Afrikaners en Aleksandr Doegin se geopolitieke denke

Deel op

Image

Inleidende aanmerkings by 'n oop gesprek wat deur PRAAG op 28 Augustus 2009 aangebied is.

Sedert 1989 het die wêreld verskeie politieke revolusies deurgemaak. In Duitsland sal dit binnekort 20 jaar wees sedert die Berlynse muur ineengestort het. Verder in Oos-Europa, in die ou Joego-Slawië, in die Baltiese state en elders het verskeie lande radikaal verander. Sommige volkere, soos die Tsjegge byvoorbeeld, het vir die eerste keer in eeue werklike onafhanklikheid en selfbeskikking verkry.

Deel op

In die ou Sowjetunie self het kommunisme om 'n verskeidenheid redes verval. Een van die hoofredes was dat die produksie van voedsel 'n afname getoon het en die land nie meer oor die nodige buitelandse valuta beskik het om voedsel in te voer nie.

Hoewel die Afrikanerdom in Suid-Afrika en die Russe in Rusland twee radikaal verskillende entiteite verteenwoordig, kan mens tog 'n bepaalde ooreenkoms sien tussen die radikale magsverlies van die Afrikaners aan die een kant en die geostrategiese agteruitgang van Rusland aan die ander. Trouens, vele Amerikaanse ontleders skryf die opkoms van Wladimir Poetin en 'n denker soos Aleksandr Doegin aan die Russiese frustrasie aan die einde van die Koue Oorlog toe. Daar word selfs gepraat van Russiese neo-fascisme, wat 'n teenpool sou vorm teenoor die universele demokratisme van Amerika, die enigste oorblywende supermoondheid.

Tot enkele jare gelede het Afrikaners in Suid-Afrika oor die sterkste weermag, lugmag en vloot in Afrika beskik en kon ons mag tot by die ewenaar en selfs verder projekteer. Ons het boonop oor kernwapens beskik. Ons taal is wêreldwyd as 'n kultuurtaal geag en is selfs tydens die tydvak van koue-oorlogspanning in Moskou gedoseer.

Terwyl Rusland in geostrategiese terme agteruitgegaan het, vergeleke met die VSA en China, het Afrikaners in Suid-Afrika as't ware ondergegaan. Danksy die strategiese besluite van slegs enkele sogenaamde "Afrikanerleiers", maar wat agterna marionette van die groter Anglo-Amerikaanse ryk geblyk het, is ons in 'n situasie gedompel waar ons die verdwyning van die Afrikaner, sy taal, kultuur, geskiedenis, identiteit en alles wat daarmee saamhang in die gesig staar.

'n Ander ooreenkoms tussen die Russiese volk en Afrikaners is dat die gemeenskaplike wapen wat deur die VSA, Brittanje en die lande in hul invloedsfeer teen ons gebruik word, juis sogenaamde "demokrasie" is. Net soos wat demokrasie deur die VSA en sy bondgenote ingespan word om Rusland se buurstate onder Amerikaanse invloed te bring en hom as't ware te omsingel, so word demokrasie in Suid-Afrika en Suider-Afrika gebruik om die Afrikaner vernietig en van sy historiese grondgebied met behulp van grondhervorming en ander maatreëls te vervreem.

Daarby kan mens voeg die leierskapsrol wat die Russe in Oos-Europa en in die gebied wat Doegin Eurasië noem vervul, teenoor die Afrikaner se ewe belangrike staatkundige rol in Suider-Afrika. Net soos wat die ou Sowjetunie deur 'n groot aantal etniese en taalgroepe bestaan het, het Suider-Afrika in die tyd van Verwoerd en PW Botha uit twintig of meer volkere bestaan wat almal op een of ander manier van Suid-Afrika en die Afrikaner se akademiese, tegnologiese en finansiële vernuf afhanklik was.

