Wie gaan eer kry en wie gaan seerkry?

Deel op

Image

Dié naweek se rugby en wat die Blou Bulle en die Leeus aan mekaar gaan doen

Cobus Grobbelaar glo die Leeus gaan aansit vir blou biefstuk dié naweek. Hy’s oortuig sy trop gaan wen. Hy’s áltyd oortuig sy trop gaan wen. Dié keer kan hy reg wees, en dit nie in die minste mate omdat hy sy terugkeer maak na ‘n besering nie. Baywatch is een van daardie eerlike hardwerkende baljagters – hoewel die gedagte aan ‘n “eerlike baljagter” so oksimoronies blyk te wees as “eerlike dief” of doeltreffende ANK-staatsamptenaar. Hy is een van daardie amper-amper spelers wie se naam al in ‘n paar vroegseisoen skadu-Springbokspanne ingepotlood is. Hierdie jaar was dit weer so, en dit was net daardie natuurfrats van ‘n losbalmagneet, Heinrich Brüssouw, wat hom voorgespring het. So, Grobbelaar stort al sy hartstog in die Leeu-span in. En dis juis sy passie, en die desperaatheid van sy hele span wat my laat glo dat hulle gaan wen.

Deel op

Die ideale span is een waarvan die breër spelmetodiek en bemanning so gevestig is dat die span selde, en net as hulle in ‘n onverwagse verknorsing is, in hulle emosionele voorraad gaan delf. Ander spanne, minder voortreflik bedeel in sekere afdelings, middelmatig om die minste te sê, kan net op passie reken om wedstryde te beklink. Die probleem is dat hartstog en durf sulke vervlugtende elemente is. Dit kan die een minuut daar wees, en die volgende oomblik het dit verdamp, en dan het hulle nie strukture, tegniek en krag om hulle deur te trek nie. Maar ‘n sielsgedrewe span kan vir die regte tagtig minute enige span se lewe versuur. Gewoonlik het so ‘n span net een so ‘n wedstryd per jaar in hulle. En ek reken hierdie Saterdag is dit die Leeus se wedstryd van die jaar. Hulle is net desperaat genoeg om die Bloues se bulkalfies plat te trek.

Die Blou Bulle se instaanspelers maak hulleself gaandeweg in die dodelike, doodsmoorpatroon waarvan bekersukses gemaak word. Maar dis te betwyfel of hulle genoeg geduld en teenwoordigheid van gees het  om ‘n vasgekeerde Leeu vasgekeer te hou. Terwyl die voorpak, met ‘n bosbrekervoorry van Kruger, Kuun en Engels en Flip van der Merwe op slot, lyk al hoe meer soos die geestelike afstammelinge van die Noord-Transvalers van ouds en Dewald Potgieter gaan beslis vir Grobbelaar al die pad bal toe jaag.

Agterlangs is waar dit kan lol, met te min terugvalplanne vir rou spelers soos Burton Francis en Francois Hougaard om verbete teenaanvalle te smoor. En aangeval gaan hulle aangeval word, en dit nie net deur die nuwelingsenter Pieter Engelbrecht en buitesneller Hollenbach nie, maar deur die venynige Jano Vermaak en die rammelende Willem Alberts van agsteman af. Voorts kan die Bloues maar vra wie de joos is Earl Lewis. Die antwoord is dat hy nie die ander een, Earl Rose, is nie. Hierdie jaar kon die Leeus se opponente deurgaans staatmaak dat wanneer hulle in die knyp teen die rooibontes is, Rose iewers ‘n geskenk vir hulle sal opdiep. Maar Pieter de Villiers se gunsteling “X-faktorspeler,” Rose, is uit die laaste vesting verwilder en, hoe of wat Lewis ook al is, so totaal selfvernietigend soos Rose kan hy nie wees nie.

Die wedstryd word op die Stadion-Voorheen-As-Ellispark-Bekend beding en hoewel tuisvoordeel nie soveel vir die Leeus beteken nie, is dit darem stukke beter as die teendeel: Om die Blou Bulle tussen die horings te kyk  op Fort Loftus.

Tuisveld, hartstog, desperaatheid en die afwesigheid van Earl Rose. Hierdie een is die Leeus s’n. Dis hulle Groot Wedstryd vir die jaar.

печи длялобановский александр игоревич харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.