenstasie. Die Britse magte was toe reeds by Sesmylspruit. Soos deur die Britte verwag is, het Boeremagte die kolom voorgekeer en weerstand gebied om die opmars te vertraag. Die kanonskote kon reeds in Pretoria gehoor word. Benewens die goud was daar ook waardevolle voorrade artilleriewapens en ammunisie wat daardie dag verwyder moes word. Daarvoor was ekstra tyd nodig, vandaar die weerstand om tyd te wen.

Meyer en die gewapende wagte reis in die passassierswa. Dit sou die laaste keer wees dat ‘n trein Pretoria onder die ZAR se Vierkleur verlaat het. By Hectorspruit word ‘n vrag goue Krugerponde opgelaai wat die staat se myningenieur en berede polisie vanaf die Witwatersrand met ‘n Kaapse wa saamgebring het. Die trein moes die goud na Lydenburg neem waar dit aan die Boeremagte by Dalmanutha vir hul dienste oorbetaal sou word. Die Boeremagte kon dan ook hul kosvoorrade aanvul.

Op Waterval Boven wag ‘n welgeklede man die trein in. Mnr. Van der Poel is assistentbestuurder van die Nationale Bank van die ZAR. Sy opdrag was om die goudbesending na die hawe te vergesel en om ‘n kwitansie van die skeepsagente daarvoor te kry. Die wagte het hom aanvanklik met agterdog bejeën, maar sy dokumente het hulle tevrede gestel.

Daardie aand, op pad na Lydenburg, val ‘n groep rowers die trein aan. Verskeie skote word afgevuur, maar die wagte slaag daarin om sonder enige verliese van die boewe ontslae te raak.

Lord Roberts was hewig onsteld toe sy magte Pretoria op 19 Junie 1900 binnegaan en hy ontdek dat die buit reeds verwyder was. Hy wou die nuwe kanonne oorneem en het reeds planne begin maak hoe om die goud in Londen te kry. Maar hy moes met skok ontdek dat hy nie ‘n enkele Krugerpond sou buit nie. Selfs die goudskroot was weg.

Komdt.gen. Meindert Noome, toe die Hoofklerk van die ouditeurgeneraal, wat die bevel van die Munt by Meyer oorgeneem het, skryf in sy dagboek dat die goud op 1 Augustus 1900 aan die Duitse skeepsagent Wilken en Ackerman in Lorenço Marques oorhandig is. ‘n Kwitansie vir die volle hoeveelheid goud is daarvoor uitgereik. Volgens Noome was daar 62 kiste goud wat op die Bundesrath na Hamburg verskeep is.

In Hamburg aangekom ontstaan ‘n toutrekkery oor die wettige eienaarskap daarvan. Dresdner Bank en Allianz het in die Duitse hof aangevoer dat die rugoud wat deur Kok se kommando opgekommandeer was, hul eiendom was. Die hof moes hoor dat die afsenders Wilcken & Ackermann, die Bundesrath-skeepsagente in Lourenço Marques, die besending aan Arndt und Cohn van Hamburg versend het. Die wettigheid van die hele aksie het op pres. Paul Kruger se formele magtiging daarvoor berus. Hy was reeds in Europa en kon geredelik ‘n beëidigde verklaring verskaf. Die eisers wou dit egter nie aanvaar nie en het aangedring op die waarnemende staatshoof, gen. Schalk Burger, se toestemming, aangesien Kruger “op verlof is”. Hierop het die hof ‘n embargo op die goud geplaas totdat die wettige status vasgestel kon word.

Vanweë die verwarring wat tydens die oorlog in Pretoria en in die veld geheers het, moes dr. Leyds die stryd uiteindelik gewonne gee. Hy wou bewys dat al die staatskuld gedelg was. Leyds wou die ZAR se naam in ere herstel. Die saak het egter vir dekades daarna gesloer en in die vergetelheid geraak. Waarskynlik het die hofdokumente tydens die 2de Wêreldoorlog verlore geraak en die eienaarskapsage onopgelos gelaat.

Amptelik het geen goud tydens die treinrit na die hawestad verlore gegaan nie. Dit is ook duidelik dat die goud nie aan die Boerevolk behoort het nie, maar aan die ZAR se krygsraad wat dit ná die oorlog weer aan die wettige eienaars sou moes terug besorg.

Die ongeveer 200 000 ons goud wat daardie nag in 64 kiste uit Pretoria verwyder was, word teen vandag se goudprys van $1000 per fyn ons op $200 miljoen geraam. Om dit aan die verlore Krugermiljoene te koppel, is dus baie onwaarskynlik.

Daardie besending goud was egter nie die enigste een wat van Pretoria versend was nie. Die mite rondom die Krugermiljoene het sy oorsprong by minstens drie besendings goud. Hierdie besending was egter verreweg die grootste en nie ter sprake nie.

Die tweede besending is dié wat die staatsmyningenieur by Hectorspruit op die trein gelaai het en wat by Lydenburg afgelaai is. Hoewel die amptenare noukeurig rekord gehou het van die hoeveelheid munte wat hulle oorbetaal het, kan niemand met sekerheid bewys dat die volle bedrag uiteindelik aan die Boeremagte uitbetaal is nie. Daar kan met ‘n redelike mate van sekerheid aanvaar word dat, gesien teen die agtergrond van die oorlogsituasie, ‘n gedeelte van daardie munte voete gekry en begrawe is. Verskeie verhale word daaromheen geweef, maar die grootte van die verlore skat word gewoonlik op onrealistiese aannames gegrond.

Die derde besending van sewe staalkiste is saam met pres. Paul Kruger van Waterval Boven, wat ná Machadodorp die tydelike setel van die ZAR was, na Lourenço Marques vervoer. Hierdie laaste besending is waarskynlik dié wat die waarskynlikste oorsprong van die Krugermiljoene is. Dit sal in ‘n volgende aflewering hanteer word.

Hierdie artikel is gebaseer op Marie Bredell van Dullstroom se nougesette navorsing. Dit is bygewerk deur inligting uit ander bronne. JW

websiteтопкарго развод

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.