Volgens die Johannesburgse dagblad, The Star, is Alexander Thys noodlottig gewond deur voëlhael waarmee die polisie op 'n groep partytjiemakers geskiet het.
Drie ander seuns is gewond toe die polisie Sondagaand 'n partytjie in Delmorepark, oos van Johannesburg, opgebreek het.
Alexander Thys is dood nadat hy in die kop, bors en lies getref is. Sy maat, Christopher Bosch, wat ook getref is, is soos volg aangehaal: "Hulle het geskree 'fokken Boesman' en toe losgebrand."
Die metropolisie van Ekurhuleni het ontken dat hulle voëlhael gebruik het, maar gesê dat hulle rubberkoeëls afgevuur het om die skare uitmekaar te jaag wat op hulle geskree het en hulle "met 'n verskiedenheid voorwerpe gegooi het".
'n Woordvoerder vir die metropolisie, Wilfred Kgasago het gesê hulle is besig om die voorval te ondersoek. Volgens hom het die polisiebeamptes berigte van onwettige straatversperrings ontvang, asook oproerige gedrag. Hull het gepoog om die inwoners te oorreed om op te hou, maar kon die daarin slaag nie.
'n Plaaslike inwoner, Wayne van Zyl, is na bewering hardhandig behandel, gewurg en sy kamera is gebreek toe hy probeer foto's neem het. Hy en verskeie ander jeugdiges is vier ure lank by die Reigerparkpolisiestasie aangehou, maar toe vrygelaat sonder om aangekla te word.