‘n Mediaskouspel sonder weerga

Deel op

‘n Pantoufflard, is ‘n pantoffeldraer. In Frans beteken dit ‘n lid van die uitgelese groep Mandaryne of besluitnemers wat die duur tapyte van die Franse regeringskantore bewandel.

Ek moes dikwels, tydens ons verblyf in Parys, die Engels verskaf vir wat pantoufflard as hule dagtaak beskou het: Onderhandelinge, dokumente, samesprekinge wat Frankryk se standpunt, mening, siening aan die Angelsaksers tuisbring.

Die uwe was naamlik ‘n Engelse onderwyser by die taalskool Berlitz waar die pantoffeldraers aangedoen het vir hulle kennis, aanleer, vertalings en uitspraak van en uit die Rooitaal.

In my hoedanigheid as Engelse leerkrag het ek besonder bekwame, talentvolle en hardwerkende Franse ontmoet en sterk onder die indruk gekom van hulle unieke opvoedingstelsel.

Die Grandes Ecoles is die blywende nalatenskap van Napoleon. Die stelsel van “groot skole”, eintlik universiteite, is geweldig mededingend en as jy nie op die ouderdom van 23 presteer het nie, is dit ongelukkig vir altyd te laat.

Dit behels ‘n strawwe eksamen wat na die Baccalauriat, die matriek, geskryf word en waarvoor studente twee jaar volstoom voorberei.

Die toppresteerders in Frankryk word gekies vir dié verskillende skole.

Die Franse lê baie klem op kennis van hulle taal, vanselfsprekend, op wiskunde en filosofie. Laasgenoemde is ook ‘n gesogte skoolvak vir die uitblinkers naas wiskunde.

Waar ons Afrikaners groot geword het met die gedagte dat die slimste mense hulleself as medici bekwaam, is ingenieurswese dié beroep om te volg.

Wat my by Frankryk se huidige president bring. Nicolas Sarkozy is juis nie ‘n produk van die Grandes Ecoles nie, en die Franse leier maak uitsprake wat die deursnit, ernstige Franse staatsamptenaar se wenkbroue laat lig.

Hy is geen tipiese Mandaryn nie en word eerder as ‘n dinamo beskryf:. Energiek en vol lewe, maar ook opvlieënd!

Voorheen was al die Franse leiers, ten minste van de Gaulle se tyd af, na die tweede Wêreldoorlog, van ENA, die école nationale d’administration, een van daardie “groot skole”.

Sarkozy, sê sy skoolmaats, sou nooit daardie vreeslike eksamen deurgekom het nie, Hy is net nie slim genoeg om ‘n énarque, ‘n produk van ENA, te wees nie.

En die Mandaryne sien ‘n bietjie neer op hom om daardie rede.

Maar Frankryk het ‘n president nodig gehad wat Frankryk se bande met sy Arabiese kolonies nie vooropstel nie, want die land se wapenbedryf is in die moeilikheid.

Ook ‘n president wat die spesiale posisie wat Frankryk die afgelope 40 jaar in die wêreld beklee het, met grasie kon prysgee. Want dit gaan beroerd in Afrika ook.

Die Franse se unieke karakter waarop hulle hulself roem is in ‘n mate ook ontleen daaraan dat die land nie deel was van NAVO nie en in die globale politiek ‘n unieke rol vervul het. Kritici het die Franse internasionale politiek trouens meermale as uiters machiavelliaans beskryf omdat dit in seker opsigte buite die Noordatlantiese eensgesindheid gesitueer was.

Daardie spesiale rol het weer Franse trots gevoed, maar die harde werklikheid is vandag dat Frankryk nie meer die finansies het om dit vol te hou nie.

In die pynlike oorgang van ‘n onafhanklike land na ‘n lid van NAVO, het Sarko – soos die Franse na hom verwys – die nodige afleiding verskaf om nie die Franse nasionale trots in te boet nie.

Ook nie wat Afrika en sy invloed hier betref nie. Tans word die Franse se rol in Afrika eerder deur die teenwoordigehid van die groot moondhede China en die VSA bepaal en die Franse probeer naarstiglik hulle invloed in hulle eertydse kolonies beskerm.

