Goedkoop elektrisiteit veroorsaak onnodige lugbesoedeling

Deel op

Vir minstens twintig jaar betoog ek teen die vestiging van aluminiumsmelters in Suider-Afrika wat bedoel is om surplus kragopwekkingsvermoë te absorbeer. Die De Villiers-kommissie se ondersoek na Eskom se sake gedurende die tagtigerjare het veroorsaak dat politici aktief in Eskom se sake begin inmeng het.

Die aanname was dat Eskom se beplanning verkeerd was en dat Suid-Afrika gevolglik onherroeplik met surplus kapasiteit opgesaal gaan sit. Met so ‘n aanname sal Eskom se amptenare enigiets doen om die politici tevrede te stel tydens onderhandelings met voornemende smelters. Dit het dus nie verbaas toe die destydse Alusaf ooreenkoms gesluit was om Eskom se reserwevermoë op te neem nie.

Maar Eskom se beplanners was toe nie verkeerd nie. Daardie reserwevermoë was slegs kortstondig. In die tagtigerjare het die NP nog vas geglo dat hulle vir altyd aan bewind sou bly, dat Suid-Afrika nog vir baie jare aan sanksies blootgestel sou word en dat die Berlynse muur vir altyd sal bly staan. Niemand het die magsoorgawe van 1994 toe voorsien nie.

Selfs binne daardie verband was die Alusaf-besluit swak sakeoordeel wat op korttermyn oorwegings gegrond was. As energiekonsultant wil ek Jacob Mouw dus gelyk gee oor sy betoog teen aluminiumsmelters wat Eskomkrag ten koste van die res van die land opslurp. Deur die eerste swak besluit daarna weer te herhaal, grens aan stommiteit. Die Mozal smelter in Mosambiek, byvoorbeeld gebruik vier maal meer elektrisiteit as die res van Mosambiek se verbruikers saam, en daarvoor moes nuwe kapasiteit geskep word!!. Vanuit ‘n moraliteitsoogpunt gesien, is dit onaanvaarbaar in die huidige internasionale politieke milieu. (Besoek gerus Elektrisiteit in 'n digitale ekonomie.)

Mens kon argumenteer dat dit grens aan ‘n misdryf teen die mensdom, wat deur wetgewing gewysig sal moet word. Om heersende kontrakte op te skort sal waarskynlik nie moontlik wees nie, maar, soos die engelse sê, is daar meer as een manier om ‘n kat af te slag.

Een manier is om die smelterkat byvoorbeeld met ‘n CO2-heffing te belas. Dit is een saak om die prys van die krag aan die Londense metaalbeurs te koppel, maar dit is ‘n heel ander saak om toe te laat dat omgewingsbesoedeling terselfdertyd gekondoneer word sodat die winsgewendheid van die smelters nie in gedrang kom nie.

Eskom is een van die wêreld se grootste omgewingsbesoedelaars en in belang van ontwikkeling word dit in Afrika oorgesien. Maar om misbruik daarvan te maak is onvergeeflik.

Vir elke ton aluminium wat geproduseer word, moet Eskom 15.5 Megawatt per uur elektrisiteit lewer wat uit 15.5 ton steenkool opgewek word. Teen langtermyn kontrakpryse kos steenkool vandag nagenoeg R100 per ton. Korttermyn steenkoolpryse is selfs R160 per ton en meer. ‘n Ton aluminum gebruik dus R 1550 se steenkool en word tans teen $1860 (R14,880) per ton op die Londense Metaalbeurs verhandel.

Kundiges in die bedryf is dit eens dat elektrisiteit minstens een derde van die produksiekoste van aluminium uitmaak. Die erts en ander uitgawes kos die res. In Randterme is die fabriekskoste van een ton aluminium dus ongeveer R5,000.

Mens kan nie met sekerheid sê wat die smelters vir hul krag betaal nie, maar ons kon geredelik aanvaar dat die smelterye hul krag deesdae teen minstens 40% goedkoper inkoop as ander nywerhede, aangesien smelterye se kragprys op ‘n ander manier geïndekseer is en nie die onlangse groot fiskale prysverhogings weerspeël nie. Die res van die land se kragverbruikers moet derhalwe die smelterye se aluminium met minstens R500 per ton subsidieer.

Om dit nou in verband te bring met omgewingsbesoedeling: Vir elke ton steenkool wat verbrand word, word 1.83 ton CO2 in die atmosfeer vrygestel deur Eskom se kragstasies wat die krag daarvoor opwek. Die smelters self stel ook groot hoeveelhede CO2 vry. Vir elke ton aluminium, word die atmosfeer met minstens 28 ton CO2 besoedel. Suider Afrika se Aluminiumproduksie besoedel die omgewing dus jaarliks met ongeveer 28 miljoen ton se kweekhuisgas.

Omgewingsbesoedeling geniet internasionaal tans die hoogste moraliteitsoorweging, maar in Suid Afrika is dit waarskynlik die laagste op die prioriteitslys. Die tyd het aangebreek vir die staat om die aluminiumkontrakte weer te besoek, sodat die ongeregverdigde besoedeling wat saam met die krag leweringskontrakte ingesluip het, belas kan word. Die subsidie van R500 per ton aluminium wat die res van die verbruikers moet subsidieer, kan sodoende verhaal word.

‘n Koolstofbelasting van R60 per ton CO2 op die smelterye, wat die marginale CO2 verteenwoordig wat op ‘n gesubsidiëerde basis deur Eskom namens die smelters afgeskei word, sal die winsgewendheid van aluminium met minder as 0.4% beïnvloed, maar sal die egalisering van omgewingsbesoedeling vir dieselfde kragverbruik deur ander bedrywe tot gevolg hê.

Hoewel die aluminiumbedryf naarstiglik probeer om hulself teen sulke maatreëls te immuniseer, kan spesiale wetgewing die saak gou in werking stel. Dit sal ‘n bykomende inkomste van R500 miljoen jaarliks vir Eskom beteken en die opwaartse druk op kragpryse aan ander verbruikers wesenlik verlig. Suid Afrika se aluminium uitvoere beloop tans meer as R14 miljard, waarvan die elektrisiteit wat teen ‘n verlies verkoop word, die plaaslike inhoud uitmaak.

‘n Ander manier om die kat by te kom is deur spesiale rantsoeneringswetgewing ‘n plafon op smelters se gebruik van elektrisiteit te plaas. BHP-Billiton moes onlangs twee smeltpotte in sy Bayside smelter uit bedryf haal om die verpligte 10% elektrisiteitsbesparing te bereik. All die ander sakesektore kry tans baie swaar, weens die resessie. Een party van die elektyrisiteitsooreenkoms is tans in die knyp. Dus bestaan daar ‘n goeie rede waarom leweransiersooreenkomste herbesoek kan word.

топка для баниДанильченко Юрий прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.