FW de Klerk: argitek van ons onreg – PRAAG-klassiek

Deel op

Die “Boeremag” en die vorige staatspresident se “Boere-onmag” is fundamentalistiese voëls van eenderse vere.

Vandeesweek het die voormalige staatspresident, FW de Klerk, in ‘n patetiese gebaar aangekondig dat sy stigting die Weskaapse polisiekommissaris wil dagvaar omdat dié die gebruik van Afrikaans onder polisiebeamptes verbied het.

Die eerste vraag wat by my opgekom het, was: waarom raak De Klerk nóú skielik sentimenteel oor Afrikaans? Het hy nie dertien, veertien jaar gelede tydens die onderhandelinge die geleentheid gehad om ‘n billike taalbedeling tot stand te bring nie?
Dan Roodt
Deel op
Meer as ‘n dekade lank al predik De Klerk, Pik Botha en ander lede van die “oorgawekabinet” aan Afrikaners dat hulle onderdanig aan die ANC-bewind moet wees en dat ons oor ‘n “wonderlike grondwet” beskik. Trouens, daar is al meer lofsange aan die grondwet deur De Klerk en die Nasionale Perskoerante gesing as wat Afrikaners op Sondae psalms in die drie susterskerke aanhef.

Toevallig het ek die afgelope week weer allerlei besonderhede verneem oor die omstandighede waaronder De Klerk se oorgawe aan die ANC geskied het. Onder andere was daar ‘n vroegoggendse kabinetsvergadering nadat Tertius Delport, die destydse adjunk-minister vir staatkundige ontwikkeling en NP-onderhandelaar, verseg het om aan Cyril Ramaphosa se mees onredelike eise toe te gee. Soos ons almal weet, het Ramaphosa uitgestap en sodoende die onderhandelinge in ‘n krisis gedompel.

Indien die NP destyds by Tertius Delport gestaan het en aangedring het op eie skole en universiteite, asook verskanste taalregte, sou ‘n groot deel van ons probleme vandag nie bestaan het nie. Maar die dweepsieke Hernus Kriel het tydens die kabinetsvergadering verklaar: “Die profesie moet bewaarheid word”. Die “profesie” waarna hy verwys het, was blykbaar die gedagte dat “almal in die land in vrede sou saamleef”, soos sommige buitelandse joernaliste voorspel het.

De Klerk self het ook aan “die profesie” geglo. ‘n Uur voor die kabinetsvergadering waar Delport se bedanking geëis is, Roelf Meyer aangestel en die hele sonderlinge oorgawe aanvaar is, het Delport nog vergeefs by De Klerk in sy kantoor aanhou pleit. “Mnr. De Klerk, u is besig om die Afrikanervolk uit te verkoop! U mag nie toegee op hierdie vyf punte oor taal en kultuur, regstellende aksie, amnestie vir die veiligheidsmagte, mede-beheer oor die weermag en polisie, asook eie skole en universiteite nie.”

Blykbaar het Delport vir De Klerk aan sy bors gegryp en hom met trane in sy oë gesmeek om nie alle mag aan die ANC te oorhandig en die Afrikaner sodoende van alle invloed in die land te stroop nie. Maar tevergeefs, die prokureur van Vereeniging was vasbeslote om alles te waag. “Jy besef nie wat tussen my en Mandela gebeur het nie. Ons gaan saam die land regeer,” het De Klerk vir Tertius Delport toegesnou. Die fanatiese droom, so eie aan elke revolusie, van ‘n “nuwe wêreld” en ‘n “nuwe tyd” wat moet aanbreek, het De Klerk, Hernus Kriel, Pik Botha en die res van die NP-kabinet beetgepak.

“Môre gaan ons voor die wêreld verklaar dat ons die ANC se voorstelle aanvaar,” het De Klerk nog oplaas aan Delport gesê. Vandag stel “die wêreld” allermins in die Afrikaner se bestaanskrisis belang en word De Klerk gesien vir wat hy is: ‘n naïeweling wat  bereid was om sy eie volk in die hand van hul historiese vyande, die Xhosas en Engelse elite, te gee sonder enige teenprestasie in die vorm van grondwetlike waarborge of grondgebied. Van sy fameuse “wigte en teenwigte” het dadels gekom.