Frankryk se nuwe rol is een van gelyke vennoot en Sarko het hom dus voorgeneem om reguit te praat.

Die logika van Frankryk se buitelandse politiek is dat dit ‘n verlenging moet wees van die land se binnelandse politiek. Maar die nuwe wending het nog weinig vrugte afgewerp.

Verskeie van Sarko se toesprake oor Afrika het egter baie kritiek van die kontinent self uitgelok. PRAAG het tewens die boek – wat aanleiding gegee het tot baie van hierdie uitsprake van Sarkozy – in Afrikaans vertaal.

Die boek deur ‘n Franse Afrikakenner, Stephen Smith, geskryf, is natuurlik Negrologie. Dit is nie in Engels beskikbaar nie, alleen in Frans en Afrikaans, terloops.

Vervolgens ‘n paar van hierdie omstrede aanhalings oor Afrika, met die Sarkozy-handelsmerk duidelik daarop, uit verskeie Afrika toesprake:

In Libreville in 2007 sê hy die volgende: “’n Mens kan nie alles op kolonialisme blameer nie… die korrupsie, die diktators, die volksmoorde, dis nie kolonialisme nie.”

By die Universiteit van Cheikh Anta Diop in Dakar, ook in 2007, gedurende sy Afrikatoer praat hy as volg:

“Die Afrika-landvolk ken net die ewige heruwing van tyd, deur die eindelose herhaling van dieselfde handelinge en dieselfde woorde dag in en dag uit.

“In hierdie magiese wêreld waar alles oor en oor begin, is daar nie plek vir menslike avontuur en die idee van vooruitgang nie.”

Hy vra aan die studente met ‘n ernstige stem “Wil julle hierdie korrupsie en geweld laat ophou? Wil julle geld geïnvesteer sien ipv gesteel? Wil julle in ‘n regstaat lewe?”

“Frankryk sal by julle staan as ‘n getroue vriend as julle so besluit.”

In Gaboen, nog steeds dieselfde jaar is hy deur Omar Bongo Ondimba, 40 jaar ononderbroke aan bewind, ontvang. Maar sy kritiek teen Afrika hou hy vol.

As dit in Frankryk werk vir Sarko, moet dit in Wes-Afrika, die verlengstuk van die moederland, net so goed werk! Die kort mannetjie – sy werklike lengte is ‘n staatsgeheim – stoom voort.

“Frankryk wil Afrika help om te ontwikkel maar daar is 450 miljoen Afrikane onder die ouderdom van 17 en hulle kan nie almal Europa toe kom nie. …Hoe gaan julle julle ekonomieë ontwikkel as ons al julle mense vat?”

Kennelik praat die man reguit, hy is nie bang om sy “gelyke” vennote tromop te loop nie.

Daar bars egter daarna ‘n koor van verontwaardigde stemme los vanuit die kontinent.

Die enigste ondersteuner uit Afrika was Mbeki wat ewneens baie kritiek uit Afrika gekry het.

Ek het met die Franse omroeper van die BBC gesels wat gesê het daardie ondersteuning het SA baie vriende in Wes-Afrika gekos.

Duidelik het sy kritiek spanning tussen die moederland en haar eertydse kolonies laat oplaai en tydens die besoek aan Suid-Afrika in Februarie 2008 maak Sarkozy seker dat hy nie weer in dieselfde strik trap nie en hy lewer ‘n besielende toespraak vir die vasteland.

Ons weet natuurlik dat Frankryk bekommerd is oor die invloed wat Suid-Afrika op Wes-Afrika kan uitoefen en die Franse teenwoordigheid daar kan laat verwater.

Maar wie is hierdie man wat sy nuutste eggenoot aangewend het om Madiba te besing?

‘n Een en ander oor die man wat nie net iets nuuts in Frankryk verteenwoordig nie, maar ook in Afrika: Nicolas Sarközy de Nagy-Bocsa kom uit ‘n Hongaarse adelike familie. Sy moeder is Joods.

