Olie en lewe het dieselfde oorsprong: Bioties of abioties?

Deel op

Image

Dit was werklik aangenaam om Buks van Rensburg se werk oor biotiese en abiotiese olie in pronkafrikaans te lees. In keurige tegniese terme doer uit Kanada neem hy ons stap vir stap deur die verskillende teorieë wat die oorsprong van biotiese olie uitlê.

Deel op

In hierdie bi-polêre debat wil ek egter nie gesien word om die teenoorgestelde pool te beset en standpunt in te neem vir die teorie van ‘n abiotiese ontstaan van olie nie. Daarvoor is ek gans te onkundig. Met my pluralistiese benadering kan ek albei kante van die saak met dieselfde geesdrif en oortuiging debatteer. My fokus is tans meer gerig op die konsekwensies wat die oorsprong van aardolie vir die mensdom inhou, en nie die oorsprong van olie as sulks nie.

Maar terselfdertyd sou ek egter ‘n gulde geleentheid verspeel as ek nie die groot voorstaander van die abiotiese teorie, Thomas Gold, se finale gevolgtrekking oor die debat herkonstrueer nie. Daarin beweer hy dat lewe op aarde sy oeroorsprong uit bakterieë het wat teen hitte en druk bestand is en binne die aardkors bestaan waar hulle op metaangas leef. Meer hieroor later.

Tydens die oliekrisis van die laat 1970’s, (toe die Sasol 2 en 3 by Secunda opgerig is), was die tydsgees, plaaslik en oorsee, baie ontvanklik vir ‘n gerusstellende toekomsbeeld van die aarde se energiebronne. Gold het dus geen probleem gehad om befondsing vir sy navorsing na bewyse van abiotiese olie te werf nie. Dit stel hom toe in staat om ‘n navorsingsduikboot in te span wat fisiese navorsing op die seebodem naby die Galapagos Eilande kon doen.

Die navorsingspan ontdek toe verskeie ekostelsels op die seebodem wat langs hidrotermiese skeure floreer. Hierdie skeure was inderdaad gasheer vir ’n hele aantal organismes soos ondermeer reuse buiswurms en albinokrappe wat geleef het van die chemosintetiese mikrobes wat afhanklik was van die hitte uit die skeure. Die ontdekking van lewe naby ‘n vyandige omgewing soos hidrotermiese skeure het veroorsaak dat hy die algemene vertolking van biotiese petroleum wou hersien.

Gold het geglo dat biologie slegs ‘n vertakking van termodinamika was, dat die geskiedenis van alle lewe deel is van die langsame ontwikkeling na meer doeltreffende maniere om energie te verbrand. Mens kan dus aflei dat hy geglo het dat alle lewe uit metaangas as voedingsbron, voortgepruit het.

Hy wou verstaan hoe migrasie van metaangas deur aardbewings vanuit diep binne die aardkors aangehelp word, en het gespekuleer dat sterk aardbewings die aardoppervlak kan kraak en ontsnappingskanale vir aardgas skep. Daardeur verklaar hy dan ook die buitengewone verskynsels soos brande, ontploffings en “gloede” wat dikwels met aardbewings geassosieer word.

Gold en sy kollega, Steven Soter, stel toe ‘n kaart op wat die grootste olieproduserende gebiede op aarde aantoon en vergelyk dit met die gebiede waarin die grootste seismiese aktiwiteite voorkom. Hulle bevind toe dat verskeie olieryke gebiede soos Alaska, Texas, die Karibiese Eilande, Meksiko, Venezuela, die Persiese Golf, die Urals, Siberië en Suid-Oos Asië, almal op die aarde se groot aardbewingsgordels lê. Hierdie bevinding het hulle laat glo dat die opwaartse migrasie van gas deur die aardkors die lewegewende bron is vir ‘n biologiese sisteem wat vir die teenwoordigheid van olie verantwoordelik sou wees met biologie as integrale deel van die termodinamika wat die aarde se oppervlakontwikkeling reguleer.

Gold het verder gepostuleer dat aangesien koolwaterstowwe regoor die ganse heelal teenwoordig is, daar geen rede is om te glo dat petroleum slegs op planeet aarde ‘n biologiese oorsprong het nie. Volgens sy teorie, kom petroleum op aarde reeds vir ongeveer 4.5 miljard jaar gelede, diep onder die aarde se kors in molekulêre vorm voor. Vandaar ontsnap die gasmolekules weens die ontsettende hitte van die aarde se kern en migreer deur die poreuse lae van die aardkors om mikrobiese kolonies te voed wat die basis van lewe en olie op aarde vorm. Die migrerende petroleum los die reste van die mikrobiese kolonies op wat deur die petroleum gevoed word en vorm oliereservoirs.

Verskeie soortgelyke ekostelsels is kort na Gold se publikasies ontdek onder toestande van hitte en druk wat voorheen as onmoontlik beskou was om enige vorm van lewe te onderhou. Toe enkele uitgeputte olievelde weer begin het om groot hoeveelhede olie te produseer, het hy verklaar dat die aarde genoeg olie het vir die volgende 500 miljoen jaar.

In 1992 pas Thomas Gold sy hipotese aan in sy publikasie: ‘The deep hot biosphere.’ Daarin beweer hy dat steenkool en aardolie hul oorsprong het van aardgas, wat bakterie voed wat baie diep onder die aardoppervlak woon. Met ander woorde, olie en steenkool word deur tektoniese kragte ontstaan, en nie deur die reste van fossiele wat mettertyd daarin beland nie. Die teenwoordigheid van die reste van die bakterië wat op die petroleum teer, beteken volgens Gold dat die heersende teorie van piekolie as uitgedien beskou moet word, aangesien olie se oorsprong nie van die organismes self is nie, maar voortdurend deur aardgas gevoed word.

Die belangrike van hierdie debat is nie watter teorie die regte een is nie, maar hoe beleidsbeplanners na die toekoms moet kyk. Sasol het onlangs sy Oryx vloeistof uit gas (VUG) in engels is dit GTL, oftewel ‘gas to liquids’ in Qatar in bedryf gestel.

Nog meer sulke VUG-aanlegte word in vooruitsig gestel. Neem mens ‘n korttermyn of langtermyn siening van sulke projekte? Mossgas se VUG aanleg by Mosselbaai kom reeds aan die einde van sy ekonomiese lewe, aangesien die aardgas volgens berekening reeds opgebruik is. Gaan die produksieplatform in die see behoue bly vir gebruik op ‘n later tydstip?

Moet lande nie hul boorprogramme uitbrei om binne hul gebiedswaters te boor nie?

En dan, wanneer sal groot moondhede begin besef dat dit nie meer nodig is om miljarde dollars en duisende menselewens vir oliesekerheid op te offer nie?

роботы праймФільчаков прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.