Afrika: Relatiewe sukses deur radikale mislukking?

Deel op

Ná ‘n lang besoek aan Zambië ‘n week of wat gelede, het die vraag daarna by my opgekom of die pad na relatiewe sukses in Afrika deur radikale ekonomiese mislukking loop? Is die falende staat in Afrika die voorwaarde vir politieke en eknomiese hervorming?

Deel op

Die vraag word gevra in die lig van die feit dat Zambië sedert sy onafhanklikwording in 1964, onder die miserabele politiek van Kenneth Kaunda, op die voorpunt was van die koor teen Britse Imperialisme en die Suid-Afrikaanse beleid van afsonderlike vryhede. Wat meer is, Kaunda se “United Independence Party” (stigting: 1959) se sosialisme het die voortou geneem om privaat-ekonomiese instellinge te nasionaliseer. Kaunda se donker kant het die land van 1964 tot 1991 oorskadu. In 1972 het Zambië ‘n eenpartystaat geword. In 1973 was Kaunda die enigste presidensiële kandidaat en moes die bevolking net "ja" of "nee" vir sy kandidaatskap as president stem.

Die gety het egter in 1990 begin draai toe landwye oproer losgebars het. Daar was pogings om die Kaundaregering deur staatsgrepe omver te werp. Populistiese steun vir Frederick Chiluba se “Movement for Multi Party Democracy” (MMD) het Kaunda gedwing om ‘n demokratiese verkiesing uit te skryf.

Die verkiesing van 1991 was vir die humanisme en sosialisme van Kaunda ‘n gevoelige slag, toe Frederick Chiluba 81 persent van die stemme (125 verkose kandidate uit 150) op hom getrek het. Die lesse wat Chiluba geleer het, is dat die utopie en drome van Kaunda in ‘n nagmerrie ontwikkel het. Die ekonomie is gestabiliseer deur ‘n vryemarkekonomie. Die nasionalisering van eiendom, myne en nywerhede omgekeer deur hulle te privatiseer. Die Kaunda-ideologie is in trurat gegooi. Sodanig dat Zambië stadig maar seker besig is om te herstel.

Wat was my verbasing groot om by die vertrek uit Johannesburg waar te neem dat nege uit die tien passasiers op weg na Zambië blank is. Nog groter was die verrassing dat die hotel, waar tuisgegaan is, soos ‘n geoliede masjien met ‘n blanke hoofbestuurder uit SA gewerk het. Netjies aangetrekte hoë amptenare en politici het met hulle luukse motors opgedaag om die koelte van die hotel op te soek. Die arrogansie van die regerende elite is veral op die vrouens se gesigte te lees. Saans was die restaurante vol van sakemense uit SA, uit die VSA en uit Duitsland. Die tuine was netjies. Die werkers vriendelik en behulpsaam.

Wat ons geëet en gedrink het, is klaarblyklik uit SA ingevoer. Selfs Clover se produkte was vrylik beskikbaar. Bekende winkels soos Metro en ander het hulle deure oopgemaak. Net jammer dat alles, ja alles, dubbeld die prys vergeleke met SA is. ‘n Lekker koue Heineken het ons R40, 00 by die hotel uit die sak gejaag.

Die hotel was inderdaad op eerstewêreldstandaard, maar net buite die hekke daarvan het die somberheid van Afrika om ons toegeslaan. Die kontras was veral groot toe die Suid-Afrikaanse ambassade besoek is. Die onversorgdheid van die gebou en tuine was opsigtelik, maar die vriendelikheid van die SA ambassadeur ‘n pluspunt.

Om die kroon oor alles te span word ons deur die hoofamptenaar van die Zambiese Graan-aankopekorporasie meegedeel dat Zambië, vir die eerste keer in jare, ‘n oorskot van graan het. Op ‘n ander plek word ons meegedeel dat die kommersiële (wit) boere eintlik uit Zimbabwe en SA afkomstig is. Daar word selfs gespog dat swart opkomende Zambiese boere vanjaar na beraming 1800 ton mielies produseer. Agter geslote deure word ons vertel dat die staat goeie saad en kunsmis kosteloos aan swart boere gee en dat die swart boere die helfte van die saad aan (blanke) kommersiële boere teen goeie afslagpryse verkoop. Die staat koop ook mielies by voorkeur van swart boere. Dus bemark die kommersiële (wit) boere van hulle mielies deur swart opkomende boere. Intussen word die persepsie geskep dat die swart opkomende boere besig is om produktief te raak. Dit is Afrika!

Die hervormingspolitiek van Fredick Chiluba is onder Levy Mwanawasa (2001) voortgesit. As president het hy die Zambiese antikorrupsiekommissie tot stand gebring. Die kiesstelsel is hervorm. ‘n Kommissie vir grondwetlike hervorming (CRC) is tot stand gebring en ‘n “National Constitutional Conference” (NCC) is besig om ‘n nuwe grondwet op te stel. Die hervormingsproses word deur die huidige president, dr. Rupiah Banda, voortgesit.  

Tussen die rommel en puin van politieke idealisme is die blankes herontdek en word hulle waardeer. Die Afrikaners word aldaar verwelkom. Die besef groei dat Afrikaners nie deel het aan die wrange vrugte van Britse Kolonialisme nie. David Livingstone het Noord-Rhodesië in 1855 vir die Verenigde Koninkryk “ontdek”. Cecil John Rhodes glimlag in sy graf, want min het hy in 1888 geweet dat Engels die enigste amptelike taal van ‘n land sal word wat later as Zambië bekend sou staan. Die sowat sewentig inheemse tale – soos Bemba, Lozi, Tonga, Kaonda, Lunda en Njanja – skep die konteks vir een amptelike taal.  

Ten spyte van goeie landbougrond en die nuwe ontwikkelinge is Zambië egter nog steeds een van die armste Afrikalande. Sowat twee-derdes van die land lewe onder die broodlyn en het ‘n kleiner per capita inkomste as in 1964 by onafhanklikheid. Kindersterftes beloop 70 uit 1000. Die gemiddelde lewensverwagting is 38,63 jaar. MIV-positief beloop 14,3 persent en sowat 800 000 kinders is wees of het net een ouer.

Wat die toekoms vir Zambië inhou, weet g’n mens nie. Daar is egter wel hoopvolle tekens. Wat egter soos ‘n paal bo water staan, is dat as Suid-Afrika in ‘n ekonomiese moeras wegsink, die hele Suider-Afrika die dieptes ingesleep sal word. Miskien besef belangrike Westerse lande die gevolge van ‘n degeneratiewe Suid-Afrika en die effek daarvan op die subkontinent. Die implikasies daarvan vir die wêreldpolitiek is “too gastly to contemplate”, het John Vorster in een van sy helder oomblikke iewers gesê, toe SA nog Suid-Afrika was.

creatureДанильченко Юрий прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.