Wat hom tot dusver absoluut onderskei van sy voorgangers is sy verhouding met die skoner geslag. En ek bedoel dit in alle opsigte.

In die politieke arena: Sewe uit die 15 kabinetslede wat hy aanstel is vroue. Daar is ondermeerValerie Pecresse, Rachida Dati – die eerste Arabier – en Christine Lagarde, en dan die baie bekwame Alliot-Marie wat onder Chirac gedien het.

Dit wat sy politieke skuiwe betref. Sy liefdeslewe is kort-kort die onderwerp van bespreking in die media en sy persoonlike lewe is feitlik ‘n onophoudelike en onafgebroke mediaopvoering.

Dit is eintlik die heel grootste verskil tussen hom en sy voorgangers, Jacques Chirac en Francois Mitterand.

Mitterand het ‘n buite-egtelike dogter, Mazarine, maar haar bestaan is eers ná sy dood uitgelek deur die media.

Almal wat iets vermoed het, het nooit gewaag om ‘n woord daaroor te rep nie.

Wat Chirac betref, het hy glo ‘n Japannese skelmpie gehad – hy het ‘n matelose bewondering vir die Japannese en praat die taal vlot – maar dit is nog nie ‘n onderwerp vir openbare bespreking nie en sal waarskynlik eers na sy afsterwe die skinderblaaie haal.

Sarko, egter, is ‘n heel ander storie en benewens die feit dat hy van die media-aandag hou, gebruik hy sy lewe ook as ‘n doelmatige politieke instrument.

En ek dink veral aan sy derde vrou, die een waarmee hy tans getroud is, die dekadente Italiaanse model, Carla Bruni.

Sy was voorheen romanties verbind met Mick Jagger en Eric Clapton en daarmee lanseer die Franse president homself in die wêreld van vermaak. Van politiek tot die vermaaklikheidsbedryf is een sprong!

Bruni is ondermeer, behalwe haar amoreuse verhoudings met Jagger, Clapton en ryksmanskerjakker, ‘n voorstander van poliandrie, dws ‘n vrou wat meer as een man aanhou, die teenoorgestelde van poligamie.

Dan het sy ook verskeie plate gemaak. Een snit opgedra aan Sarko beskryf hom as haar “heroiën”. Tu est ma came, sing sy in ‘n heserige klein stemmetjie. Dit het spekulasie verder gaande gemaak dat Frankryk se eerste vrou dalk nie heeltemal so gekant is teen dwelms nie.

Duidelik is dit politiek as suiwer vermaak, ontdaan van enige substansie en inhoud, verblindend in die nuttelose afleiding wat dit verskaf.

Dit wil gedoen wees, veral in Frankryk waar politici se privaatheid heilig is. Niemand wou geweet het of het belanggestel in politici se slaapkameravonture nie, maar Sarko dring dit eenvoudig aan algar op.

Sy eerste vrou is Marie-Dominique Culioli, ‘n Korsikaan, maar hy is in 1996 van haar geskei, nadat hulle reeds ‘n aantal jare vervreem was.

Cécilia Ciganer-Albéniz, kleindogter van die komponis Albeniz, en ook model was sy tweede. Lesers onthou haar dalk as die vrou aan Sarko se sy toe hy as president verkies is.

In 2005 het hy egter ‘n verhouding met joernalis Anne Fulda, politieke korrespondent van Le Figaro, nadat Cécelia hom verlaat vir ‘n Amerikaner. Skindertonge sê die verhouding was kandidaat Sarkozy se manier om die media ten goede te beïnvloed om sy kanse om verkies te word, te vergroot.

Kennelik was dit ‘n suksesvolle poging.

Fulda skinder nadat hulle verhouding ten einde loop, en sê Sarkozy is glo verskriklik bederf en Cecelia het alles vir hom gedoen: Kos aangedra en elke dag klere uitgekies en reggesit.

Hy word weer met Cecelia herenig kort voordat hy as president verkies word en ons onthou dat hy haar op ‘n diplomatieke missie na Libië stuur toe die Franse wapenskandaal met Libië breek.

‘n Bedrewe manier om die media-aandag van die skandaal af te lei en die wel en wee van die Sarkozy’s se persoonlike verhouding weer voorop te stel.

