Griekwasavontuur vir eers verby

Image

Albert van den Berg lak vir Ryno Barnes in gister se wedstryd tussen die Haaie en die Griekwas

Die pret het gister finaal uit die Griekwas se voetbal verdwyn en die gevolg was ‘n pynlike drag slae wat hulle teen die Haaie in Durban op die lyf geloop het. Die Groot Gaters het die seisoen volspoed begin en opwindende, heerlike en – belangriker – wenrugby gespeel. Afrigter Dawie Theron het ‘n atmosfeer van durf, ‘n mate van astrantheid, spantrots en spelvreugde geskep waarin die span gefloreer het. Maar nadat die weeklikse sloegstryd verlede Saterdag teen die Blou Bulle begin het om die lekkerte uit hulle avontuur te dreineer, het die laaste daarvan hierdie week op die Absa Stadion weggekwyn. Al wat oorgebly het was die durf en astrantheid, bestanddele wat hopeloos minderwaardig was om ‘n bedrewe genootskap soos die Haaie flou te speel.

Waar die avontuurgees vroeër dié seisoen die Griekwas se voetbal laat vloei het, die aangeë laat behoue bly het, die steekskoppies laat reg spring het, het gister se oorangstigheid, gespannendheid en periodieke desperaatheid die hele masjien laat stotter. Vroeër dié seisoen sou Naas Olivier, die poublou losskakel, na ‘n kronkelende lynbreuk sy ondersteunende speler se hande met ‘n slingeraangee gevind het. Gister het Waylon Murray dié aangee teruggeskep, vasgevat, omgetol en net groen gras en ‘n doelgebied voor hom gesien. Monty Dumond, een van daardie netjiese losskakels wat blykbaar orals langs die kus uitpeul, het dit van die kantlyn af verdoel en die Haaie was skielik 13-0 voor.

Die Haaie, in teenstelling het daardie heerlike ritme waarvoor hulle bekend geword het, gevind en het gebaljaar soos kaalvoetseuntjies in ‘n reënwaterpoeletjie. Hulle vaste vyf het sterk genoeg gestaan en gedryf om die ligter, haastiger losvoorspelers soos Jacques Botes en Keegan Daniel vry te stel om sorgeloos die veld vol te nael. En terwyl nael die onderwerp is, gee voorspeler het dit met groter uitgelatenheid en meer vernietigend gedoen as daardie vleuel in hakervermomming, Craig Burden, nie. Rory Kockett-luitenant, die skrumskakel Charl McLeod, het self koek uit krummels gebak toe hy ‘n losbal opgepik en die Haaie se tweede drie onder die pale gedruk het.

Hoe meer die Haaie hulle uitstappie geniet het, hoe meer iesegrimmig het die Griekwas se spel geword en hulle mees waagmoedige en astrante pogings, gelei deur ‘n  uiters waagmoedige en astrante Godfrey Mokuena, het uiteindelik weinig wins gewys. Uiteindelik het hulle punte uit twee skamele strafdoele van Naas Olivier bestaan. Hoewel hulle soos die laaste Trojane verdedig het, was dit nie goed genoeg om Monty Dumond, Lwazi Mvovo en Keegan Daniel te keer om drieë aan te teken nie. Met die metronomiese Dumond wat gister blykbaar nie mag mis geskop het nie en wat 18 punte voetgewys gebank het, het die Haaie ‘n ordentlike oorwinning van 41-6 opgestapel.

Die Griekwas se avontuur is vir eers verby. Soos wat die onbeïndrukte musiekprofessor opgemerk het aan die oorgretige jong pianis wat ongevraagd ‘n oudisie by ‘n dinee gespeel het: Jy het ‘n snaakse gesig. Wees nou tevrede. Griekwas het ‘n heerlike, stuitige eerste helfte van die Curriebeker-seisoen beleef. Hulle was so astrant as om tot voor vandag voor te loop op die puntetabel. Hulle moet nou tevrede wees. Die Blou Bulle se instaanspan het hulle ritme gevind en die Haaie speel met al hoe meer presiese venyn. Normaliteit is besig om terug te keer na die rugbyheelal. Een van die dae is die Drienasiesreeks verby en keer die Springbokke na hoofsaaklik die voorloperunies terug. Sit dan reg… want dán begin die Curriebeker-reeks.

ппр оборудованияФильчаков прокурор отзывы

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.