Dr. Chris Landman het as "anoniem van Pretoria" ingeskakel en aan Jansen gesê dat die SA Grondwet vir gemeenskapsregte voorsiening maak en dat gemeenskappe (soos die Afrikanergemeenskap) daarom oor die reg van vrye assosiasie beskik wat nie deur 'n owerheid of 'n universiteit ontken mag word nie. Jansen het hierdie regsfilosofiese argument van dr. Landman summier as "kinderagtig" en 'n "voorbeeld van apartheidsdenke" bestempel.
Nadat Roodt sonder sukses gepoog het om in te bel, het hy die volgende e-pos via RSG se webblad aan die ateljee gestuur:
e-pos aan Ateljee
Jou boodskap sal deur die aanbieder(s) in die ateljee gelees word. Hulle mag dalk op die radio daarop kommentaar lewer, maar kan NIE aan jou terugskryf nie. As jy 'n boodskap het waarop jy kommentaar/reaksie verwag, klik hier om RSG te kontak. As jy 'n lys van Kontaknommers vir RSG benodig, klik hier.
Dankie vir jou bydrae.
Jou boodskap was :
Jonathan Jansen het so pas 'n baie redelike vraag van "Anoniem" van Pretoria rondom die mens se reg om in 'n gemeenskap vrye assosiasie te beoefen as "kinderagtig" afgemaak. Enkele jare gelede het Jansen egter 'n kritiese vraag van my by die Taalberaad beantwoord met: "Gaan slaap eers by 'n gekleurde vrou en dan sal jy regkom!" Blykbaar is dit nie kinderagtig nie, maar 'n voorbeeld van "volwasse", akademiese debat. Kennelik verwerp Jansen die hele Afrikanertradisie, -identiteit en -geskiedenis as "apartheidsdenke". Op watter verhewe beginsel grond hy hierdie verwerping? Waarom is ons Afrikaners almal kinderagtig en hy soveel wyser en meer volwasse as ons?
Aan die einde van die program het Robinson op die lug egter net een reël uit die boodskap, "Kennelik verwerp Jansen die hele Afrikanertradisie-, identiteit en – geskiedenis as 'apartheidsdenke', voorgelees wat Jansen se standaardreaksie van "kinderagtig" ontlok het.
Dr. Roodt dring egter nou by sowel Jansen as die Raad van die Vrystaatse Universiteit daarop aan dat Jansen moet verduidelik waarom hy so ver bokant Afrikaners verhewe is dat hy hulle as "kinders" sien waarvan hy die argumente en besware nie hoef te beantwoord nie. Op grond van watter kenteoretiese of ander beginsel is Jansen se vorm van kennis verhewe bo dié van twee Afrikanergeleerdes wat gereeld in Afrikaans publiseer?
Roodt het gesê: "Dr. Christo Landman is 'n vorige kommissaris van die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe en is 'n kenner op die gebied van gemeenskapsregte, sowel plaaslik as internasionaal. Om sy redelike en beleefde beswaar, vanuit 'n grondwetlike perspektief, teen die onderdrukking van 'n Afrikanergemeenskapslewe op die Kovsiekampus as 'kinderagtig' te tipeer, getuig van 'n gebrek aan akademiese en intellektuele etiket."
Roodt eis 'n verskoning van die Universiteit van die Vrystaat omdat hul uitvoerende amptenaar "hom in die openbaar en in die media arrogant en beledigend teenoor Afrikanerintellektuele en Afrikaanse skrywers gedra".