Botha-besering sit grynslag op Aussies-bakkiese

Deel op

Image

Bakkies Botha, ‘n Bok-steunpilaar

Die son skyn vanoggend so 'n paar kerskrag sterker in Australiese rugbygeledere. Dit lyk asof Bakkies Botha nie Saterdag in Brisbane op die veld sal wees om die Wallabies te terroriseer nie. En dít is 'n baie dreigende donkerwolk wat uit die Aussie-hemelruim verwyder is. Botha is die dieselenjin in die Bokke se voorpakbus wat met soveel gemak oor die Australiërs gerol het die afgelope paar wedstryde. Botha het sy knie beseer, waarskynlik toe hy nogmaals bo-oor 'n armsalige Australiese voorspeler gehardloop het.

Deel op

Om dinge vir die Springbokke te kompliseer, het Bakkies se rolstudent, Danie Rossouw, maar so pas van 'n besering herstel, en hoewel hy self 'n speler van graniet is, word daar gewonder of hy 80 minute voluit sal kan speel, al is dit teen Australië. Indien Pieter "Helium" de Villiers se mediese span hulle vingers natlek, in die wind hou en bepaal dat Rossouw nie die oplossing is nie, sal 'n dringende sein vir 'n plaasvervanger uit Suid-Afrika gestuur word. Dit beteken dat die Haaie se Johan Muller sy afsprake vir die week moet kanselleer. Al is hy 'n eerlike, harde speler, is hy geen Bakkies Botha nie.

Die mate van eerbied wat hy in die spel afdwing, kan beter verstaan word in die lig daarvan dat Bryan Habana se besering net so op die buitewyke van die rugbywêreld se bewussyn registreer. Habana is self nie 'n speler wat maklik vervang sal word nie, maar daar ís darem 'n Jongi Nokwe. Die groter gevaar is dat Habana se onttrekking vir De Villiers idees gaan gee. John Smit en Victor Matfield gaan al hulle dae hê om hom daaruit te praat om die agterlyn te skommel. Hy jeuk om sy een lieflingspeler, die pokkelrige Adrian Jacobs, te ontplooi, wat beteken dat Jaque Fourie uitgeskuif sal word na die vleuel. Dit is juis Fourie en Jean de Villiers se vennootskap, hulle Panzer-gehalte verdediging en hulle venyn op die aanval, wat bygedra het om hierdie die beste beroepsera-Springbok-span te maak.

Die Springbokke kort nog een punt om die Drienasies-trofee te wen. Met Bakkies Botha uit, en 'n Pieter de Villiers wat sy handjies vryf om die Bok-agterlyn te ontwrig, kan dít nogal 'n geswoeg afgee.

games casino online freeОлександр Васильович Фільчаков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.