Die revolusie van 1989 wat die VSA tot enigste oorblywende supermoondheid verhef het, het dus verwoestend op die eertydse konstellasie van state rondom Rusland ingewerk en terselfdertyd Suider-Afrika grootliks onder Britse en Amerikaanse invloed gestel.

Een van die sleutelonderskeidings wat Doegin tref, is tussen Atlantisme en Eurasisme. Vir hom verteenwoordig die wêreldgeskiedenis 'n dualisme tussen twee beskawingsvorme, dié van seegebonde handelaarsnasies en die geaarde, boerse tipe volkere wat in die grond gewortel is. Op geostrategiese vlak bepleit Doegin 'n alliansie tussen Duitsland, Rusland en Japan wat die "Eurasiese blok" sou verteenwoordig, teenoor die "Atlantiese blok" van die VSA, die NAVO-lande en die res van die Engelssprekende wêreld wat waarskynlik die Statebondslande soos Australië, Nieu-Seeland en Suid-Afrika sou insluit.

Terwyl Huntington, die vermaarde Amerikaanse politieke wetenskaplike, beskawingsbotsing in die tydperk ná 1989 as hoofsaaklik godsdiens- en kultuurgedrewe gesien het, 'n klassieke Kulturkampf, kan ons by Doegin van 'n veel radikaler eksistensiële onderskeid tussen beskawings praat. Dit gaan ook, soos die titel van een van sy boeke lui, om "'n Groot oorlog tussen kontinente".

Hierdie oorlog tussen vastelande kan teruggevoer word na die hoofkonflik in die eerste twee eeue voor die Christelike jaartal begin het, naamlik die oorlog tussen Carthago en Rome. Verder terug het die ou Feniciërs wat in die tydvak 1200-800 v.C. 'n hoogtepunt in hul beskawing bereik het 'n soortgelyke seegebonde handelaarskultuur beoefen as wat die Atlantiese mag van die moderne era sou voer.


Volgens Doegin staan daar teenoor "die Atlantisme van die seemagte, bowenal Engeland en Amerika, die Eurasisme… van Rusland en Duitsland". Atlantisme word "gekenmerk deur die voorrang aan individualisme, 'ekonomiese liberalisme' en 'demokrasie van 'n Protestantse tipe'". Eurasisme, daarenteen, "vooronderstel noodwendig outoritarisme, hiërargie en die vestiging van 'kommunitariese' volkstaatbeginsels bo die enkel menslike, individualistiese en ekonomiese belange. Die mees tipiese Eurasiese houding word deur Rusland en Duitsland uitgedruk, die twee magtigste vastelandse magte, waarvan die geopolitieke, ekonomiese en – die belangrikste – wêreldbeskoulike belange regstreeks van dié van Engeland-VSA, dit is, die Atlantiste, verskil."

In dié opsig steun Doegin sterk op die denke van die Duitse politieke en regsfilosoof, Carl Schmitt, wat in sy boekie "Land und meer", "Land en see", 'n soortgelyke onderskeid tussen die grondgebonde en seegebonde kulture en moondhede getref het.

Terwille van 'n bietjie agtergrond, staan ek kortliks by Carl Schmitt stil. Wat Schmitt 'n verstommende denker maak, is dat hy ingesien het dat die mens se verhouding tot die ruimte eintlik allesbepalend is. Schmitt beklemtoon die verandering in die Europese siening van die ruimte wat met die Renaissance ingetree het. In die argitektuur, beeldhouwerk, skilderkuns en filosofie word die mens skielik as selfstandig binne die ruimte voorgestel, 'n ruimte waaraan hy nie meer ondergeskik is nie, maar binnekort sou bemeester. Die behoefte om hom van die see en uiteindelik die hele aardbol meester te maak, lei dan tot die sorgenaamde "beweging na die see" wat deur Portugal, Spanje en toenemend ook Nederland gelei word.

