W?reldrugby se grootste somerswaeltjie

Deel op

Die een speler wat Springbokrugby nie kan vervang nie

Dat een swaeltjie nie 'n somer maak nie, is 'n ou braaivleisinsig. Daarmee word aangedui dat 'n sportspan se sukses nie aan 'n enkele speler toegeskryf kan word nie. Dit word meermale geïntoneer wanneer 'n sterspeler sy terugkeer na 'n besering maak. As, sê nou maar Richie McCaw of Daniel Carter ontslaan word uit die terapieproses en as't ware rittel en trippel om die veld tydens die All Blacks se volgende toets te betree, word die vraag gevra: Watter verskil sal dit maak? Dis dán wanneer die braaivleis-Naas Botha kug en frons en beduie dat, ja McCaw is die wêreld se voorste baljagter en moontlik die wêreld se beste speler, pond vir pond, maar – staan by hier kom dit nou – een swael maak nie 'n somer nie.

Deel op

Dis hoog tyd dat hierdie tradisionele insig herbesoek word. Niemand stel voor dat die aanskoue van een Tachymarptis melba finaal aandui dat die somer opgedaag het nie. Net so ontken niemand dat McCaw nie sy towerwerk kan doen as hy nie 14 ander spanmaats het om te skrum, te lynstaanspring, balle uit te gee, te skop, ensovoorts nie. Maar dis tog duidelik dat een speler 'n klaaglied in 'n triomfkreet kan verander. Speel soos die Springbokke vroeër hierdie seisoen gespeel het, een speler se teenwoordigheid het die verskil gemaak tussen oorwinning en nederlaag: Morné Steyn. Toe hy in die tweede toets se stuiptrekkings aangetree het en die Gilbert in die ruimte bo die dwarslat en tussen die pale deurgesool het, het hy 'n Springbokwinter, of dan ten minste 'n koue herfs, in 'n heerlike, groensappige, songemarineerde somer verander. Hy was een swael wat eiehandig 'n invloed op die somer gehad het. Sy somerwerking is geleë in die eiesoortigheid van sy bydrae. As hy  nie die bal oorgeskop het nie, nou ja, daar was nie iemand anders wat hom dit sou nadoen nie. (Wel, miskien Frans Steyn, wat skop soos 'n howitzer, maar met 'n sekere ongeërgdheid rakende akkuraatheid. En sóú hy raakgeskop het, dan was hý die somerswael.)

Die "een swael maak nie 'n somer nie"-teorie word nie sonder meer gehuldig deur bekykers van ander sportsoorte nie. In sokker, byvoorbeeld, is dit goed bekend watter verskil 'n Pelé, 'n Maradonna of 'n Cristiano Ronaldo kan maak. "Karl-Heinz Rumenigge en tien robotte," is hoe 'n koerantskrywer in 1986 die Wes-Duitse wêreldbekersokkerspan beskryf het. Rumenigge was nogtans genoeg van 'n somerswael om sy span amper tot die kroon te tou.

Soms kan 'n swael selfs 'n valse somer, sê sommer 'n "Indiaanse Somer," bewerkstellig. In die sestigerjare het Manchester United 'n baie taai opleidingsproses vir jong spelers gehad. Dit het onder andere behels dat die jongelinge mekaar rondom 'n sokkerbal op die teerblad van Ou Trafford se parkeerterrein gepak het. Daar, sonder enige werklike toesig, het hulle die uitspattigste toertjies en swierige voetwerk uitgepak. Jy moes eenvoudig leer om op jou voete te bly anders het jy in vierkante sentimeter vel daarvoor betaal. Hulle het mekaar gesystap, die bal in pypkandribbels om verdedigers geknikker, lugskoppies oor die kop geskep, die teenstaander met buitevoet-binnevoet oëverblindery probeer omseil… en dan was daar die blinkste van alle tierlantyntjies: Die neutkraker. Dit was eenvoudig en dodelik, maar baie maklik om teen te verdedig. Die plan was om die bal tussen die voete van jou opponent deur te toonskop en agter hom weer bymekaar te maak. Natuurlik hoef die verdediger enige een van sy voete net 'n aks binne toe te skuif en jou skop skram van hom af weg. Maar kry jy dit reg, lyk hy soos 'n idioot en jy soos 'n superster.


Een van die verblindendste spelers in dié karparktoernooie was 'n jong, langhaar-Ier by name George Best. Hy was geoormerk as 'n toekomstige Rooitruidraer, maar was nog nie as gereed geag nie, toe die senior United-span se vliegtuig in die ys by München op die aanloopbaan neerstort en bykans die hele spelerkorps in een staalknarsende oomblik uitgeroei word. Die legendariese spanbestuurder, Matt Busby, moes inderhaas 'n span vir die volgende seisoen saamstel. Hy het 'n versameling afgeleefde strydosse en nat-agter-die-ore jongelinge nadergehark. Skielik was die jong teerbladspesialis, George Best, in die span.

