Afriforum verkla Chuene oor ‘rassepolarisasie’

Deel op

AfriForum het die president van Atletiek Suid-Afrika (ASA), Leonard Chuene, amptelik by die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) verkla omdat hy “rassepolarisasie aanvuur” deur die Caster Semenya-debakel in ʼn rassekwessie te omskep.

Chuene is ook deur AfriForum aangekla daarvan dat hy ASA se mediakonferensie en byeenkoms met Semenya se terugkeer na Suid-Afrika, as platform laat dien het vir ANC-politici om Semenya vir politieke doeleindes te misbruik. Die ANC Jeugliga se president, Julius Malema, het onder meer tydens Semenya se terugkeer ʼn striemende aanval op wittes geloods.

AfriForum het die IAAF ook gevra om ferm op te tree teen diegene wat verantwoordelik is vir die uitlek van die inligting wat tot die skending van Caster Semenya se privaatheid en menswaardigheid gelei het.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is die IAAF in terme van Artikel 3 van sy grondwet onderworpe aan die Internasionale Olimpiese Komitee se handves, wat onder meer bepaal dat ʼn vreedsame samelewing bevorder moet word en dat enige politieke misbruik van atlete en sport teengestaan moet word.

“Chuene se polariserende uitsprake deur die ongelukkige gebeure rakende Caster Semenya in ʼn rassekwessie te omskep, en sy rol om ʼn platform aan rasse-ideoloë soos Malema te bied om Semenya polities te misbruik, is dus ʼn growwe skending van die IAAF se grondwet en reëls,” het Kriel gesê.

Kriel het daarop gewys dat Chuene verder oortree het deur die geloofwaardigheid van IAAF-toetse te ondermyn, deur te verwys na ʼn sogenaamde “wetenskaplike van ʼn onnosel universiteit” wat die toetse behartig.

Klousule 3 (b) en (c) van Artikel 14 van die IAAF-grondwet bepaal dat dié beheerliggaam ʼn lidland onder meer kan berispe, indien sodanige lid of die regering van ʼn land, die IAAF se doelwitte, grondwet of reëls oortree.

Semenya se prestasie het volgens Kriel ʼn ideale geleentheid gebied om wedersydse erkenning en respek tussen gemeenskappe in Suid-Afrika te bevorder, maar die uitlek van die inligting oor die toetsing, asook Chuene en Suid-Afrikaanse politici se hantering van die situasie het nou eerder polarisasie meegebring. “Dit is onverskoonbaar dat ʼn puik prestasie deur ʼn Suid-Afrikaanse atleet misbruik word vir politieke gewin en om verdeeldheid te saai,” het Kriel bygevoeg.

Afriforum het nie kommentaar gelewer oor die gerugte dat Semenya 'n hermafrodiet is nie.

casino free betФільчаков Олександр Васильович прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.