Haaie boelie kalfies op Loftus

Deel op
Image

Chris Jordaan van die Haaie duik vir Francois Hougaard in gister se wedstryd

Ja, die Haaie het gister op Loftus met 29-23 gewen, in ‘n groot mate te danke aan die pogings van hulle ingevoerde losskakelster, Juan Martin Hernandez, wat 24 punte gemaak het. Maar die Natallers is ongetwyfeld baie onrustig uit Pretoria uit. Volgende week kom die groot Haaie en die groot Bulle terug vanuit die verre vreemde waar hulle Springbokke was.

Deel op

En ja, die Haaie sal darem baie meer manhaftig wees met Smit, Du Plessis, Muller, Kankowski, Pienaar en Frans Steyn in die poel. Die Bulle, dié weet die Haaie, wag vir veel magtiger versterkings, beeste soos Steenkamp, Matfield, die pyniger Bakkies Botha, Pierre Spies, Fourie du Preez en die nuwe Koning van Loftus, Morné Steyn. Die Blou Bulle herinner dan… wagwagwag. Daar’s nog Danie Rossouw ook. Hoe goed ís ‘n span as hulle jou van Danie Rossouw laat vergeet. So, die Blou Bulle herinner dan alteveel aan ‘n span wat onlangs die Super 14 gewen het.

Gister was dus die laaste maklike wedstryd vir enige Blou Bul-opponent. Vir ‘n maklike wedstryd was dit dan ook nie so danig maklik nie. By tye het die Kalfies darem alteveel na befoeterde brahmane gelyk en met sluitingstyd was dit die Haaie wat gebid het die tyd moet omgaan. Dit was inderwaarheid die Blou Bulle wat in die eerste helfte die Haaie in klein sirkels laat swem het en 12-6 met lemoentyd voor was.

Na rustyd het die geslepe Haai-veterane met hulle bejaarde, maar uitmuntende, kaptein op heelagter, Stefan Terblanche, wat die Blou Kalfies se koppe laat draai het met presiese grootmensrugby. Hernandez het deurgesypel vir ‘n drie en toe Jacques Botes ook. Die agterstand is uitgewis en ‘n voorsprong opgebou.

Teen die einde was dit egter die Haaie wat soos Jacob Zuma se regspan moes verdedig. Selfs hulle beste pogings was nie genoeg om Werner Kruger te keer om ‘n stutdrie met die Bulle se handelsmerk daarop te druk nie. In die laaste minuut was die Blou Bulle ‘n aangee daarvan af om die wedstryd uit die Haaie se kake te ruk.

So, die Haaie het gewen. Hierdie seisoen se Bulletjierugby is nou verby. Volgende week begin die ware Curriebekerstryd.

Die Haaie het 29 punte gekry. Juan Hernandez het ‘n drie, twee verdoelings, vier strafskoppe en ‘n skepskop aangeteken.

Die Blou Bulle se 23 punte bestaan uit ‘n drie deur Werner Kruger, vier strafskoppe van Burton Francis en twee deur Francois Brummer.

ыгри для дивчат кухняФільчаков Олександр Васильович

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.