Die Springbok het gekom, gesien, afgeslag

Deel op

Image

Schalk Burger in aksie tydens gister se Drienasiestoets

Agterna het al wat ‘n naas is te sê gehad dat die Springbokke tóg iets uit hulle oorwinning oor die Wallabies geleer het. En die stukkie opvoeding? Dat, in die Gesnorde se vlugvoetige woorde, geen span dit kan bekostig om nie vir tagtig minute nie te speel nie. Dan moet ‘n mens sê, as die Springbokke net vyftig minute nodig gehad het om die Aussies kas toe te stuur, vir watter rede op aarde sal hulle hulleself uitsit vir nóg ‘n halfuur. Ruik die rose terwyl jy kan… Eintlik was die uitslag redelik voldonge na ongeveer 14 minute se speel… waarin Fourie du Preez gedoen het wat ‘n skrumskakel aangesê word om nie te doen nie – neem ‘n tikskoppie al is die pale binne Morné Steyn-reikafstand, jaag die verdedigers een kant toe op ‘n knop en pluk homself anderkant toe en oor die doellyn vir ‘n uiters astrante drie.

Deel op

Die Steyn-visier het die lang vlug van Durban af oorleef en die telling was 7-0.  Minute later, met die Wallabies wat strawwe verdrukking in hulle eie gebied beleef het, het Morné Steyn vir Jaque Fourie soos ‘n voorlaaier oorgehaal en toe op die regte breukdeel van ‘n moment afgevuur. Die buitesenter het die Aussie-verdediging soos ‘n snoek oopgevlek en het onder die pale gaan punte maak. Dit was tog ‘n deel van ontdekkings en een daarvan was dat Morné die Metronoom tog vel en vlees is en hy skop die maklikste skop in sy Bokloopbaan skoon mis.

Die res van die wedstryd was nie juis ‘n riller nie.  Dit was eerder ‘n misterie waarin die geheimenisse van Kiwi-skeidsregter Bryce Lawrence se skrumbeslissings deur die twee kapteins, John Smit en George Smith, moes ontrafel word. Die Da Vinci Kode verskil met Lawrence se Geheim juis daarin dat daar oplossings is vir die vrae in die Kode. Die Bok-pak het egter deurgaans die verkeer só beheer dat Lawrence se arbitrêre interpretasies tydelike irritasies eerder as wedstrydsinkers was. Tog het die geil oes strafskoppe die Wallabies in staat gestel om asem buite hulle gebied te skep en Matt Gitau het, eenkeer met krag en eenkeer met voetvlugheid, twee drie gedruk. Maar die Springbokke se nuutgevonde terugslaanvermoë in ag geneem, was dit net ‘n kwessie van tyd voordat die Wallabies ernstige skade sou ly – en dit het gekom deur twee Bryan Habana drieë, gesmee uit die skroot van Aussie-blapse wat deur volgehoue Bok-druk afgedwing is.

Uiteindelik was dit ‘n soort wiskunde van punte oor tyd en dit was duidelik dat die Wallabies nie die spel vinnig genoeg sou kon herwin om ‘n oorwinning asof uit niks te maak nie. Die Springbokke kon ontspan, soveel so dat hulle twee Australiese drieë laat in die wedstryd kon aflag. Pieter de Villiers kon sy lieflinge, vernaamlik Adrian Jacobs op die veld bring, wat net weer die gehalte van die opdrafspan onderstreep het. Die vaste vyf het die aarde laat bewe, die losvoorspelers het alles gelak wat beweeg het en die agterlyn het glad gevuur, met veral daardie voetboller, Ruan Pienaar, wat ordentlik gesweepslag het op heelagter.

Die eindtelling van 32-25, met ‘n vierdriebonuspunt, is presies deur die Bokke volgens bestelling afgelewer.
 

светодиодный asdФильчаков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.