Die Kaap is weer Hollands

Deel op

Image

Jacob Abraham de Mist (afbeelding in Kaapse argief

Sedert 1792 was daar oorlog tussen die revolusionêre Frankryk en 'n aantal Europese moondhede. Die Franse het op land skouspelagtige oorwinnings behaal, veral ná die opkoms van die jong Napoleon Bonaparte. Aan die oorlog het 'n voorlopige einde gekom met die vrede van Amiens op 25 Maart 1802. Artikel 4 daarvan het gelui dat Kaap teruggaan na "die Bataafse Republiek".

Deel op

Dít was sedert Mei 1795 die offisiële benaming van die Nederlandse staat. Dié het in Januarie 1795 tot stand gekom ná die inval deur die Franse en die vertrek van Willem van Oranje na Engeland. Dit het eintlik maar 'n onderhorige staat van Frankryk geword en is deur 'n Franse leër beset. Die republiek het sy naam ontleen aan die Germaanse stam die Batawe of Bataviere, oor wie se heldedade in die Romeinse Ryk die Romeinse skrywers Plinius en Tacitus geskryf het.

Die Kaap is weer Hollands!, het die burgers uitgeroep — en dit het 'n spreekwoord gebly vir "alles is weer reg". Die gesag is oorgedra aan twee bekwame kommissarisse-generaal: Jacob Abraham de Mist en genl. Jan Willem Janssens, wat die amp van goewerneur sou beklee. Hulle het op 23 Desember 1802 in Kaapstad aangekom. Op 31 Desember het die Britse goewerneur, genl.-maj. F. Dundas, 'n proklamasie uitgevaardig dat almal wat die eed van trou aan die Britse koning afgelê het, daarvan ontslaan sou wees. Weens allerlei omstandighede kom De Mist eers op 1 Maart per proklamasie aankondig dat hy die bestuur oorgeneem het. Op dié dag het De Mist vir Janssens n  'n dankdiens in die kerk as goewerneur voorgestel aan "'n ontsaglike menigte" (aldus die Kaapsche Stads Courant) in die kasteel.

Op dieselfde dag het hy die politieke raad, of raad van politie, soos hy dit genoem het, herstig. Daar was net een gebore Kapenaar onder die vier lede wat die goewerneur moes bystaan. Demokrasie was daar nog nie. Ook die nuwe prokureur-generaal, G. Beelaerts van Blokland, het dié dag sy opdrag van werksaamhede ontvang. Die naam "fiskaal" het verdwyn en in die nuwe raad van justisie sou goed geskoolde regsgeleerdes dien. Teen die einde van die maand het ook die rekenkamer, wat die landsinkomste moes ontvang en die geldsake van die land moes beheer, met sy werksaamhede begin.

Daar sou ses distrikte wees: Kaapstad, Stellenbosch, Swellendam, Graaff-Reinet, Uitenhage en Tulbagh. As bestuurshoof van laasgenoemde vyf sou 'n landdros en heemrade optree (in Kaapstad 'n "raad der gemeente"), wat die regterlike gesag sou beklee. Die landdros moes onder meer toesig hou oor die onderwys, sorg dat die Khoi-Khoin as vrye mense behandel word, toesien dat "die nasies langs die grense" nie rede sou hê om geweld te pleeg nie, die slawe beskerm, waak oor die ongestoorde beoefening van die openbare godsdiens en mense aanmoedig om dienste by te woon. De Mist het in 1804 'n kerkorde uitgevaardig. Die kerk het feitlik onder die gesag van die owerheid gestaan en moes byvoorbeeld toestemming gee om 'n nuwe kerk te bou of 'n godsdienstige samekoms te hou, behalwe dié op Sondae en feesdae.

ле шато брион фиалка фотолобановский обыск

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.