Volgens Schmitt gaan elke groot politieke verandering in die geskiedenis gepaard met wat hy "Landnahme" noem, die neem en benoeming van grond. As ons sien wat vandag in Suid-Afrika aan die gang is, waar ons aan die ontvangkant van so 'n inpalming van grond en ruimte – ook skole, universiteite en woonbuurte – verkeer, dan verstaan ons soveel beter waarvan Schmitt praat.

Interessant is dat die Pous aanvanklik die potensiële konflik tussen die mededingende seemagte wat kolonies elders ter wêreld verower, probeer reël deur 'n denkbeeldige grens in die Atlantiese oseaan te trek wat vir Portugal en Spanje elkeen 'n regverdige gedeelte van die Nuwe Wêreld sou verseker.

Maar met die Hervorming wat in Noord-Europa veld wen, stort hierdie pouslike, Katolieke orde in duie en word die see die nuwe konflikruimte wat al die eienskappe van 'n godsdiensoorlog aanneem. Edmund Burke, die Engels-Ierse staatsman en skrywer, het Spanje as 'n "walvis wat op die vasteland van Europa gestrand het" beskryf, waarmee hy Engeland se strategiese voordele as eiland wou beklemtoon.

Die "stormloop na die see" word aanstons gevoer deur Nederland wat in die sewentiende eeu koning kraai en waaruit die nedersetting aan die Kaap ontstaan. Frankryk raak insgelyks 'n aktiewe seemag, maar dis hoofsaaklik die Protestante en Calviniste wat hieraan deelneem, vanuit hul hawestadvesting, La Rochelle. Met die herroeping van die Edik van Nantes in 1685, word die Hugenote uit Frankryk verdryf en verloor sy grootliks haar aanspraak op die see.

Schmitt ironiseer nogal oor Engeland. Hy noem die Engelse skaapboere wat nie eens die weefkuns kon bemeester nie en genoodsaak was om hul wol aan Vlaandere te verkoop. Die vlak van tegnologiese ontwikkeling in Engeland was besonder laag vergeleke met die Europese vasteland en aanvanklik moes die Engelse by die Hollanders leer hoe om skepe te bou wat tussen vastelande kon vaar. Trouens, Nederland was indertyd in die sestiende en sewentiende eeue die land waar die meeste innovering in die skeepvaart plaasgevind het, met die ontwerp van kleiner seile, 'n meer vaartbelynde romp van ligter hout, en so meer.

Engeland was egter die tuiste van seerowery wat onder Elizabeth I aangemoedig is. Trouens, daar was 'n baie fyn onderskeid tussen 'n alleenhandelaar wat die golwe vir sy eie rekening aangedurf het en 'n seerower. Sommige seerowers het 'n magtigingsbrief van hul tuisregerings ontvang om skepe van ander lande aan te val en die voorraad aan boord te buit. Blykbaar was Elizabeth I, die sogenaamde "maagdelike koningin", baie opgewonde oor die materiaal, edelmetale en ander kosbaarhede wat Engelse seerowers gereeld aan die kaaie van die Teems ontskeep het.

Die stimilus van seerowery wat Engeland in die agtiende eeu ontvang het, het haar aanstons in staat gestel om die wêreld se oseane as die eerste maritieme supermoondheid te beheer. Sir Walter Raleigh het gesê: "As 'n mens die seë beheer, beheer jy die handel. En as jy die handel beheer, beheer jy die politieke mag."


Nie net het Engeland se eilandstatus die land 'n strategiese voordeel bo die vastelandse state met hul veel groter bevolkings en sterker weermagte besorg nie, maar dit het haar ook toenemend van alle territoriale gebondenheid bevry. Londen was bloot die hoofkantoor van die Ryk wat oor die hele aardbol gestrek het. Net soos 'n multinasionale maatskappy sy hoofkantoor van een stad na 'n ander kon verskuif, sou die Britse Ryk insgelyks vanuit 'n ander land kon opereer. Carl Schmitt praat van Engeland, die eilandstaat, wat soos 'n vis in die see swem en selfs sou kon wegswem. Dit was nie meer 'n land nie, maar 'n vloot wat beweeglik in die ruimte en in sy element, die oseaan, sy mag geprojekteer het.

