Die gevolge van Piekolie, Deel IV

Image

In die finale deel van my aflewering wil ek die sosiale gevolge van Piekolie ontleed. Dit is die mees kontroversiele deel van die beskrywing, fundamenteel omdat dit ʼn oefening in voorspellings oor die toekoms is. Daar is baie filosofiese probleme met ons geneigheid om die toekoms te probeer beskryf, en ʼn versigtige benadering is die gewensde een.

In dié rubriek maak ons die ietwat omstrede aanname dat ʼn piek in die produksie van petroleum wêreldwyd in die volgende dekade gaan plaasvind, waarna die produksie P afneem van een jaar na die volgende, terwyl die aanvraag A vir petroleum toeneem of ten minste konstant bly. Nie een van die twee is ʼn gegewe nie, maar is ʼn redelike aanname, as ons van huidige data ekstrapoleer.

Ekonome onderskei tussen twee ekonomiese toestande: Enersyds ʼn toestand waar aanbod of produksie van ʼn produk sy aanvraag oorskry (P>A). In so ‘n geval word die prys deur kopers beheer, daar is potensieel ʼn oorvloed van die produk op die mark, en aanvraag is relatief laag vergeleke met produksie.

Of andersyds sien ekonome ʼn toestand waar die aanvraag vir ʼn produk sy produksie oortref (P<A). In so ‘n klimaat word die prys van die produk opgejaag omdat baie bieërs ʼn tekort in die mark veroorsaak.

Klassieke liberale kapitalistiese ekonomiese teorie het dit dat mense hulle omgewing sodanig organiseer dat aanbod en aanvraag stabiliseer (P=A) terwyl pryse so geaffekteer word dat winste ʼn maksimum is. As die prys vir ʼn produk hoog is, dan neem verkope af en produksie neem af. Produsente het die vermoë om produksie sodanig aan te pas en derhalwe om pryse sodanig te beïnvloed dat produksie en aanvraag in ʼn stabiele verhouding verkeer. In die oliemark was die toestand histories waar, en swaai-produsente het hulle produksie sodanig beheer om petroleum aanvraag en produksie teen ʼn taamlik goedkoop prys te stabiliseer.

Piekolie-ontleders voer aan dat toekomstige produksie en aanvraag vir petroleum taamlik onelasties gaan wees.

Dit wil sê, ʼn toename in prys laat aanvraag nie vinnig afneem nie, en stimuleer nie groter produksie nie omdat (1) die ekonomie ʼn sekere hoeveelheid energie benodig om te funksioneer (mense moet ry, ploeg, krag opwek, en dies meer), en (2) omdat daar skynbaar fundamentele limiete is op die hoeveelheid petroleum wat ons kan ontgin.

Ek het punt (2) taamlik volledig in dele I, II en III beskryf, en redelike mense sal onmiddellik verstaan dat petroleumproduksie wel deur ʼn piek sal gaan – dit was laag in die verlede, is hoog vandag, en sal weer laag wees in die verre toekoms. Daar is dus ʼn maksimum in produksie êrens in die toekoms, of dalk selfs in die nabye verlede. Vir ons doeleindes aanvaar ons dat die piekproduksie reeds plaasgevind het, of dat dit in die volgende 5 of 10 jaar gaan plaasvind.

Die sosiale sy van piekolie is dus verwant aan punt (1) hierbo – die voorstel dat ekonomiese bedrywighede sekere hoeveelhede energie nodig het, en dat kapitaal en rykdom in ʼn fundamentele sin verband hou met energie, en dat olieproduksie en aanvraag fundamenteel onelasties is en nie maklik verander kan word nie.

Daar is verder ʼn paar relevante feite wat mens in gedagte moet hou: Ten eerste is daar ʼn onafwendbare toename in die aarde se bevolking, wat tot op 9 miljard in die volgende 40 jaar kan groei. Daar is tweedens ʼn sterk verband tussen lewenskwaliteit, landbouproduksie, rykdom, en energieverbruik. Die verband is baie sterk gekorreleer met energie van elektrisiteit omdat ons ʼn elektrisiteitsbeskawing is. Daar is egter ook ʼn taamlike sterk en belangrike korrelasie tussen voedselproduksie en petroleumverbruik. Ten derde is daar tans ʼn skerp toename in ekonomiese groei in Indië en Sjina, wat miljarde mense op die petroleummark gaan loslaat wanneer hulle motors en ander vervoer koop, en veral wanneer hulle lhul andbou gaan meganiseer.

Ekonome het per geleentheid ʼn aanvraaganalise gedoen om petroleumverbruik vooruit te skat. Die IEA, wat hiermee gemoeid is, het byvoorbeeld beweer dat olieverbruik gaan toeneem van ongeveer 85 miljoen vate per dag in 2005 tot ongeveer 120 miljoen vate per dag in 2025. Dié soort analise maak aannames oor ekonomiese groei, en reken dan uit hoeveel petroleum benodig sal word. Die idee dat olieproduksie nooit tot 120 miljoen vate per dag opgestoot kan word nie, word heeltemal in die soort beskrywings geïgnoreer.

