Die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) sal eersdaags die uitslae van geslagstoetse op Caster Semenya gereed te hê.
’n Woordvoerder vir die IAAF, Nick Davies, het Dinsdag aan Associated Press gesê medici en opkikkerspesialiste sal ongeveer twee weke neem om die toetsresultate te analiseer.
Davies het verduidelik dat die atletiekbeheerliggaam slegs met dié konkrete bewyse ’n besluit oor Semenya kan neem.
Dit is onwaarskynlik dat die 800 m-wêreldkampioen haar medalje sal verloor, ongeag die resultate van die geslagstoetse op haar, het die woordvoerder bygevoeg.
Vrae oor die 18-jarige Suid-Afrikaanse atleet se werklike geslag het 'n storm ontketen ná haar oorwinning in die 800 m-wedloop vir vroue by die Wêreldkampioenskappe verlede maand in Berlyn.