Die probleem is ‘n beskawingskonflik

Inleiding

Dr Nico Smit betoog in sy artikel “Wittes, pas aan in SA, of pas op”(Beeld, 2009-09-12) dat witmense vrede moet maak met die sosiale konteks van ‘n verafrikaniseerde Suid-Afrika, of anders! Die vraag is: “of anders wat?”

Outeurs

Reeds vroeër maar sedert die negentigerjare het ‘n aantal belangrike werke oor die filosofiese grondslae in die denke van die Bantoesprekende volkere van Afrika die lig gesien. Hiervan is die populêre werkie, “Saam in Afrika”(1992), van A.S. van Niekerk waarskynlik die bekendste. Insgelyks het die Rooms-Katolieke filosoof, A. Shutte, “Philosophy for Africa” (UCT, 1994) ‘n belangrike bydra gelewer om Afrika-denke duidelik te maak. Z.C. Mzoneli het reeds in 1983 ‘n opspraakwekkende tesis by Berkeley geskryf oor Oeboentoe in sy “Liberation and Zulu Christianity: Towards a Theology of Communicative Praxis and Christian Hope”. Op sy beurt het die politikus en filosoof L. Senghor so vroeg as 1963 (Oxford University Press) ‘n belangrike werk oor “Negritude and African Socialism” gelewer.

Blank/Swart botsings

Van Niekerk (1992) sien dit so dat Blank/Swart-denke magte is wat teen mekaar bots en stoot. Hierdie diepgewortelde beskouinge kom ook by die stedelike swartes voor, skryf die sendingwetenskaplike van die NGK, Crafford (1990). Shutte tipeer die lewenstyl van swartes as Afrosentriese Kommunalisme wat teenoor die Eurosentriese Individualisme van die blankes te staan kom. J.D. Dengerink (1948) maak ‘n belangrike onderskeid tussen Westerse gedifferensieerde teenoor nie-gedifferensieerde gemeenskappe. Sy “Critisch-historisch onderzoek naar de sociologische ontwikkeling van het beginsel van ‘soevereiniteit in eigen kring’” plaas kommunalisme en individualisering van die samelewing in ‘n logiese raam.

Agenda

Ten einde goed te begryp wat bedoel word met Senghor se “Negritude”, word gepoog om te let op die volgende aspekte in Afrika-denke: die kontekstuele wêreldbeskouing, die onderliggende mensbeskouing, ‘n persepsie oor die samelewing, die godsidee en die Ubuntu-lewenshouding.

Kontekstuele wêreldbeskouing

Afrikane ervaar die werklikheid as ‘n netwerk van transendtale lewenskragte. Hierdie lewenskragte word deur Senghor (1983) seriti noem. Transendensie wil sê dat kosmiese lewenskragte van God kom en na God terugkeer. Midde in hierdie lewenskragte soek die Afrika-mens na sinteses tussen die veelvoude van botsende belange. Die kosmos word getipeer as “vital force in active participation” (vgl Shutte, 1994).

Onderliggende mensbeskouing

Midde in hierdie kosmiese lewenskragte is die selfheid of ek-heid van die mens verbind, ja, met wederkerige verhoudinge verweef. Die mens eksisteer te midde van kosmiese en sosiale lewenskragte wat buite die mens om bestaan. Omdat die mens in verhouding tot verskillende lewenskragte leef, beskik hy derhalwe oor verskillende persoonlikhede. Want, om mens te wees is om ooreenstemming te bereik. Solidariteit met die omgewing vra van die Afrika-mens dat hy/sy in ‘n Europese huishouding soos een van die huisgenote sal optree, net om dan tuis te kom en ‘n ander blaai om te slaan. Die individu is dus ‘n funksie van die samelewing. Die kwaad lê buite die mens. Die kwaad word vergestalt deur ‘n duisternis van bomenslike magte wat deur magiese praktyke ingespan kan word om ‘n ander mens te benadeel (te toor!). Daarom dat reinigingseremonies van groot belang is om die kwaad te verdryf, of om vyandige voorvadergeeste weg te stuur.

‘n Persepsie oor die samelewing

Die Afrika-samelewingsidee is gemeenskapsverbonde. Senghor noem die samelewing die “civilization of the universal”, ingevolge waarvan die samelewing meer is as die optelsom van die lede daarvan. Die samelewing is dus ‘n organiese geheel ingevolge waarvan elke individu aangewese is op en verbind is aan die totaliteit. Mulago sonder die begrip “participation” uit as tiperend van verhoudinge in die samelewing.

Die Godsidee

God is die hoogste trap in ‘n hiërargie van lewensvorme. Die mens is geposisioneer tussen God en alle ondergeskikte lewensvorme. God gee die seriti en maak dit ook tot niet. Die kosmiese lewenskragte wat van God afkom word via die leiers, wat nader aan God leef, na die gemeenskap op ‘n beginsel van eweredigheid verdeel. ‘n Materiele manipulasie van lewenskragte tot voordeel van die enkeling bring die individu in botsing met God en met die gemeenskap self. Die mens staan nie in ‘n direkte verhouding tot die Oenkoeloenkoeloe, die Groot Een nie, want die voorvadergeeste is die bemiddelaars tussen God en gemeenskap en die bemiddelaars van voorspoed wat uit die kosmiese lewenskragte ontgin moet word. God is dus beide transendent bo alles verhewe, maar dan tog vanweë die kosmiese lewenskragte wat uit God ontspring immanent in alles vir almal.

Oeboentoe

Volgens Mittner (1995) is daar groot onduidelikheid aangaande Oeboentoe. Mzoneli (1983) tipeer Oeboentoe as opname in ‘n soort sakrale post-rewolusionêre gemeenskap van “caring en sharing” (Khoza, 1995). Dit is ‘n Afrika-bewussyn wat van die lede daarvan vereis dat afstand geneem sal word van ‘n Westerse waardestelsel. Opname gaan egter gepaard met ‘n voorafgaande rewolusionêre lewenshouding wat Mzoneli (1983) Oekoento noem. Die verhouding tussen Oeboentoe en Oekoento word treffend verduidelik met ‘n bloedige ontmaagding van ‘n vroulike lewensmaat. Opname in die huwelik is eers moontlik as bloed gevloei het. Die verhouding tussen Oeboentoe en Oekoento is dus teenoorgesteldes en teenstrydig maar desondanks aanvullendes. 

Gevolgtrekkings

Die Afrika-samelewingsidee staan haaks op die Westerse liberale siening aangaande die samelewing. Wat ons in SA waarneem is ‘n konflik tussen twee denksisteme. Wat Nico Smit eintlik vra is dat witmense in SA hulle eie beskawingserfenis moet opgee en deel word van die Afrika-werklikheid. In Smit se beredenering van sy standpunt bevestig hy in wese Mzoneli se argument in sake die bebloede rewolusionêre voortrap na Oeboentoe, die utopie, waarna Smit smag. Die prys is egter te groot om te betaal. Binne hierdie kultuur-historiese situasie is dit gepas dat Afrikaners soos Eurokaners sal optree om hulle beskawingserfenis te vrywaar.

 

 

воздуха компрессораФильчаков Александр Васильевич

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.