WP troef Bulle se ‘taktiese skoppe’

Image

Luke Watson van WP tydens gister se wedstryd

Ek weet dit gebeur baie in rugby: dat 'n span wat in die eerste helfte van die wedstryd maar vaal lyk, in die tweede helfte terugkom en die ander span dronk speel. So asof die spandokter iets in die energiedrankies gegooi het of die afrigter hulle elkeen 'n blondine belowe het.

Gister se sege deur die WP oor 'n bra verdwaasde Blou-Bulspan is geen uitsondering nie. Die Bulle het halftyd 16-12 voorgeloop, en kan hulle sterre dank dat hulle teen afstaptyd net 25-19 verloor het.

Derick Kuün se verduideliking was eenvoudig dat die Bulle te veel foute gemaak het en dat WP dit uitgebuit het. Dié argument lyk maar dun as mens in ag neem dat WP 6 strafskoppe deur die pale gejaag het en die Bulle 4. As mens dan ook in ag neem dat elke span een verdoelde drie aangeteken het, moet mens jouself afvra of 'n verskil van twee strafskoppe regtig daarop dui dat die Bulle verloor het net omdat hulle ongedissiplineerd was.

Nee, sê ek. In die 47ste minuut van die wedstryd skop Burton Francis 'n hangskop wat vir WP die bal gee en daarmee saam die geleentheid vir die Bulle om op die afbreekpunt te fouteer. Die strafskop jaag die Bulle terug huis toe, fataal op Nuweland waar elke meter voor die amper rekord 44 000 mense teen 'n stert-in-die-lug WP-span peperduur gekoop word.

Nóg 'n hangskop deur Burton Francis in minuut 50 gee weer vir WP die bal om heen en weer oor die veld te slinger sodat die Bulle se aantal duikslae die 70-kerf verbysteek teenoor die WP se 38. Geen span kan dít volhou nie en toe Heinie Adams ook 'n hoë afstuur, hou WP die bal vas totdat hulle in die 59ste minuut die kaptein Luke Watson vir 'n pragdrie kon oorstuur.

Met hierdie drie skoppe het die Bulle die wedstryd eenvoudig weggegee. Wie ook al die term "taktiese skoppe" uitgedink het, moet met taktiese kernwapen die nietigehid ingestuur word. Net as jy die spoed en durf het om saam met die bal te arriveer en enige opponent te verpletter wat dit sou durf waag om aan die bal te dink, kan jy dit probeer. En dan mag dit dalk werk. Dalk.

Die WP het hierdie taktiese-skop-ding in die tweede helfte uitstekend opgevolg en die Bulle in feitlik elke faset van die wedstryd oorrompel. Dit op sigself sê baie vir die Bulle se verdediging en dit moes maar souterig gesmaak het toe dit juis Luke was wat die drie aangeteken het.

In die twintigste minuut het Heinie Adams sy agterlyn op 'n briljante wyse weggestuur om vir Jaco Pretorius die geleentheid te gee om sy dertigste Curiebekerdrie aan te teken. En tot op hierdie punt het die Bulle gelyk asof hulle dalkies net vir WP sou kon verras deur hulle onoorwonne rekord op Nuweland te verpletter.

Maar van so twaalf minute van die halftydfluitjie af het Heinie Adams met sy skoppe vir WP geleenthede begin gee. En alhoewel die Bulle met bykans 62% balbesit in die eerste helfte verdien het om voor te loop, was die saadjies vir hulle verval reeds geplant.

Die Bulle se Burtin Francis het andersins beïndruk, veral met sy skopwerk pale toe, en ek wil versigtig voorspel dat hier net miskien nog 'n Springbok in die broeikas is. Joe Pietersen, WP se heelagter, was uiters lastig, sy kleingeit ten spyt. Dis hy wat heelparty van die Bulle se hangskoppe met sy dodelike vangwerk teen hulle gedraai het. Sy verdediging was topklas, en sy beweeglikheid het die Bulle aan die raai gehad. Vicus Blau was die man van die wedstryd, maar ek sou die tjekkie vir Joe gegee het.

Die WP het goed vertoon in die tweede helfte en verdien om te wen, maar die Bulle het 'n groter rol in die WP se oorwinning gespeel as wat hulle graag sou wou erken. Ek hoop die Blou Bulle se ambisie is hoër as om net uit te hou totdat hulle Springbokke terugkom om hulle agterente te red. Anders gaan die Haaie hulle volgende Saterdag in hulle eie agterplaas verneder. 

best social mediaпрокурор Фильчаков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.