Die Vrystaat speel mooi met die WP, maar wen nog steeds

Deel op
Kyk, die Vrystaters is ‘n gasvrye lotjie, maar sowat van hartlikheid waarmee hulle die WP gister in Bloemfontein ontvang het, word selde op ‘n voetbalveld gesien. Dis asof hulle hulle maatjies uit die Suide genooi het om by hulle te kom speel en toe deur hulle pappie vermaan is om mooi te werk met die Kaapse laities. So baljaar hulle toe te lekker maar sorg darem dat hulle vrygewig genoeg is om toe te sien dat die maatjies hulleself ook geniet. Aan die einde van dit alles was die maatjies maar bra dikbek daar weg; hulle dag bederf deur ‘n strafdrie nadat die huistoegaansirene al geraas het.

Die WP kan egter nie vir die Vrystaat daaroor vies wees nie. Die Jagluiperds het hulle allerbeste gedoen om die WP te laat welkom voel: “’Skuus tog, wil julle ook ‘n bietjie die bal hê?” En hulle laat lê die ding die veld vol. “Wil julle veldgebied hê?” En hulle gee vir hulle morge veld. In een reeks gifte – ‘n strafskop en twee vryskoppe in soveel vaste fasette dok die Vrystaters sestig meter op. “Wil julle bietjie hardloop?” En ewe ordentlik staan hulle opsy.

In die eerste helfte hardloop Frikkie Welsh tweemaal en Tonderai Chavanga eenkeer deur al hierdie gemoedelike gapings. Voor halftyd het die Vrystaters reeds vir hulle maatjies die vier drieë nodig vir ‘n bonuspunt gegee. So tussendeur het die lus vir voetbal hulle darem beetgepak en Johan Wessels, een van daardie blonde grou-en-klou flanke wat deesdae blykbaar groothandel geproduseer word, het sy pad tot in die doelgebied deurgewurm. Hulle het gou van dié onbesonnenheid afgesien en, sterk op die aanval, het hulle die bal netjies vir JJ Engelbrecht opgewip sodat hy vir meer as 50 meter lekker kon hardloop vir ‘n drie.

In die tweede helfte was dit dieselfde patroon. Wanneer die Vrystaat nie die bal vir die WP aandra nie en nie opsy staan vir hulle maatjies om deur te hardloop nie, het hulle ‘n besondere feestelike soort rugby gespeel. Hulle met al die sorgeloosheid van kaalvoetseuntjies aangeval en gehardloop en uitgegee en hulleself só geniet dat eers Meyer Bosman en toe vleuel Lionel Mapoe drieë gaan druk het.

Die WP-flank, Francois Louw het teen dié tyd so tuis gevoel dat hy homself sommer vergryp het aan die Vrystaat se vrygewigheid. Na hulle nóg ‘n Vrystaatbal vir hulleself gevat het, het Louw soos ‘n Clydesdaleperd in die algemene rigting van die doellyn gestorm en op die laaste sekonde ‘n stuitige eenhandaangee om die bene van ‘n verdediger vir Juan de Jongh besorg.

Die middag se heerlike saamspeel het geëindig met die Vrystaat wat in die laaste sekondes ‘n strafskop gebruik het om ‘n lynstaan naby die WP-doellyn te maak. Daar rolmaal hulle toe, effe ongeskik sou mens dink, in die rigting van die doellyn. Die enigste grootmens op die veld, het toe reeds die Man van die Wedstryd, die einste Francois Louw ‘n kaartjie gegee, nie ‘n verjaarsdagkaartjie nie, maar ‘n geelkaart. Nou het hy die partytjie verder bederf deur homself vir die WP te vervies toe hulle die rolmaalskrum aftrek. Strafdrie! En die Vrystaat wen die wedstryd 33-31. Een maatjie wat sy pa gaan vertel was WP-kaptein, Luke Watson. Maar nou ja… wat kan jy van so ‘n nare outjie verwag?

Dankie vir al die maatjies. Kom ons gaan huis toe.

Die Vrystaat 33 punte. Jacques-Louis Potgieter 3 strafskoppe. Drieë deur Johan Wessels, Meyer Bosman, Lionel Mapoe en skeidsregter Marius Jonker. Potgieter verdoel twee daarvan.

Die WP 31 punte: Frikkie Welsh – 2, Tonderai Chavhanga, JJ Engelbrecht, Juan de Jongh. Joe Pietersen verdoel drie daarvan.

воронеж подъемникиЛобановский Харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.