Williams het tydens die halfrondtewedstryd teen die Vlaming Kim Clijsters blykbaar geskree: "As ek kon, sou ek dié… bal vat en dit in jou… keel afdruk en jou doodmaak."
Die lynregter het hierna die voorval aan die skeidsregter Louise Engzell gerapporteer wat die toornooiskeidsregter Brian Earlev op die baan laat verskyn het.
Op dié stadium was Williams, verlede jaar se kampioene, 6-4, 6-5 en 15-30 agter. Sy het 'n voetfout op haar tweede afslaan gemaak en sodoende 'n wedstrydpunt vir Clijsters geskep.
Gedurende die onderonsie het Williams agterna ontken dat sy gesê het dat sy die lynregter gaan "doodmaak". Omdat sy voorheen gedurende die wedstryd haar raket op die grond gebreek het, het sy egter vir dié tweede oortreding 'n boetepunt teen haar ontvang, wat die wedstryd in Clijsters se guns beklink het.

Volgens Williams was sy nog nooit in haar lewe in 'n bakleiery nie en sou sy nooit enigiemand dreig nie. Nietemin meen sy dat dit redelik algemeen is vir spelers om op die lynregters te skree.
"Wel, hoeveel mense skree op die lynregters? Al die mense wat, jy weet, soort van op die lynregters gil, ek dink dit kom partykeer."
"Spelers, atlete, raak gefrustreerd. Ek weet nie hoeveel kere ek dit al sien gebeur het nie."
Williams het deur die hele wedstryd senuweeagtig en ongemaklik gelyk. Die wedstryd is oorspronklik vir Vrydagmiddag geskeduleer, maar is herhaaldelik uigestel vanweë die reënbuie wat oor die hele New York-gebied uitgesak het. Dit het laat Donderdag begin en alle spel vir Vrydag en die grootste gedeelte van Saterdag onmoontlik gemaak.
Toe Clijsters vir haar kommentaar gevra is, het sy geantwoord: "Om eerlik te wees, ek wou nie betrokke raak nie, bloot omdat ek steeds op daardie laaste punt gefokus was. Kim, moenie fokus verloor nie, het ek vir myself gesê. Jy moet nog steeds daardie laaste punt wen."
"Ek het probeer om van die bohaai weg te bly deur aan die agterkant van die baan te bly en het alles net probeer vermy."
"Dis treurig dat 'n wedstryd waarin ek so goed gespeel het op dié manier moet eindig."
Clijsters sal in die eindrondte teen Caroline Wozniacki te staan kom.