Maar Cécelia se hart was nie in die politiek nie en sy het begin vasskop teen die media-aandag. Sy is kort nadat haar man as president verkies is weer terug na haar minnaar Richard Attias met wie sy sedertdien getroud is.

Carla Bruni het Sarko derde vrou geword na net 80 dae se blitsromanse, die soort tydperk wat ‘n glansblad gewoonlik bestee om hul lesers in glanspersoonlikhede te interesseer.

Daar is trouens kommentators wat sê Bruni het ‘n swart gordel in mediamanipulasie.

Want net toe Sarko Brittanje besoek en tydens die belangrike samesprekinge oor Frankryk se toekomstige rol in NAVO, is daar ‘n foto van Carla, April 2008, sonder ‘n draad klere wat deur die afslaer Christies in Londen van die hand gesit word.

Dit word vir baie meer verkoop as die oorspronklike prys danksy ‘n verbete koper in China wat teen ‘n Duitse fotograaf van Bild bie.

Hoe is Sarko hoegenaamd verkies tot president? Hoe het dit gekom dat iemand wat sy lewe graag in die openbaar opvoer, die Mandaryne, gefnuik het?

Vanweë die demografiese druk op Frankryk – die meeste kinders wat daar gebore word is Arabiere – was daar ‘n geweldige swaai in die politiek na regs gewees.

En Sarko het dit benut. Hy het vir opslae gesorg toe hy gesê het die kriminele swart jeug moet ge-Kärcher word. Kärcher is daardie hoëdruk Duitse waterspuittoestelle waarmee ‘n mens goed goed skoonmaak.

Hy het ook na hierdie swart jeugdiges, les jeunes in Frans, as “racaille”verwys, naamlik gespuis. Dis kwaai woorde vir die VSA se nuwe bondgenoot in Europa.

Daar heers ‘n soort voortslepende jeugopstand in die arm voorstede rondom Parys, soos ingeligte lesers weet, waar duisende motors jaarliks in ligte laaie gelaat word.

En die die opstandige jeug is swart en Arabies.

Ná die Kärcher-opmerking in 2005 breek daar tewens volskaalse rasseonluste in Parys uit en skielik is dit opmerklik dat Cécelia se doen en late weer eens die media oorspoel.

Ondersteun sy hom? Gaan sy by hom bly? Is hy werklik lief vir haar of lyk dit net sleg as ‘n president verkies word wat nie eens ‘n vrou het nie, ‘n enkelpa! En wie het daardie oulike uitrusting ontwerp?

Weliswaar! Die onbeskaamde taktiek werk. Hy deflekteer die ergste kritiek deur gratis, heerlike oogkougom aan sy kiesers en landgenote uit te deel.

Sarko gebruik dus sy goedversorgde nuwe Italiaanse modelvrou op dieselfde wyse as Cécelia, en selfs met meer sukses, om die aandag van netelige politieke kwessies af te lei.

Die Franse mediasirkus is goed op dreef, die pantoffeldraers tot hulle stowwerige biblioteke verban.

Tydens ‘n besoek aan ‘n fabriek in Normandië verlede week, het Sarko seker gemaak die TV-span kies werkers wat almal korter is as hy. Sy opgeboude skoene, wat die 12cm verskil tussen hom en Bruni probeer verminder, was nie genoeg om hom die mediastatuur te gee wat hy glo hom toekom nie.

Hy vra glo gereeld dat ‘n trappie agter ‘n podium opgestel word dat hy net so goed soos ander wêreldleiers vertoon. Die klem, vir Frankryk se kort president, lê op vertoon.

Frankryk, en die wêreld, is in volle betowering oor hulle eerste dame. Haar onberispelike kleresmaak – sy verkies Dior – is voorbladnuus. Haar skalkse soet glimlag troef dié van die Mona Lisa.

Die land van honderde kase, is verenig onder die towerspreuk wat Sarko en Bruni oor hulle afgeroep het, en vervelige politiek sake het lankal in die vergetelheid verdwyn…

 

медсправки топкарго отзыв

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.