Die teenoorgestelde word gedoen in Piekolie: Olieproduksie word in terme van aanbod vooruitgeskat, met Hubbard se logistieke ontleding in ag genome. In die analise word voorspel dat petroleumproduksie in 2025 so laag as 30 miljoen vate per dag, tot soveel as 60 miljoen vate per dag, kan wees. Daar sal dus, ten minste teoreties, ʼn geweldig tekort wees wat gaan ontwikkel, met verhoogde pryse en gedwonge afnames in verbruik.

Wat sal die gevolge uiteindelik wees?

Die optimistiese vooruitsig: In die scenario is daar ʼn plaasvervanger vir petroleum (waarskynlik aardgas), en die ekonomie pas aan in die nuwe paradigma. Motors word kleiner en meer effektief, alternatiewe energiebronne wis deel van die probleem uit, en aardgas word genoegsaam gebruik om die tekort te elimineer. Die ontwikkelende wêreld word nie te erg geaffekteer nie, maar selfs in die geval is dit uiters moeilik om voor te stel dat Zimbabwiërs eendag soos Amerikaners vandag sal kan lewe. Dit wil sê, die ontwikkelende wêreld bly arm, maar verval nie heeltemal nie, terwyl die ryker dele van die wêreld miskien stadiger groei, maar sonder groot ontwrigting. Die scenario is natuurlik baie optimisties, en myns insiens ietwat onwaarskynlik.

ʼn Belangrike komponent van die optimistiese scenario maak staat op idees vir alternatiewe opwekking en bronne van energie. Abiotiese petroleum is een alternatiewe idee, terwyl ander ontleders beweer dat aardgas of steenkool so voldoende is dat dit petroleum heeltemal kan verplaas. Ek is bra skepties daaroor. Daar word ook van gevorderde windopwekkers gepraat, voorstelle gemaak om getye te dam en in hidro-elektriese skemas te gebruik, en dies meer. Verder ook nog kernkrag genoem, en as skeptici voorspel dat uraanvoorraad reeds te min is, dan toriumreaktors. Sonkrag en ander nuwer tegnologie word ook dikwels beloof as ʼn oplossing.

Daar is iets wat ‘n mens ongemaklik stem oor al die beloftes vir alternatiewe bronne van energie. Dit is naamlik dat dit net té maklik is – amper soos ʼn enkele ridder wat oor die horison aangery kom met wat die Engelse ‘n “free lunch” noem. As ʼn petroleumtekort in die volgende dekade ontstaan sal ons natuurlik oorskakel, sover moontlik, na alternatiewe bronne. Daar is weliswaar baie goeie idees vir plaaslike opwekking, waar elke gesin hulle energie vanaf son- en windopwekking verkry, en dies meer.

Maar mense wat beweer dat alternatiewe opwekking van welke aard ookal in samewerking met petroleum energie aan ons ekonomie kan verskaf, verstaan nie die skaal van die probleem nie. Die VSA alleen sal honderde nuwe kernkragsentrales moet bou en biljarde kubieke meters aardgas moet ontgin, net om petroleum te kan vervang, en dit sonder om verhoogde kapasiteit wat ekonomiese groei vra, in ag te neem.

Terloops, aardgas, en dan miskien massiewe olie-uit-steenkool projekte wat die Sasol-proses gebruik, tesame met elektriese voertuie en kernkragopwekking, lyk na die beste van die alternatiewe voorstelle, en veral aardgas kan dien as ʼn oorgangsbron vir ʼn paar dekades, totdat dit self deur ʼn Hubbardpiek sal gaan.

Om op te som: Daar is vir my iets utopies in die optimistiese vooruitsigte rondom Piekolie. Voorspellings van ʼn alternatiewe energie-utopie in ʼn wêreld wat gekenmerk word deur volop voedsel en vrede, skoon energie en elektriese voertuie, lyk vir my al te veel na ander utopiese ideologieë, wat mense dikwels aanmoedig om (dom) moeilike keuses vandag te maak om die toekomstige utopie later te skep. In die sin blyk die soort optimistiese beskouing vir my taamlik ideologies in karakter.

Die pessimistiese vooruitsig: Die meer pessimistiese vooruitsig is reeds in 1994 deur Robert Kaplan verwoord in sy essay “The Coming Anarchy”, waarin hy opmerk dat “The cities of West Africa at night are some of the unsafest places in the world. Streets are unlit; the police often lack gasoline for their vehicles; armed burglars, carjackers, and muggers proliferate.”

Kaplan se opstel is profeties. Hy merk op dat “West Africa is becoming the symbol of worldwide demographic, environmental, and societal stress, in which criminal anarchy emerges as the real “strategic” danger. Disease, overpopulation, unprovoked crime, scarcity of resources, refugee migrations, the increasing erosion of nation-states and international borders …” en dit is veral met die opmerking oor “scarcity of resources” dat sy beskrywing met die pessimistiese vooruitsig van Piekolie resoneer.

Pessimistiese ontleders interpreteer die koms van die piek in olieproduksie soos volg: Ten eerste ʼn kortdurende maar skerp verhoogte olieprys. Het ons dit reeds in 2008 gesien? Daarna ‘n wêreldwye ekonomiese resessie met laer gepaardgaande energiepryse wat moontlik in ʼn depressie van ontwikkel.