De Klerk en Hernus Kriel se idee van ‘n “profesie” mag gegrond wees op Openbaring in die Bybel of op die bekende reëls uit Jesaja 6:11: “Dan wei die wolf by die lam, en die luiperd gaan lê by die bokkie, en die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee bymekaar, en ‘n klein seuntjie sal hulle aanja.”

Toe die Boeremagverhoor ‘n aanvang geneem het, het veral die Engelse pers hulself verkneukel in wat voorgestel is as die fundamentalistiese politiek van ‘n Israelvisie-behepte groepie Boere-nasionaliste. Maar hoe verskil De Klerk se oorgawepolitiek met “die wolf wat by die lam wei” in ‘n hemel op aarde van die sogenaamde Boeremag se kwasi-godsdienstige idees?

Teenoor die “Boeremag” staan De Klerk se “Boere-onmag” wat inspirasie uit dieselfde swaksinnige politieke lesings van die Bybel put. Behalwe dat sy profeet nie Siener van Rensburg is nie, maar Nelson Mandela. Terwyl die wolf in die gedaante van ‘n radikale ANC saam met die lam wei in die nuwe Suid-Afrika, het ons almal lammers ter slagting geword. Met tierende geweldsmisdaad, blatante taaldiskriminasie en ‘n soort geïnstitusionaliseerde minagting vir die Afrikaner wat die Afrosentriese staat uitstraal.

Persoonlik kan ek geen ander verklaring vir De Klerk se onbesonne nonchalance oor ons toekoms vind as ‘n fundamentalistiese geloof in ‘n Hoër Hand wat ons noodwendig gaan beskerm al beskik ons oor geen politieke mag of seggenskap nie. Vir seker is De Klerk se fundamentalisme baie ver verwyder van ‘n Gereformeerde of Calvinistiese siening.

Johannes Calvyn het geskryf dat die aardse lewe ‘n “pelgrimstog” is, maar dat die skoonheid daarvan ook geniet moet word. Gewoonlik behoort ons die owerheid te gehoorsaam. Desnieteenstaande is dit elkeen se plig is om in opstand te kom teen ‘n onregverdige bestel. Indien ‘n owerheid onreg deur God pleeg, deur byvoorbeeld ongebreidelde misdaad en bloedvergieting toe te laat, moet die gelowige nie die bevele van so ‘n owerheid gehoorsaam nie.

J.B.M. Hertzog was waarskynlik die politieke leier in die twintigste eeu wat die meeste vir Afrikaans en die Afrikanervolk vermag het. Hy sou hom egter nooit op die soort Baptistiese lekkergeloofdenke van ‘n De Klerk verlaat het nie. Nêrens in enige van sy toesprake vind ons hoegenaamd die gedagte dat die Here ‘n soort “veiligheidsnet” of “valskerm” vir die Afrikaner sou voorsien as sy leiers en politici foute sou begaan nie.

Gedane sake het egter geen keer en vandag sit ons midde-in hierdie verdrukkende en gewelddadige bestel wat ons beste mense al tot emigrasie oorreed het, om van die tragiese uittog van ons jongmense nie te praat nie.

Dit sou waarskynlik wensdenkery wees om te hoop dat De Klerk (en Roelf Meyer) ooit sy groteske flater sou erken om van die ANC skaapwagter by die Afrikanerkraal te maak. Daarom is sy verdere inmenging in die Afrikaanse taalstryd, asook sy aangekondigde deelname aan die sogenaamde “Tweede Afrikaanse Taalberaad” nie net ongevraagd nie, maar selfs belaglik.

Dit ly geen twyfel dat die naam FW de Klerk deur toekomstige historici met honende minagting gebesig sal word nie. Mag ons die verskriklike ding wat De Klerk ons aangedoen het, oorkom soos wat ons die Britse triomf van 1902 oorkom het.

липецк опцииОлександр Васильович Фільчаков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.