Dit was die naweek se sport…

Deel op

Die Bokke skop agterwêreld

John Smit se Springbokke se uitdagings raak nou op. By hulle Wêreldbeker, hulle 2008 onoorwonne Europese toer en reeksoorwinning oor die Britse Leeus, het hulle vanjaar se Drienasiestrofee gevoeg. Hulle het dit Saterdag in Hamilton teen die All Blacks met 32-29 gewen, 'n wedstryd wat onthou sal word vir drie verstommende langafstandstrafskoppe deur Frans Steyn en 'n kenmerkende onderskepdrie van Jean de Villiers.

Deel op

Blou Kalfies gevreet op Loftus

Die Ligbloues se instaanspelers was net nie rof genoeg en moeilik genoeg om die Haaie te sink nie en het met 23-29 verloor. Volgende week sal hulle waarskynlik hulle skof teen die Boland afsluit en dan kom die hardebaarde soos Bakkies Botha, Victor Matfield, Fourie du Preez, Pierre Spies, Bryan Habana, Danie Rossouw en Morné Steyn terug. So, oor twee weke begin die Curriebekerreeks in alle erns.

Vrystaat steel wedstryd van WP

Nadat die WP die wedstryd op Bloemfontein wel en deeglik in die sakkie gehad het, het die Blikore by die agterdeur ingesluip en die wedstryd na die laaste sirene met 'n strafdrie afgerokkel. Die telling was 33-31.

Motorsport

Rubens Barrichello van Brasilië het gister sy derde Italiaanse Grand Prix, dié keer in 'n Brawn Mercedes gewen. Sy spanmaat, die kampioenskapvoorloper Jensen Button, was tweede met Ferrari se Kimi Raikonnen in die derde plek. Die wêreldkampioen, Lewis Hamilton, in 'n McLaren Mercedes, het op die laaste rondte die gehalte van die baanversperrings getoets en het nie die wedren voltooi nie. Button is nou 14 punte voor Barrichello met nog vier wedrenne in vanjaar se reeks oor.

Tennis

Lang skaduwee val oor Rafa Nadal

Die tennismasjien is in die Amerikaanse Ope van die baan gevee deur die Argentynse wolkekrabber, Juan Martin del Potro, het Nadal uit alle hoeke met ontsaglike slaanwerk verniel en vir die Spanjaard sy grootse nederlaag in 'n Grand Slam toegedien. Die telling was 6-2, 6-2, 6-2.

Serena Williams betaal duur vir viswyfgedrag

Die gunsteling Serena Williams het eers 'n tennisles van die terugkerende mammie, Kim Clijsters, gekry en toe 'n etiketles van die owerhede van die Amerikaanse Ope in New York. Nadat sy die eerste stel verloor het, het Williams 'n kodeoortredingswaarskuwing gekry nadat sy haar raket stukkend geslaan het. Toe sy in die tweede stel moes dien om in die wedstryd te bly, op 15-30, is sy vir 'n voetfout geroep. Nadat sy die lynregter beledig en met die dood gedreig het, is sy nog 'n punt beboet wat aan die komkommerkoel Clijsters die wedstryd besorg het.

Federer toor Djokovic

Roger Federer het sy sesde agtereenvolgende Amerikaanse Ope-eindstryd gehaal toe hy sy aangewese troonopvolger, Novak Djokovic, in skoon stelle geklop het. Die telling was 7-6, 7-5, 7-5.  Die voorlaaste wenhou van Federer, 'n uitspattige tussen-die-bene-deur dwarsbaanwenner, het hyself as die beste hou van sy loopbaan beskryf. Federer tree in die eindstryd teen Juan Martin del Potro van Argentinië aan.

Gholf

Suid-Afrika se James Kingston het die prestigeryke Mercedes-Benz Meesterstitel in Keulen, Duitsland in 'n uitspeelwedstryd teen Denemarke se Anders Hansen gewen. Die spelers het die toernooi op 13 onder syfer afgesluit. Kingston het ongeveer R3,500,000 met 'n gelyk-aan-syfer telling op die eerste uitspeelputjie gewen.

турецкая баня ценаФильчаков прокурор отзывы

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.