Energiekrisis, watter energiekrisis?

Deel op

ImageIn Mei 2007 skryf die gesiene PRAAG-rubriekskrywer, Buks van Rensburg, oor die dreigende oliekrisis in Die komende permanente oliekrisis. In 'n ander stuk Energiekrisis kan ons beskawing vernietig ontleed Buks die drastiese gevolge wat ons in die gesig staar wanneer die mensdom se “piek-olie” die dag opraak. Die term piek-olie is ontleen aan die sogenaamde Hubbard-kurwe wat toon dat ons oliereserwes in 2003 ‘n piek bereik het en dat die olie teen 2050 sal begin opraak.

Deel op

Vir die afgelope tien jaar of so woed daar egter ‘n debat oor die oorsprong van aardolie en aardgas. Die uitkoms van die debat is nie slegs om die akademiese begronding daarvan vas te lê nie, maar dit het fundamentele gevolge vir die mensdom.

Die debatspunt is die vraag: is die oorsprong van aardolie en aardgas organies of anorganies, oftewel, is aardgas en aardolie van ‘n biologiese oorsprong of ‘n abiogeniese oorsprong?

Sou dit biologies wees, dws afkomstig van die reste van oerdiere en plante wat op die aarde sowel as in die see gelewe het, dan is daar ‘n beperkte hoeveelheid olie en gas beskikbaar. Dit kan slegs die reste van die oorspronklike organismes verteenwoordig.

Sou die oorsprong egter abiogenies wees, dus, nie ‘n fossielbrandstof nie, dan word geredeneer dat die aarde sy olie en gasreserwes aanhoudend self hernu. Dit beteken selfs dat uitgeputte olievelde mettertyd weer produktief sal kan raak!

Die strategiese implikasies van hierdie twee standpunte is enorm.

Die Hubert-piek-oliebenadering jaag die olieprys omhoog en bring die wêreld al nader aan ‘n Armageddon, aangesien olie die hoofdryfweer van nywerheidslande se ekonomiese stelsels is. Energiesekerheid is van strategiese belang vir die groot moondhede. Benewens die omgewingskwessies stimuleer daardie standpunt ook die vraag na hernubare energiebronne, na nuwe tegnologie en energiebesparingsmaatreëls op vele gebiede.

Daarenteen, bereik die abiogeniese standpunt presies die teenoorgestelde. As ons wel genoeg olie vir honderde jare het, sal die olieprys daal, sal politieke spannings verminder en sal olie-oorloë iets van die verlede wees. Volgens hierdie uitgangspunt kan mens letterlik op enige plek vir olie boor, mens moet net diep genoeg afgaan.

Maar om diep gate te boor, is ‘n baie duur onderneming en beleggers sal nie maklik oortuig word nie.

Thomas Gold, ‘n sterrekundige van Cornell-universiteit, skryf in sy boek “The Deep Hot Biosphere: The Myth of Fossil Fuels” dat dit onwaarskynlik is dat planeet aarde sy koolwaterstowwe slegs biologies verkry het deur organiese fotosintese van koolstofdioksied uit die atmosfeer. Hy wys op die onwaarskynlikheid van biologiese omskakeling van koolhidrate na koolwaterstowwe as die bron van die aarde se oliereserwes.

Maar ekonomiese en politieke beplanners wil intussen weet: Bestaan daar enige wetenskaplike gronde waarop die algemene aanvaarding van die oliekwessies opgelos kan word?

‘n Interessante waarneming van NASA is dat Saturnus se reusagtige maan Titanus, groot hoeveelhede metaangas in sy atmosfeer bevat. (Aardgas is oorwegend metaan.) Aangesien daar geen moontlikheid van ‘n organiese oorsprong op Saturnus bestaan nie, moet die metaan deur geologiese prosesse in stand gehou word; waarskynlik vanaf die maan se binneruim. Dit strook met sommige wetenskaplikes se standpunt wat beweer dat alle petroleum afkomstig is van abiogeniese prosesse en wat deur die aarde se kors in koolwaterstowwe ontwikkel word. Planete wat van alle vorms van lewe ontdaan is, sal dus noodgedwonge vir hul koolwaterstowwe van abiogeniese oorsprong afhanklik wees. Dit sluit planeet aarde in.

