Die kop op die blok s?: Springbokke wen Drienasies met naelskraapoorwinning oor NS

Deel op

Daar is een rede, ‘n ooglopende rede, hoekom die Springbokke môre se toets teen die All Blacks, en daarmee saam die Drienasies-silwerware, gaan wen: Hulle is, doodeenvoudig, die beste span op die planeet. Goeie spanne, selfs beste spanne, kan ook ‘n grys oomblik hê. Om die waarheid te sê, dis haas onvermydelik. Die Springbokke het hulle s’n verlede week in Australië beleef. Maar môre is dit kil, genadelose besigheid soos gewoonlik.

Deel op

Wanneer die vure in al die stoomketels aangesteek is, is die Springbokke ‘n span sonder kwesplekke. ‘n Getraumatiseerde Britse en Ierse Leeuvoorpak sal nou nog bewerig vertel hoe dit voel om verpletter te word deur die skrumkrag van die Springbokke. In die vakgebied van lynstaanspel het Victor Matfield die handboek, nee die ensiklopedie, geskryf. So, die Springbokke sal genoeg vastefasetbal bekom om hulle spelmatrys op die armsalige Kiwi’s af te dwing. Fourie du Preez en Morné Steyn is dodelike opeveldskoppers. Bryan Habana en Ndungane is opgekook genoeg om elke hoë bal te jaag op snuffel vir losspringers waarmee hulle chaos gaan veroorsaak.

Want, maak geen fout nie, môre gaan die Springbokke hulle gepatenteerde doodwurgrugby speel. Ons weet dit en die All Blacks weet dit. Wat die Kiwi’s nie weet nie, is wat hulle daaromtrent gaan doen. Hulle sou so graag die spel wou lostorring, die Springbokke met hulle voorspelers op die agtervoet wou verjaag en die afbreekspel domineer. Maar daar is twee stokke in hulle speke: Bakkies Botha gaan hulle seermaak en die Bok-voorspelers gaan hulle pap speel. En in die afbreekpunte gaan hulle ook weinig vreugde smaak. Die gewoontedief, Heinrich Brüssouw, het telkens hierdie jaar vir Richie McCaw flou gespeel en gaan dit Saterdag weer doen.

Die res van die Springboktaaklys gaan uit verdediging bestaan, en sonder JP Pietersen wat te spandabelrig is met drieë wat hy aan sy buitekant oop los, gaan die All Blacks opkikkers sweet vir elke vyfpunter.

Hierdie is ‘n toets wat ‘n ou bekende chronologie gaan voortsit: Die All Blacks gaan te lank vat om aan te pas by die krag en presiesheid van die Springbokke en gaan eers tot verhaal kom wanneer hulle vyftien punte of meer agter is. Die Springbokke gaan dan die hortjies toemaak en hulle voorsprong verdedig. Kort voor die einde, vrygewig soos hulle is, sal hulle vir Dan Carter of een van die vleuels toelaat om ‘n drie te druk.

Te min, te laat, soos ander meer geroemde Suid-Afrikaanse toegewings.

Môreaand drink ‘n vierkantige, roeskopvoetbalkaptein vonkelwyn uit die Drienasies-kelk.

free video slot gamesлобановский класс

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.