Daarna lei stimulasie van die ekonomie deur sentrale banke uiteindelik tot stagflasie of selfs ʼn periode van hiperinflasie. Onvermydelike verdere afnames in olieproduksie oor die volgende dekade vernietig die wêreldekonomie sodanig dat investering in nuwe projekte om olie te produseer begin afneem, met gevolglike verdere afnames in produksie in ʼn afwaartse spiraal. Minder olie, minder kapitaal, gevolg deur nog minder olie. In die ontwikkelende wêreld ʼn katastrofe soos afnames in gemeganiseerde landbou en etanol uit mielies of diesel uit sonneblom wêreldvoedselproduksie sodanig verminder sodat oorbevolking daarvoor sorg dat die totale bevolking nie gevoed kan word uit bestaansboerderye nie.

In die ontwikkelde wêreld maak die Amerikaners seker dat Bush se doktrine, naamlik dat die Amerikaanse lewenstyl nie onderhandelbaar is nie, wel geïmplementeer word. Dit veroorsaak militêre ingryping van die VSA in plekke soos Meksiko en Wes-Afrika (en party mense voer reeds aan dat die oorloë in Irak en Afghanistan deur energie gemotiveer word). Honger bevolkings begin migreer, diere en die omgewing word gestroop, en Robert Kaplan se bleek landskap ontvou soos wat mense terugkeer na ʼn Hobbesiaanse wildernis, die lewe word brutaal, minagtend, arm, onseker en kort. Uiteindelik verdwyn tegnologie, en ons het teruggekeer na ʼn natuurlike staat in die wildernis.

Slot-opmerkings: Ek is nie ʼn aanhanger van die pessimistiese vooruitsig nie. Dit is wel moontlik, maar (hopelik) onwaarskynlik. Diep in elke mens is daar ʼn optimistiese hartklop, en in die geval voel ek baie meer gemaklik met die optimistiese vooruitsig wat kortliks hierbo opgesom word. Dit is egter moeilik om ʼn piek in olieproduksie, op een of ander tyd, of dalk reeds, te ontken.

Dit is verder doodlogies dat die tydvak van afname in produksie sekere gevolge gaan hê. Modelle van die aarde se ekonomie deur die Klub van Rome se “Limits to Growth” projek, asook ander argumente gebaseer op demografie soos in Kaplan se essays, is dit feitlik almal eens dat ons op die drempel van ʼn meer onsekere internasionale tydvak staan – sommige sosiale wetenskaplikes beweer dat ons die einde van die Verligting, wat met die Franse Rewolusie begin het, nog in die eeu sal ervaar en dat ʼn nuwe Middeleeuse donker tydvak voorlê.

In die geval van Piekolie argumenteer my optimistiese sy dat die ontwikkelde wêreld erger as die derde wêreld ontwrig gaan word. In die opsig merk mens op dat die Amerikaanse ekonomie baie meer op goedkoop energie en petroleum gebaseer is, as dit vergelyk word met bestaansboerderye in, sê nou maar, Indonesië.

Met ander woorde, die bestaansboere in Indonesië sal met minder ontwrigting en ontbering aan die anderkant uitkom, as Amerikaners. Groot Westerse stede soos Los Angeles is in besonder blootgestel – die groot bevolking in ʼn woestynklimaat kan net gevoed word met goedkoop energiebronne vir gemeganiseerde landbou en vervoer. Verder is hulpbronoorloë ook baie meer waarskynlik in die ontwikkelde wêreld, wat beide baie meer het om te verloor, en wat nog die kapasiteit sal hê om op groot skaal oorlog te voer.

As mens nou êrens heen wil vlug of veiligheid wil soek, wat sal die advies wees? Ek het nie veel nie, maar kom ons probeer: Maak seker jy weet hoe om kos te verbou en te preserveer. As jy in ʼn stad bly, migreer dan eerder na ʼn kleiner plek met minder mense en meer natuurlike hulpbronne soos water per capita. Maak seker jy het ʼn agtertuin waarin jy tamaties kan groei, en dat jy jou tuin kan beskerm. As jy op ʼn plaas bly, dan bly jy net daar, maar maak seker jy is veilig. Maak seker jy weet hoe om biltong te maak en te bewaar.

En onthou die drie dries: Mense kan drie minute maklik sonder suurstof leef, drie dae sonder water leef, en drie weke sonder kos. Na enige van die drie het jy ʼn probleem.

Dit onthou en doen jy alles terwyl jy angstig op Piekolie wag.

Andersins gaan jy aan met jou lewe soos die meeste van ons, en hoop jy dat more ʼn beter dag sal wees. Soos die apostel Paulus opgemerk het: “Nou kyk ons nog in ‘n dowwe spieël [na die toekoms] en sien ‘n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken….En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie …” (I Korintiërs 13 verse 12, 13).

Ek is nie so seker oor geloof en liefde onder mense nie, maar mense het altyd, almal het altyd, hoop.

на тетивах

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.