Oudin het 'n mediavreetkoors veroorsaak hierdie afgelope week en 'n half. Tien dae gelede was sy byna onsigbaar op die tennisfront, maar waar sy nou ook al gaan, word sy deur skares bewonderaars oorval. Dit is nie net die blote statistieke en objektiewe prestasies wat haar 'n oornaggunsteling gemaak het nie, maar die manier waarop sy dit gedoen het. As tennis hondeoorlog was, sou dit nou deur Rottweilers, Boerboele en Mastiffs oorheers gewees het. Moderne toerusting en kondisionering gee aan die hardeslaners die voordeel. Maar soms verskyn 'n astrante Terriër en stuur 'n siddering deur die tennisorde. Oudin is 'n Terriër en soos 'n Terriër is sy nooit verslaan voor die laaste hou afgevuur is nie.
Sy is klein van gestalte, maar beweeg met die skielikheid van 'n muisval en het skynbaar geen oordeel om te besef wanneer sy geklop is nie. Hierdie benadering het die kragtige Russe in die voorafgaande rondtes heeltemal verfomfaai. Sjarpowa, Dementewja en Petrowa is agterbaners wat hulle teenstaanders met kanonskote aftakel. Wanneer hulle die sneller trek, neem hulle dit amper as hulle geboortereg aan dat die bal geslaan sal bly en die punt beklink sal wees. Maar Oudin is 'n Terriër wat aanhou kou en elke bal sal jaag. Daar was oorblufte uitdrukkings van die Russe en 'n gemompel in hulle moedertaal. Selfs nadat die wedstryd afgestof en weggepak is, was dit 't einde niet. Oudin het oorwinning telkens uit die kake van nederlaag losgewoel. In haar vorige drie wedstryde het sy telkens die eerste stel verloor voordat sy die ander speler moeggewoel het vir 'n twee-stelle-teen-een-oorwinning.
In hierdie wedstryd het sy egter nie nog 'n Rottweiler teëgekom nie maar 'n Terriër soos syself. Caroline Wozniacki is self 'n speler wat op vasbyt, akkuraatheid en strategie staatmaak. Haar spel is nie die moderne kragvertoning nie maar is vol hoeke, spoedaanpassings en uithouvermoë. Die Terriër wat die Rottweilers uitoorlê het, kon nie 'n roete om 'n ander Terriër vind nie.
Die Amerikaanse publiek en media sal ongetwyfeld vir weke lank 'n hele bohaai oor Oudin aanhef, en sy verdien dit. Maar laat ons onsself intussen verlustig in die grasie, vasberadenheid en sprankelende vroulikheid van haar oorwinnaar, die minsame Caroline Wozniacki van Denemarke. Tennis is soms 'n baie, baie mooi spel.