Sasol se Fischer-Tropsch-proses maak sintetiese olies uit koolstofmonoksied en waterstof in die teenwoordigheid van metaalkatalisators. Dit is alombekend dat waterstof en koolstof die mees algemene elemente op aarde is; waterstof in verbinding met water en koolstof in verbindings met karbonate. Die komplekse geologiese strukture diep onder die aarde se oppervlak is dus logiese plekke waar koolwaterstowwe soos in reaktore gevorm kan word — veel makliker as op Titanus wat geen see besit nie. Die abiotiese teorie beweer ondermmeer dat petroleum deur water gevorm word wat vanuit die aardkors wegsak, oor metaalkarbiede migreer en waterstof onder hoë druk afgee. Koolstof, afkomstig van karbonate, gaan in verbinding met waterstof en vorm komplekse koolwaterstowwe, nie veel verskillend van Fischer-Tropsch nie. Dit is dus nie so vergesog nie.   

In hul belangwekkende boek “Black Gold Stranglehold: The Myth of Scarcity and the Politics of Oil”, beweer die skrywers dat olie en gas abiotiese produkte is, en nie fossielbrandstof wat biologies deur die reste van dooie dinosourusse en oerwoude geskep is nie. Hulle beweer dat olie teen ‘n konstante tempo diep onder die aarde se oppervlak gesintetiseer word en deur sentrifugale krag, wat deur die aarde se rotasie veroorsaak word, na die aardkors migreer.  

Hulle beklemtoon dat die biologie nie ‘n meganiese reaktor is nie en kan nie C12 en C13, wat ‘n groot deel van natuurlike aardolie uitmaak, vervaardig nie. Nogtans beweer die literatuur dat aardolie met sy groot C12- en C13-komponent hoofsaaklik van plante afkomstig is. Dit is baie meer waarskynlik dat isotopiese fraksionering op pad na die oppervlak plaasgevind het en steeds plaasvind.

Maar die grootste enkele bewys, is die voorkoms van helium in aardgas en ru-olie. Biologies is dit nie moontlik vir plante en ander organismes om helium te versamel nie. Ons het dus twee botsende kwessies, die voorkoms van helium sowel as biologiese molekules in petroleum. Die opwaartse migrasie van petroleum saam met die helium verklaar dus waarom die twee saam voorkom. Dit is waarom Thomas Gold beweer dat olievelde wat reeds uitgeput is, stadig besig is om te hervul, en waarom petroleumeksplorasiemaatskappye angstig is om die oorsprong van petroleum vas te stel.

Maar ten spyte van al die hedendaagse argumente en nuwe bewyse bly die meeste geochemici vas oortuig dat ru-olie en aardgas van organiese oorsprong is. Hulle glo dat petroleum afkomstig is van die lipiede fraksie van mikro-organismes wat in anaërobiese sedimente versamel het. Boor dus slegs in die sedimentekomme, is daardie mense se opdrag.

‘n Russies-Ukraïense denkskool het reeds in 1951 ‘n uitdaging aan die geologiese wêreld gerig toe hulle beweer het dat aardolie en —gas deur anorganiese materiaal in die aardkors vervaardig word en dus nie van biologiese oorsprong is nie. Totdat die wêreld se leidende wetenskaplikes daarvan oortuig is en totdat die teorieë van die abiotiese denkskool algemeen aanvaar word, sal almal vas glo dat ‘n energiekrisis op pad is en onbesonne dinge beplan.

Ek sien dus uit na Buks van Rensburg se ontleding aan die hand van hierdie artikel wat die teendeel is van sy aanname van die Hubbard-kurwe.

купить шапочку для новорожденной девочкилобановский александр

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.