Ter stawing van dié siening haal Schmitt die Britse staatsman Benjamin Disraeli aan wat die titel, "Keiserin van Indië", by die titel van Koningin Victoria gevoeg het, waardeur sy geweldig gevlei gevoel het. Maar Disraeli het selfs verder gegaan en voorgestel dat sy na Delhi verhuis waar sy oor veel meer onderdane as in Brittanje self beskik het.

Die seewaartse beweging van Engeland en die Angel-Saksiese beskawing wat Schmitt so mooi vir ons beskryf, het uiteindelik die globalisme, universalisme en handelaarsingesteldheid van ons eie tyd gebaar. Die aardgebonde volkstaat, selfs die nasiestaat wat nog deur gedefinieerde grense beperk is, is in hoë mate opgehef om plek te maak vir 'n vloeibare, globale ruimte waar een universele kultuur en waardestelsel, dié van Atlantisme, in wording is.

In 'n pregnante slot tot "Land und Meer", noem Schmitt dat die ontdekking van lugvaart 'n derde dimensie, die lug, vir die seementaliteit geopen het. In ons tyd het die ryk van elektroniese kommunikasiemedia, bekend as die kuberruim, bygekom. Ook op die internet oorheers oseaniese Engels en die seementaliteit wat in die agtiende eeu gevorm is. Sodoende neem ontwortelde en letterlik ontaarde individue deel aan 'n oneindige uitwisseling van inligting wat toenemend oor min nasionale, etniese of territoriale eienskappe beskik.

Die oorheersing van wat hy "Atlantisme" noem, is vir Doegin tegelyk 'n eksistensiële, kulturele, ekonomiese en geostrategiese probleem. In die antieke tyd het Rome, die aardmag, militêr oor Carthago, die seemag, by Zama geseëvier toe Scipio vir Hannibal verslaan het. Maar in ons tyd wil dit voorkom asof die seemag van die VSA en sy bondgenoot Brittanje die hele aardbol oorheers.

Hoewel Doegin heelwat aandag wy aan die verband tussen bloed en grond of "bloed en bodem" soos die nasionaal-sosialiste dit genoem het, ag hy die beheer van grond belangriker as om 'n volk rassuiwer te hou.

Doegin sien die geskiedenis as 'n aaneenskakeling van intriges, wat sekerlik aansluit by sommige eietydse sienings van die geskiedenis van die Katolieke kerk en veral die Jesuïtiese Orde, die Vrymesselaars en in ons tyd die Bildenbergers wat blykbaar van tyd tot tyd as 'n soort wêreldregering-in-wording vergader en waarvan die einddoel die opheffing van enige vorm van etniese of nasionale bewussyn sou wees.

In aansluiting by Doegin se komplotteorie oor die wêreldgeskiedenis, is daar in die onlangse tyd heelwat onthul oor hoe die revolusie van 1994 in Suid-Afrika insgelyks deur sakemanne, magnate, geheime dienste en konkelende politici van stapel gestuur is.

Demokrasie in sy suiwerste vorm as "demografiese verteenwoordigendheid" soos ons dit in Suid-Afrika ervaar, is in die geboorteplek van dié staatsvorm, Athene, deur sowel Plato as Aristoteles as 'n radikale staatsvorm gevrees. Vir die Feniciër, die handelaar of Atlantis wat invloed of stemme kan koop, hou demokrasie egter geen gevaar in nie.