Hy was oombliklik 'n rasende sukses, waarskynlik omdat hy nie van beter geweet het nie. Vir hom was die senior sokkerveld maar net 'n voorsetting van die motorpark en hy speel sy sokker met dieselfde uitbundigheid as wat hy en sy makkers op die teerblad gewys het. Hy pypkan, hy seil verby verdedigers met buitevoet-binnevoet oëverblindende ratsheid en vaart, hy knikker die bal oor hulle koppe en hy… doen die neutkraker. Binne 'n ommesientjie is Manchester United weer die tromslaners in die Engelse Eerste Liga. Best kon enige wedstryd omswaai met sy balgoëlery en hy het doele uit die onmoontlikste hoeke aangeteken. Die Rooies het die groenste van somers, sommer 'n paar in 'n ry, gehad danksy die swaeltjie George Best. Maar sy vernuf het 'n ernstige nadeel vir die span gehad: Dit was die glinsterpapier wat die krake, die ernstige struktuurgebreke, in die span verdoesel het. Best was boonop 'n eksentrieke genie, nie bestand teen die ophemeling van veral vroulike ondersteuners nie en heeltemal te gou het sy loopbaan verstrengel geraak in sy rokjagtery en ongebreidelde dipsomanie. Toe sy loopbaan voortydig verby is, was die Manchester United-somer ook daarmee heen. Die Best-lose span is ontbloot as 'n trop verbeeldinglose ploerte. Niemand het dit werklik besef nie want hulle het aangehou wedstryde wen… danksy George Best. En toe, te skielik, is hy nie meer daar nie en dit het amper 'n anderhalfdekade vir die span gevat om weer die voormalige kruin te bereik.

Selfs Naas Botha het 'n voorliefde vir die swaeltjie-somergesegde. Miskien is hy net beskeie, want as iemand beter behoort te weet, is dit Ignatius Hendrik Botha. Uli Schmidt beduie in sy outobiografie presies watter gehalte swaeltjie – of, in sy terminologie, wedstrydwenner – Naas was. Schmidt was die onderkaptein in die Blou Bul-masjien van die laat tagtigs en was baas van die voorspelers. Wanneer sy span swaar getrek het, het Schmidt eenvoudig die voorspelers byeengeroep en 'n eenvoudige krisisopdrag uitgevaardig: Kry die bal by Naas. Dis al. Naas sal die wedstryd wen. En hy het meestal. In 1987, byvoorbeeld, was Noord-Transvaal in die Curriebekereindstryd deur Transvaal op 'n nat Ellispark vasgekeer. Kry die bal by Naas. En die voorspelers, Schmidt en sy stutte Jan Locke en Heinrich Rogers, en die slotte Adolf Malan en Adri Geldenhuys, en die losvoorspelers met die kontoerploeër Burger Geldenhuys vooraan, het presies net dit gedoen. Na halftyd, met Noord-Transvaal uitgeval op 3-15, het Botha oorgeneem. Vier skepskoppe, vier strafskoppe. Baie dankie, kom ons gaan huis toe. Noord-Transvaal wen 24-18.


Die vraag is, wie is die somerswael van somerswaels in die huidige Springbokspan? Habana, sal party sê. Of Morné Steyn. Selfs jong strydros, Heinrich Brüssouw. Almal geldige kandidate, moet daar saamgestem word. Maar persoonlik reken ek die swael der swaels is Bakkies Botha. Hy is net 'n enorme sterk, doelgerigte, onstuitbare natuurmag. Hoewel hy geen gimnasiumfrats is nie, is hy net van nature 'n brutale sterk Afrikaner. Die Nieu-Seelanders noem hom "The Enforcer" en wat Bakkies afgedwing wil hê, sal hy afgedwing kry. Die Britse en Ierse Leeus het juis gereken hulle kan hom rangeer en daarmee die Springbokke ontspoor. Die beste pogings van hulle gehardste voorpakbrekers was nie goed genoeg nie en dit was eers toe hulle met 'n dissiplinêre slenter vir Bakkies van die veld afgehou het, wat hulle op die voorvoet kon kom.

Ons het spelers wat vir enige ander Springbok kan instaan. Andries Bekker is al meer soos Victor Matfield as Matfield self. Daar is 'n swetterjoel skrumskakels wat besig is om Fourie du Preez se skaduwee te ontgroei. John Smit bly net staan in die toetsskrum omdat hy Bakkies Botha agter hom het om hom vorentoe te stu. Jongi Nokwe is vinniger as Bryan Habana. Maar daar is net een Bakkies Botha.

As die teenwoordigheid van 'n enkele swaeltjie nie 'n somer maak nie, kan die afwesigheid van een 'n winter inlei. Hoewel Bakkies Botha in vorm en styl die algehele antitese van 'n dartelende swaeltjie is, kan ons onsself maar voorberei: Die dag wat hy ophou speel, sal die begin van 'n lang en droë Springbokwinter wees.

интернет магазины детских игрушекФільчаков Олександр Васильович прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.