Die vreeslike doring in my vlees

Image

Na aanleiding van die spotprent oor die toekoms van papier – "Psst … vergeet die internet … net nuus op papier tel!" – wil ek 'n vreeslike doring in my vlees aan lesers onthul. Ek weet nie of dit op dieselfde skaal van beestelike teistering as Paulus s'n is nie, maar dit het die potensiaal om my oor die rand van die afgrond te laat stort.

Ek lees nie elke dag 'n papierkoerant nie, maar die dag as ek een koop, kan ek die slagting van die rassistiese wit honde van die NSA, die vertrapping van my taal deur my eie mense, swart idiotestreke en algemene ellende ewe kalm inneem met 'n beker tee en 'n stuk beskuit. Later kan ek dit rustig in nagmerries en met 'n kombuismes onder die kussing verwerk. Niks trek my aandag af terwyl ek my aan die afgryslike nuus van die dag toewy nie. Pienk oorpluise werk doeltreffend teen die daaglike nor-MAL-iteit van brakkende blaffe.

Maar lees ek 'n koerant oor die lug – of deesdae omtrent enige webwerf – word ek gewelddadig aangerand deur singende, dansende, klinkende, klankende advertensies. Ek kry nie die keuse om hulle te ignoreer of belangstellend te lees soos met papieradvertensies nie. Ek het 'n erge graad van aandaggebreksindroom ontwikkel. Ek ly aan posttraumatiese stres. Ek is lelik met mense wat nie lelik met my was nie, met die gevolg dat ek sosiale verwerping beleef. Ek knou my kat af en vrees vervolging deur die DBV. Ek smag na sielkundige berading en diep terapie, maar het nie R600 (met kontantafslag) om per oorsessie te betaal nie.

Hiermee sweer ek plegtig dat ek nooit op enige webkoerant, joernaal, nuusbrief of webwerf sal inteken, dit wil sê betaal om dit te lees, terwyl sulke monstrositeite – singende, dansende, klinkende, klankende internetadvertensies – aan my opgedwing word nie. Ek sweer ek sal nooit, ooit produkte koop of dienste gebruik wat só geadverteer word nie. Wat hierdie adverteerders in hul banaliteit nie besef nie, is dat hulle hul afstootlikheid aan my adverteer.

Intussen lees ek maar Praag en ander webwerwe met pleisters: blanko teksblokke van my TextEdit-program (Apple se handige woordverwerkingsprogram). Sodra die webwerf oop is, plak ek lang, plattes oor die flitsende baniere bo, vertikales op die springende goed aan die kante en vierkantiges op die dansende dinge in die middel. Maar sodra ek die webblad aanrol of op 'n skakel klik, spring dit na bo en verdwyn die pleisters. Dan moet ek die webblad met die muis uit die pad skuif om die pleisters onder by te kom. Die pleisters moet dan weer op hul plekke geplak word. Só swerf 'n mens dan die hele skerm vol – ek het 'n hele negentien duim plat spasie vir hierdie oefening. Dit het in 'n hele kuns ontwikkel om 'n webblad net só groot oop te maak en net só te posisioneer en die teksblokke net só te trek en te plak sodat daar altyd êrens 'n stukkie pleister verby die webblad steek. Verdwyn die pleisters na onder, kan jy net op die uitstaande stukkie klik sonder om eers die webblad te skuif – en voilà! – TextEdit is weer die aktiewe program en sy pleisters bo. Dit verg 'n baie interaktiewe leesbenadering om jou skadelike blootstelling aan internetadvertensies te beperk – wat my nog nader aan die rand van die afgrond dryf.

As papierkoerante dan sterf, sal ek maar in die beskaafde barbaarsheid van die verlede terugval, waar riemtelegramme, bostelegrawe, rookseine en doodgewone lekker skinder jou die jongste nuus ter ore en oë besorg het.

O, en wat van die radio? PG Glass se "Howdy" en die ander histeriese "handelsnuus" met hul Engelse slagspreuke gee my so 'n pyn dat ek feitlik nooit radio luister nie. Dis wel goeie oefening om kort-kort radio toe te hardloop en die volumeknoppie af te draai, maar om die een of ander onverklaarbare rede is dit baie sleg vir my humeur en gevolglik ook vir die kat en onskuldige mense in my lewe.

принцип работы пескоструйногоДанильченко Юрий Брониславович

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.