Repliek op Johann Wingard: Abiotiese en biotiese olie II

Image

Ek het êrens in die tagtigerjare van die vorige eeu met die idee van "piekolie" kennis gemaak. Die storie begin egter reeds in 1959 met M King Hubbard se voorspellings vir die Amerikaanse olieprovinsie. Hubbard se werk, wat in verskeie akademiese tydskrifte gepubliseer is, het 'n debat ontketen, maar destyds amper uitsluitlik onder Amerikaanse deskundiges. Die debat is grotendeels deur ekonome, politici en wetenskaplikes van welke aard ook al, meestal ten beste geïgnoreer, en ten slegste, as roekeloos afgemaak.

My eerste indrukke destyds was dat piekolie 'n vergesogte idee is wat selfs 'n samesweringsteorie kon wees, en ek het dit derhalwe geïgnoreer. Verdere probleme vir die teorie was dat anti-Amerikaanse aktiviste dit in 'n mate gekaap het wanneer hulle aanvoer dat petroleum die VSA se buitelandse beleid bepaal, en dat tekorte in olie in die VSA, asook Amerikaners se dors na olie, onderliggend aan alles wat gevaarlik en sleg is sover dit die VSA betref. Piekolie kan dus in sy meer ekstreme manifestasies ontaard in anti-Amerikaanse samesweringsteorieë. Die gevolg is dat die legitieme wetenskaplike debat rondom die ontginning van petroleum 'n ideologiese kleur aangeneem het, wat dit moeilik maak om die statistieke en wetenskaplike sy van die teorie neutraal te analiseer.

Saddam Hoessein se avontuur in Koeweit en VS-president George H W Bush se reaksie in die Eerste Golfoorlog in 1992, het die debat rondom piekolie verder as ideologies van aard gekarakteriseer: Linksgesinde anti-oorlogaktiviste kon selfvoldaan opmerk dat Bush presies optree soos hulle verwag het: Beduiwel Amerika se verskaffers van olie, en die reaksie kan ernstig wees. VS-presidente Clinton en Bush junior het presies net so gereageer, en die jonger Bush het eenkeer opgemerk dat die Amerikaanse lewenswyse, gebaseer op 'n olie-ekonomie, nie onderhandelbaar is nie. Dit alles voed 'n ideologiese debat rondom piekolie, wat die wetenskaplike sy van die debat soms van koers af dwing.

Daar is baie feite hier, en groot potensiaal om samesweringsteoretici baie materiaal te gee vir nadenke en kranksinnige profesieë. My eie indruk was op daardie stadium egter deurentyd dat piekolieteoretici presies die volgende is: samesweringsteoretici wat 'n ietwat snaakse, maar meestal skadelose, ontleding oor petroleum verkwansel, wat waarskynlik boonop nog verkeerd is.

Dit is nietemin 'n feit dat M King Hubbard voorspel het dat die ru-olieproduksie wêreldwyd teen die einde van die twintigste eeu deur 'n maksimum of piek sal gaan. Teen dié tyd was Noordsee-olieproduksie hoër as ooit tevore, en feitlik niemand (die uwe inkluis) het juis aandag aan ru-olieproduksie gegee nie. Produksie het jaarliks toegeneem, die energiekrisisse van die 1970s was omtrent vergete, en die olieprys was stabiel en laag, met Saoedie-Arabië as die swaai-produsent wat telkens die toon aangegee het om pryse te beheer. Die Clinton-jare in die Withuis het groter sportgebruiksvoertuie op die mark gebring, wat nog groter en meer petrol per myl gebruik het as omtrent enige persoonlike voertuig van vervloeë dae.

Tog was dit juis toe dat ek, na aanleiding van Hubbard se voorspelling, 'n paar jaar of wat later, toevallig besluit om na Amerikaanse ru-olieproduksiestatistieke te kyk. Dit was alombekend dat Hubbard die piek in Amerikaanse produksie voorspel het (die voorspelling is in 1959 gemaak vir 1971, terwyl die piek in 1970 was), maar niemand het juis verder in die hoofstroompers uitgebrei oor produksie in die Amerikaanse olieprovinsie sedert 1970 nie.

Image 

'n Kort blik oor die statistieke toon egter aan dat die VSA se produksie stelselmatig ná 1970 afgeneem het. Dit is ietwat onverwags – die energiekrisis in die 1970s, die VSA se afhanklikheid van Midde-Oosterse ru-olie, en OPUL se vyandigheid, tesame met skerp prystoenames in die prys van olie in die 1980s, en baie verbeterde tegnologie, het 'n motief vir sterk toenames in Amerikaanse olieproduksie geskep. Maar ten spyte van beter tegnologie, 'n skerp verhoogte prys, investering in eksplorasie deur die oliemaatskappye, asook die geopolitieke omstandighede, het Amerikaanse produksie net een rigting geken: minder olie met verhoogde produksiekoste, jaar na jaar.

Niks kon dit omkeer nie: Die ontwikkeling van velde onder die see, verhoogde investering in nuwe tegnologie, meer geoloë om nuwe velde te vind, het wel in sekere liggings verhoogde produksie ten gevolg gehad, maar dit kon nooit ten volle vir afnames in ander velde vergoed nie.

