’n Dokument van die ANC se taakspan wat 'n gesondheidsversekeringstelsel, NGV, deur hoër belastings wil finansier, is verlede week gelek. Een doelwit is om meer geld uit belastingbetalers te tap met ’n “gesondheidsorgbelasting” om 'n enorme gesondheidsburokrasie sonder die nodige dienste te finansier.
Dit kan tot 15% meer aan belasting kos om openbare gesondheidsorg te "verbeter" indien die plan aanvaar word.
Die NGV is ’n beplande stelsel waartoe alle Suid-Afrikaners sal móét bydra – en hoe ryker hoe meer – in ruil vir basiese mediese dienste. Die staat sal ook daartoe bydra deur geld wat hy van belastingbetalers invorder.
Dit sal 'n bykomende R80 miljard tot R100 miljard per jaar uit die belastingbetaler se sak beteken.
Daar is geen aanduiding van hoe presies die geld bestee of beheer sal word nie, maar belastingbetalers sal gemiddeld tussen 12,3% en 15,4% meer moet betaal.
Die uitwerking wat die bykomende belastinglas op die ekonomie gaan hê, word op die koop toe nie in berekening gebring nie.
Volgens aanduidings in die gelekte verslag gaan geld op ’n buite-balansstaatgrondslag aan die NGV toegestaan word wat beteken dit sal nie onder toesig van die nasionale tesourie en parlement wees nie.
Mediese fondse gaan bly en mense sal steeds mediese dekking kan uitneem nadat hulle tot die nasionale stelsel bygedra het.
Hulle sal egter nie meer belastingkortings op hul bydraes tot sulke fondse kan eis nie.
Die ANC hoop om die nuwe nasionale plan teen 2014 in werking te hê.