Ek het sommer net gewonder…

Deel op

Volgens statistieke is dames se belangstellingvlak ingestel op modes, skindernuus en eie- en gesinsbelange. Dis dalk waar … maar partykeer dink ons ook. Dis nou waar die "wonder" inkom.

Deel op

Tydskrifprogramme op televisie is my gunsteling – daar kry mens mos sommer so bietjie van alles en nog wat. Om in ons geliefde taal, Afrikaans, ook nog te kan "kyk" moet gekoester word, want van oral klink die basuin vir Engels so hard dat die min Afrikaans wat daar nog is, 'n kleinood is. (Dit sluit nou nie programme soos "Kompleks" in wat die Afrikaner se IK onderskat nie).

En so kom ek toe by die "wonder" uit. Die aanbieders gebruik goeie Afrikaans (of probeer darem) maar die medewerkers (dalk voel hulle belangrik om op die televisie te wees) se taal laat veel te wense oor. Die "Afrikaanse" tydskrifprogram het talle uitdrukkings in soos: "die cherry op die koek; amazing, style en cool". Ek wonder toe wat dit in Engels sou wees?

Ek kyk gereeld na die Engelse tydskrifprogram en soek na Afrikaanse woorde om hulle program mee op te "kikker" maar ek hoor net goeie Engels. Nou wonder ek, waar lê die probleem – dalk by die Afrikaanssprekende persone wat so lief is vir hulle taal …

Klippie in die skoen

Dit lyk my ek steek vandag by die taal vas. Is daar nie iemand wat lus het om so bietjie navorsing te doen oor die woord "huidiglik" nie? Ek het … en het by 'n belangrike persoon in die politiek uitgekom, wat nie meer met ons is nie. Waarskuwing: (lees op die blikkie) Huidiglik was gisterlik nog nie 'n woord nie, maar as ons vandaglik aanhou om dit so te misbruik, gaan dit môrelik in die nuwe woordeboek opgeneem word as 'n woord! So wees gewaarsku en hou buite bereik van kinders.

Moet asseblief vir niemand vertel nie! "San-Marie" (Amalia Uys) van 7de Laan is aangewys as een van die besgeklede vroue in Suid-Afrika. Nou wonder ek net, sou hulle so besig gewees het met haar klere dat hulle skoon van haar hare vergeet het?

Op note

Dink julle ook dat Nianell en Dozi 'n goeie kombinasie as sangpaar is? Hulle kan gerus aan 'n volgende duet-laserskyf dink en miskien Andrew Lloydd Webber se musiek gebruik.

'n Sagte antwoord

Ek het jare gelede hierdie kosbare kleinood raakgelees en wil dit graag deel.

Twaalf jaar lank het Beuhla, die gewoonte gehad om op haar kinders te skree. In die klaskamer by die Christelike skool waar sy onderwyseres was, het sy ook die kinders verskree om hulle in toom te probeer hou. Haar keel kon dit later nie meer hou nie.

Die kinders het hulle uiterste bes gedoen om haar geduld te beproef en haar gesag te ondermyn. Sy het dit 'n saak van gebed gemaak.

Hulle hoof was een oggend onvermydelik laat vir die weeklikse opening met godsdiens in die saal. Die kinders het al luidrugtiger begin raak. Toe die hoof later opdaag het hy in die deur bly staan en gewag totdat hulle hom sien en die geraas het dadelik stil geword. Hy vra toe sag of hulle vergeet het waarvoor hulle daar byeen is en het die godsdiens gelei asof daar niks gebeur het nie. Beuhla kon net in verwondering toekyk.

'n Paar dae later kom sy af op Spreuke 15:1: "'n Sagte antwoord keer die grimmigheid af, maar 'n krenkende woord laat die toorn opkom."  Dit is goed en wel, het sy gedink, maar die kinders sal nie vir haar luister as sy sagter praat nie.

By die huis het die patroon maar dieselfde gebly en haar keel het al seerder geword van die gegil op haar kinders en ook by die skool. Sy het dit begin oorweeg om op te hou met skoolhou, sodat haar keel kon regkom. Sy was baie bekommerd en het gewonder of daar nie iets ernstig verkeerd is met haar keel nie.

Toe sy later die aand vir haar kinders wou skree dat hulle die TV moet afsit omdat dit tyd is vir huisgodsdiens, was haar stem weg. Sy stap toe na hulle toe en fluister haar opdrag. Groot was haar verbasing toe hulle dadelik geluister

het sonder om eens teë te praat. Sy het gedink hulle voel maar net jammer vir haar.

Die volgende oggend het sy aangehou om heel sag te praat, sodat sy haar keel kon laat rus. Die kinders het alles gedoen wat sy gevra het. By die skool moes sy na elke leerder se bank toe loop wanneer sy iets wou bespreek, alles in 'n fluisterstem. Daar het 'n ongewone kalmte in die klaskamer geheers.

Dit het haar laat wonder waarom sy al die jare so geskree het. Was dit makliker om te skree as om na die kinders toe te loop en in 'n sagte stem te praat?

Dit het haar geleer om vooraf mooi te dink wat sy wou sê en dan het sy dit sag maar beslis gesê. Dinge het drasties verander. Haar kinders het 'n plesier vir haar geword en daar was wedersydse respek.

Die klaskamer by die skool was ook aansienlik stiller. Die kinders het beter werk gelewer – en haar keel het heeltemal genees.

O, Heer, skenk my die gemoedskalmte om te aanvaar wat ek nie kan verander nie, moed om te verander wat ek kan en die wysheid om die verskil te ken. Amen.

постройка бани наДанильченко Юрий Харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.