Vandag is Amerikaanse produksie minder as 60% van sy piek in 1970. Myns insiens bewys die Amerikaanse produksiekurwe dat M King Hubbard se idees 'n vrugbare manier is om produksie te ontleed, en toekomstige produksie te voorspel. Die reaksie van die Amerikaanse ekonomie op die piek in ru-olieproduksie in die Amerikaanse olieprovinsie is alombekend: Stagflasie en hoë rentekoerse, in 'n klimaat waar verbruikers naarstiglik werk om petroleumprodukte meer spaarsamig te gebruik.

Wat is Hubbard se kurwe? Ek het reeds breedvoerig oor Hubbard se benadering in 'n vorige rubriek geskryf en ek gee net 'n paar kernidees hier.

Hubbard het voorgestel dat ru-olieproduksie in 'n olieprovinsie (wat 'n geografiese area, soos die VSA, se totale olieproduksie insluit), met 'n logistiese kurwe beskryf kan word. Ons dui die produksie aan as P, in vate per dag. Die kumulatiewe produksie in die olieprovinsie is C, en is die totale hoeveelheid olie wat reeds ontgin is (sedert die provinsie ontwikkel is vir ontginning).

As jy nie van wiskunde hou nie, spring maar oor die volgende twee paragrawe – die volgende is nie wesentlik vir ons diskussie nie, maar is nietemin interessant: Die produksie P van ru-olie is verwant aan C in die vergelyking [P/C] = K – C. K is 'n konstante term, en ons merk op dat as C=K, dan is P=0. Met ander woorde, K is die totale hoeveelheid ru-olie ter plaatse voor die provinsie ontgin word.  Die vergelyking [P/C]=K-C is 'n differensiële vergelyking, wat P, C en K in verband met mekaar bring en wat ook as 'n logistieke vergelyking bekendstaan. Die vergelyking kan maklik opgelos word.

Image

In die bostaande grafiek word die logistieke vergelyking geïllustreer. Die kumulatiewe olieproduksie is op die horisontale as, en die verhouding [P/C] op die vertikale as. Die data is in vate per dag, en nadat daar eers 'n rondskommeling in die data is, attenueer die data en begin die blou lyn volg. As mens die blou lyn tot by die horisontale as ekstrapoleer, kry mens, K, die totale hoeveelheid olie wat ontgin kan word. As ons die eenhede terugwerk tot vate, dan is die totale moontlike kumulatiewe opbrengs in die Amerikaanse olieprovinsie nie meer as 'n totale 240 miljoen vate nie.

Die analise in die laaste twee paragrawe toon aan dat P 'n klokkurwe is, en wat bekend staan as Hubbard se kurwe – P begin laag as die provinsie nuut is, styg tot 'n maksimum, en neem daarna af. Die maksimum in P is die piek, en die hele argument rondom piekolie is gaande oor die Piek in P – waar is dit, hoe hoog is dit, en mees belangrik, kan mens dit voorspel deur van bestaande data te ekstrapoleer?  Verder kan mens ook die gebruik van ? logistiese benadering bevraagteken, hoewel bestaande ontginningsdata nie teenstrydig met dit is nie. Dit is verder belangrik om op te let dat petroleum nie soseer opraak nie, maar dat die produksie P (in vate per dag) afneem na die piek. Die afname kan nie omgekeer word nie, en dit veroorsaak tekorte op die oliemark, met verhoogde pryse en ander ekonomiese ontwrigtings.

Die belangrikste begrip in die laaste paragrawe is P, die tempo van olie-produksie per tydseenheid (vate per dag). Die wêreldekonomie verorber 'n sekere aantal vate ru-olie per dag (tans ongeveer 85 miljoen vate per dag). Daar is ook 'n wêreldwye aanvraag A vir ru-olie. As P>A, dan is daar genoegsame produksie om in die aanvraag te voorsien, en die olieprys behoort laag en stabiel te wees, met produsente wat net genoeg produseer om in die vraag te voorsien. In so 'n geval het hulle 'n "spaarkapasiteit", of die vermoë om hulle produksie op te stoot indien nodig. Die ekonomie van ru-olie word in dié geval deur aanvraag beheer, en dit is die beste omstandigheid vir die wêreldekonomie. Dit was dan ook die omstandigheid tot op hede, behalwe vir twee kort periodes in die sewentigerjare se energiekrisisse. Piekolie is die bewering dat P deur 'n maksimum (of piek gaan) waarna ons 'n omgekeerde verhouding tussen P en A sal ervaar. Dit is dat P<A, in welke geval 'n stygende ru-olieprys chaos in die wêreldekonomie sal veroorsaak.

Hubbard se kurwe en abiotiese petroleum: As daar 'n noemenswaardige hernuwing van ru-olie plaasvind, soos voorspel in 'n abiotiese oorsprong vir ru-olie, dan is Hubbard se ontleding dalk steeds van toepassing, maar dit word ten minste teoreties moontlik dat ru-olieproduksie kan toeneem sonder om ooit 'n perk te bereik. In deel III van my repliek kyk ek spesifiek na dié moontlikheid, en verduidelik waarom, in alle waarskynlikheid, selfs 'n abiotiese oorsprong piekolie ongedaan sal maak nie.

куклы барбілобановский депутат

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.