'n Aspek van Doegin se denke wat vir Afrikaners van groot belang mag wees, is sy siening oor 'n etniese federasie wat die geografiese federasie van Rusland moet vervang. In 2006 het hy in die tydskrif "Rossieja" voorgestel dat daar 'n federasie van volkere ingestel moet word as alternatief vir 'n sterker eenheidstaat soos deur sommige in die Kremlin voorgestaan word. Volgens Doegin, sal "'n eenheidstaat in die geval van Rusland die ergste van alle moontlikhede wees, omdat dit behaal sal word deur volksmoord op die unieke etnosse wat daarbinne bestaan". Volgens hom sal so 'n "volksmoord nie net die kleiner volkere in die Russiese Federasie bedreig wat deur groter volkere geassimileer sal word nie, maar ook die groot volke".


Doegin sien die burger van 'n nasiestaat wat sy eie kenmerke, lewenswyse, tradisies moet afsweer ten einde lid van 'n groter geheel te word as noodwendig armer as iemand wat deel is van 'n volk of gemeenskap. Vandaar Doegin se voorstel dat geografiese federalisme deur etnofederalisme vervang behoort te word. In so 'n stelsel sal etniese groepe, eerder as etniese gebiede, die konstituerende elemente van die staat uitmaak.

As voorbeeld in sy Rossieja-artikel noem Doegin dié van die Tartare. Binne 'n etnofederasie sal dié volk "as 'n politieke subjek erken word, met 'n groot mate van taalkundige outonomie, dit wil sê, hule sal die reg hê om hul eie taal te praat, om hul eie skrifstelsels en etniese kultuur te ontwikkel en te besluit waar hulle wil woon". Terselfdertyd sal Tartare egter nie geregtig wees op 'n Tartarstan of tuisland nie.

Dié gedagte is blykbaar vir die eerste keer deur die Oostenryks-Marxistiese denker Otto Bauer geopper wat geglo het dat in 'n nuwe staat die nasionaliteitsbeginsel voorrang bo die grondbeginsel behoort te geniet, iets wat hy "ekstraterritoriale kulturele outonomie" genoem het.

'n Beswaar teen Bauer se stelsel sou wees dat dit te moeilik sou wees om te administreer en kommunikasie tussen volkslede wat versprei oor 'n groter grondgebied woon te moeilik sou wees. Hedendaagse kommunikasietegnologie het egter grootliks die angel uit dié kritiek gehaal.

Vanuit die Angel-Saksiese wêreld, die vesting van sogenaamde "Atlantisme", word Doegin dikwels afgemaak as 'n "neo-fascis" en voorstander van Russiese nasionalisme. Die feit dat hy geweldig invloed by Medwedef en Poetin geniet en gereeld in die hoofstroommedia in Rusland gehoor en gelees word, beteken egter dat ons hom heelwat ernstiger behoort op te neem as wat sulke tiperings of stereotiperings sou wou hê.

Deel van die tragedie van Afrikanerwees is dat ons, binne sowel Doegin as Schmitt se definisies, voortdurend in stryd met die Angel-Saksiese seemonster, oftewel die Atlantiste van Brittanje en Amerika verkeer het. Soveel Afrikanerleiers in die verlede kon die ware gesig van ons vyand as landgeworde boorlinge van Afrika wat afstam van die Nederlandse seevaarders van die sewentiende eeu, eenvoudig nie raaksien nie.

Die vraag is of ons nie in die geostrategiese spel wat tans tussen die nuwe, nasionalistiese Rusland en die heersugtige Angel-Saksiese magsblok woed, eerder ons gewig by die Russe moet ingooi en met iemand soos Doegin in dialoog moet tree nie.

Brittanje het bepaal dat Lesotho en Swaziland onafhanklike state moes wees, maar was gekant teen grondgebied of onafhanklikheid vir die Afrikaner. Vandaar ons huidige ondergang binne 'n Engelse staat wat deur die kultuur, universalistiese "demokrasie" en opportunistiese geweld van die Atlantiese Seeryk oorheers word.

Ons het sekerlik niks om te verloor deur so 'n dialoog met Doegin en sy mede-Russe aan te knoop nie.

фильтр осушитель воздухаАлександр Фильчаков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.