STAANDE TOEJUIGING VIR DAN ROODT IN VSA

Dr. Dan Roodt en sy vrou Karin het so pas teruggekeer na ‘n suksesvolle toer van 12 dae lank deur Frankryk, België en die VSA. Tydens die tweejaarlikse konferensie van American Renaissance, ‘n konserwatiewe groepering in die VSA, het dr. Roodt verlede naweek ‘n staande toejuiging wat minute lank geduur het van die ongeveer 400 konferensiegangers ontvang.

Vele Amerikaners het hul steun toegesê aan die Afrikaner se stryd om selfbehoud in Suid-Afrika. Die vyftig eksemplare van sy boek, The Scourge of the ANC, wat dr. Roodt op die vliegtuig saamgebring het, het binne ‘n kort tydjie ná sy optrede uitverkoop by die boektafels aan die agterkant van die saal.

Verskeie konserwatiewe Britse publikasies het dr. Roodt gevra om ook in hul blaaie te skryf en die Britse publiek oor anti-blanke maatreëls en diskriminasie in SA in te lig, waaronder die lyfblad van die Britse Nasionale Party en mnr. Derek Turner se onafhanklike konserwatiewe tydskrif, "Right now!". Dr. Roodt voorsien in ‘n rubriek wat gister op die Praagwebwerf www.praag.org gepubliseer is dat Afrikaners voortaan ‘n beduidende en selfs ‘n intellektuele leiersrol kan speel in die nuwe internasionale beweging teen multikultiralisme, gegewe hul insig in kultuurverskille, asook hul huidige ervaring van verdrukking deur Suid-Afrikaanse swartes en veral Xhosas.

Op 21 Februarie het dr. Roodt die Vlaamse Parlement in Brussel besoek waar hy die Vlaamse Volksverteenwoordigers ingelig het oor die diskriminasie teen Afrikaners sover dit hul taal, asook hul werks- en opvoedingsgeleenthede in Suid-Afrika betref. Die Vlaminge was geskok om hiervan te verneem, maar veral is hulle onstig deur die voortslepende plaasmoorde en ongebreidelde geweldsmisdaad wat in Suid-Afrika woed. Tydens die noenmaal wat tot laat in die middag geduur het, is Suid-Afrikaanse wyn gedrink.

Vanuit die geledere van mnr. Filip de Winter se Vlaams Belang, wat deur 25% van alle Vlaminge gesteun word en dus die grootste enkele politieke party in Vlaandere verteenwoordig, is alle moontlike vorme van diplomatieke en politieke steun aan die Afrikanervolk belowe. Mnr. De Winter het voorgestel dat dr. Roodt oor enkele maande na Brussel terugkeer om al die konserwatiewe politieke partye in Europa toe te spreek om sodoende die bewussyn van Afrikanerlyding en -onreg in Europa te verhoog. Omdat sommige van dié partye, onder meer in Oostenryk, Denemarke en Italië deel van hul regerende koalisies uitmaak, kan dit verdere positiewe gevolge vir die Afrikaner se huidige stryd hê.

Ook mev. Rita de Bont van die Vlaamse Volksbeweging, ‘n kultuurorganisasie wat ‘n beduidende politieke invloed in Vlaandere uitoefen en Vlaamse onafhanklikheid nastreef, het haar onvoorwaardelike steun aan die Afrikaner se vryheidstryd toegesê. ‘n Samewerkinsooreenkoms tussen PRAAG en die VVB word later vanjaar in die vooruitsig gestel en verdere samesprekings hieroor sal binnekort tydens mev. de Bont se Suid-Afrikaanse besoek gevoer word.

In Frankryk het 30 000 Jode betoog teen die moord op Ilan Halimi, ‘n 24-jarige Jood wat deur ‘n swart bende genaamd "Die Barbare" doodgemartel is. Regoor Europa is die multikulturele samelewing besig om in duie te stort, met gepaardgaande kultuur-, rasse- en etniese konflik. Vir die eerste keer in dekades kan die gemiddelde Europeër hom dus vereenselwig met die Afrikaner se begeerte om vry van oorheersing en diskriminasie, asook geweldsmisdaad en grondroof, te wil leef.

Ná sy besoek aan Europa en die VSA is dr. Roodt uiters optimisties oor die vooruitsigte vir Afrikanerselfbeskikking in Suid-Afrika. "Die radikalisme en opkoms van sosialistiese partye in Wes-Europa ná die sestigerjare het veroorsaak dat die ANC internasionale steun verkry het en die ou Nasionale Party op diplomatieke vlak oorrompel het met, soos ons weet, die holderstebolder oorgawe deur De Klerk. Die huidige swaai na regs in Europa en die VSA téén immigrasie, met die gepaardgaande kritiek op die multikulturele samelewingsmodel, gaan ons bevoordeel net soos wat die ANC/SAKP twintig jaar gelede deur die radikale idees ná 1968 bevoordeel is."

Hy het voortgegaan deur te sê dat "dit van die uiterste belang is dat Afrikaners nou moet saamstaan en die Afrikanerraad-gedagte moet steun sodat ons as volk uit een mond kan begin praat. ‘n Samehangende eis om selfbeskikking moet so gou moontlik aan die heersende ANC/SAKP gestel word terwyl ons bondgenote in Europa en in die VSA van ons vordering na vryheid op hoogte gehou word. Indien die ANC nie aan ons redelike eis om selfbeskikking gehoor gee nie, moet hy besef dat hy hom internasionaal ewe ongewild, of selfs nog ongewilder, as die ou Nasionale Party gaan maak."

PRAAG, in samewerking met ander Afrikaanse organisasies, het so pas ‘n plaaslike en internasionale kommunikasieveldtog van stapel gestuur om die onreg waaronder Afrikaners gebuk gaan aan die groot klok te hang. "Teregstellende aksie en transformasie aan SA ambassades in die buiteland strek ons net tot voordeel, aangesien dié mense nie oor die vermoë of vaardighede beskik om doeltreffend met die Europese en Noord-Amerikaanse gehore te kommunikeer nie. Hierteenoor beskik ons oor honderde Afrikaanse, Europese en Amerikaanse vrywilligers wat een en almal intelligent, goed opgelei en bekwaam is om as ambassadeurs vir die Afrikanersaak op te tree," het dr. Roodt bygevoeg.

play for realЛобановский

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.