Kundigheid kan Pretoria se finansies herstel

Deel op

Image

Conrad Beyers

Die Vryheidsfront Plus het in ‘n verklaring gesê dat die party oor die vermoë en strategiese kontakte beskik om die Tshwane-metroraad se geldsake te help herstel, indien die party die geleentheid gegun word.

Deel op

Die VF Plus het gesê dat langtermyn-oplossings, eerder as korttermyn-krisisbestuur,  benodig word om finansiële vertroue in die metroraad te herstel.

Volgens dr. Conrad Beyers, VF Plus-raadslid, is die metroraad se huidige finansiële verknorsing te wyte aan swak bestuur en ‘n afwesigheid van toekomsbeplanning, wat die gevolg is van ‘n ernstige tekort aan kundigheid in die metroraad se finansiële department.

“Die VF Plus bied aan om die nodige kundigheid te help mobiliseer ten einde die stad op finansiële gebied te red.  Ons het ‘n keuse – ons kan aanhou histeries skree en gil sonder enige resultate en soos die DA hoop dat alles in duie stort. As die stad egter in duie stort, sit almal sonder water en ligte. Of ons kan probeer red wat te redde is,” het Beyers gesê.

Die VF Plus het gesê die verhoging van die stadsraad se oortrokke fasiliteit vanaf R500 miljoen tot R1.2 miljard is onverantwoordelik vanweë die risiko’s daaraan verbonde.

Volgens Beyers is dit onhoudbaar dat enige instansie se oortrokke fasiliteit byna 10% van die totale begroting uitmaak. Buiten die hoë koste van sulke korttermyn-finansiering is daar groot risiko’s aan verbonde. Indien die finansierders bekommerd raak oor die sekuriteit van hulle fondse, kan hulle eis dat oortrokke skuld onmiddellik terugbetaal word. Gevolglike beslaglegging op die munisipaliteit se kontant kan tot ‘n totale ineenstorting lei.

Die VF Plus is tans in gesprek met verskeie organisasies wat oor die vermoë beskik om finansiële kundigheid te mobiliseer. Die VF Plus self beskik oor mense met sterk agtergrond in finansiële bestuur en aktuariële wetenskap.

Die VF Plus beskik oor ‘n databasis van kundiges wat opgebou is tydens die party se SA Talent-veldtog waarmee die party poog om kundigheid na die staatsdiens terug te bring. Die VF Plus het ook organisasies soos die Afrikanerbond, die Pretoria Sakekamer, die Afrikaanse Handelsinstituut asook ander professionele liggame geïdentifiseer wat hiertoe ‘n bydrae kan maak.

By Donderdag 27 Augustus se raadsvergadering sal die VF Plus die voorstelle ter tafel lê.

диагностические адаптеры для авто на базе компьютералобановский александр биография

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.