Kop op die Blok: Swart dag wag op Kiwi’

Veldmaarskalk Bernard “Monty” Montgomery het mos veelgeroemd opgemerk dat die Eerste Reël van Oorlogvoering is: Moet nooit opmarsjeer Moskou toe nie. Vir ‘n lang ruk het dit die nugtere rugbyprofeet ook betaam om nooit stelling teen die All Blacks in te neem nie.

Moskou is ver van Frankryk van waar ‘n klein Korsikaan sy imperiale magte teen Rusland gewerp het. Berlyn van waar Adolf Hitler die voorbeeld van Napoleon verontagsaam het, is nie veel nader nie. Maar die Franse is ingewag deur die ruitery van die Kosakke en die Tsaar se artillerie. Hitler se Panzers is ingewag deur die duisende T34-tenks van Zjoekoff. En beide Teutoniese en Galliese magte is skaakmat gesit deur die Russiese winter.

Richie McCaw se All Blacks het nie Kosakke, artillerie of tenks om die Australiërs môre van die stadspoorte af te hou nie. En die een wat gaan verkluim, is die All Black-afrigter, Graham Henry, in die winter van Nieu-Seelandse openbare afkeur.

Die All Blacks het tradisioneel staatgemaak op harde, bedrewe voorspelers wat chaos in die vyand se linies kan saai waarna hulle waaghalsige agterspelers strooptogte doelgebied toe kon uitvoer. Die beste All Black-spanne was ‘n soomloos geïntegreerde masjien, met vaste vyf, losvoorspelers en agterlyn wat ‘n amper hipnotiese vermoë gehad het om ‘n swakplek te herken en uit te buit. Hierdie jaar se vergawe is egter ‘n ontwrigte span wat moet kompenseer om gebreke in die voorry, die lynstaan en die gebroke spel te probeer toesmeer.

Dit is veral die agterlyn wat glad nie herken kan word as ‘n All Black-instrument nie. Hierdie is ‘n ou wynsak wat met ou stukke leer gelap is. In Dan Carter het hulle weliswaar ‘n speler met statuur, ‘n meer as voldoende produk in die lyn wat vooraf gegaan is deur Carlos Spencer, Andrew Mehrtens en Grant Fox. Maar sedert Justin Marshall se vertrek was daar nog nie ‘n skrumskakel wat die beste in Carter kan ontgin nie. Jimmy Powell is ‘n ordentlike, selfs parmantige, Super-14 skrumskakel, maar hy is geen Gareth Edwards nie en sy spel is altyd voorspelbaar, altyd ontwrigbaar. Hoewel Ma’a Nonu nou meer buskruit op binnesenter sal verskaf, is sy verdediging soms efferig en aan sy buitekant is Isaia Toeava óf suiwer napalm, óf beteuterd. Die All Blacks se probleem in daardie kanaal is dat Berrick Barnes en Adam Ashley-Cooper geslepe genoeg is om krake daar oop te rek en hulle sal weet hoe om die vrotste in Toeava te laat manifesteer.

Hierdie hakkel-en-hik- All Black-masjien word nou boonop deur ‘n Wallaby-span, wat deurtrek is met selfvertroue, gekonfronteer. Hulle is die beste skrummers in die kompetisie en Mark Chisholm en James Horwill sal ‘n ryp pluksel balle uit die lynstaan bekom. Die All Blacks se probleme gaan op die grond verhewig word waar Rockey Elsom en veral David Pocock en George Smith die losballe soos Kirby-stofsuiers gaan opsuig. Hier gaan Richie McCaw ‘n alleenstryd voer. Dié geduikte en verrinneweerde kryger is nog op soek na sy beste formaat en sy beste gaan nie goed genoeg wees nie.

Buitelangs het die Aussies te veel spoed en lewenslus met Drew Mitchell en Lachie Turner wat gaan kattemaai rondom die oëverblindery van Matt Giteau.

Verloor is nie ‘n All Black-gewoonte nie. Maar môre gaan hulle hulle vierde wedstryd in vanjaar se kompetisie verloor. Hierdie jaar is die agteros swart, alles swart.

Kop op die Blok se voorspelling? Dit gaan nie eers naby wees nie. Die Wallabies gaan met tien punte of meer wen. Die uitdrukking “swart dag,” gaan môre splinternuwe betekenis in Nieu-Seeland kry.

длинные рубашки для девочекtopcargo

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.