‘n Uitsonderlike vrouegalery

Deel op

Image

By die uitgang van die Hooggeregshof gaan staan sy ʼn oomblik lank stil. Sy lyk verlate en hartseer, asof sy verdwaal het. Of die jare hier, die groot bitter kol êrens diep binne-in haar, so versteen het, dat sy enige oomblik gaan verbrokkel. Die pilare van die hek weerskante van haar omraam haar soos die raam van ʼn portret. Net soos die ander vroue betrokke in hof GD – waar die Boermagsaak homself afspeel – hang haar teenwoordigheid soos ʼn kunswerk, as deel van ʼn galery, aan die houtbeklede mure van die hof agter haar.

Deel op

Hierdie uitstalling is beslis ʼn besoek, in die geestesoog, werd. Die tema daarvan is politieke gevangenskap. Elke vrou het hier haar eie unieke voorstelling. Daar is egter ook verskeie kombinasies van die uitbeeldings – verweef as goeie hoedanig-ede en verweer teen die lewe – in elke vrou afsonderlik te vind.

Die galery kan in afdelings verdeel word. Ten eerste is daar die hoofuitstalling: diegene, wat, so gereeld as wat hulle verpligtinge en finansies dit toelaat, hier kom besoek aflê.

Reg in die middel is ʼn standbeeld – van middelmatige grootte – van ʼn Voortrekkervrou. Haar gesig is half verberg deur die kappie op haar kop. In haar hand klem sy die Bybel stewig vas. Niks keer egter die trane wat oor haar wange stroom nie – in kil graniet is hul verewig op haar gesig. Sy staan roerloos stil en daar is ʼn vasberade trek om haar mond.

Teen die langste muur is ʼn groot skildery wat mens sterk herinner aan Picasso se Guernica. Die gesig in die middel lyk asof dit een is wat baie lag en gedurig praat, maar as mens verder kyk, sal jy merk dat die omringende gesigte heel verwronge is. In somber skakerings van  grys en swart skreeu die ‘viktimisering van die onskuldiges’ (wat net so duidelik te siene is, as wat ʼn kritikus dit in die oorspronklike werk beskrywe het) teen die dakpanele vas.   

ʼn Dagdroom soos dié van Rosetti, is ʼn pragtig versorgde vrou – wat jy ook daar sal vind – met haar boek oop op haar skoot. Haar drome bring sy sonder vermoeienis in die vorm van berading aan haar medemens. Sy kan met vrymoedigheid aanbeveel word, want haar raad en begrip is uit persoonlike ervaring gebore.

Langsaan staan daar ʼn prent nageteken van G.F. Watts se Hoop, ʼn vrou alleen op die aardbol, geblinddoek, met die strewe om die laaste soet musieknote uit die gebroke lier in haar hande te haal.

ʼn Groot helderkleurige natuurtoneel, vol van Namakwaland se blommeprag, soos die werk van Pieter Hugo Naudé, hang langsaan. Vars, soos ná ʼn lentereën. Daar is aardse vrolikheid en opwinding wat wag, want eendag sal alles hier tot ʼn einde kom.

Volgende is ʼn sagte skildery wat na die Waterlelies van Manet trek. Broos en teer, met soveel kalmte en rustigheid. In dieselfde kleurskema, hang daar ʼn dromerige figuur van ʼn jong vrou, wat sterk herinner aan die skildery Lente van Renoir. Sy is vol afwagting op die lente – ten spyte van die winter waarin sy haar tans bevind.

In die hoek is ʼn raam met oudtydse swier, die prent daar binne-in so klassiek soos Da Vinci se Mona Lisa. Die komposisie, hoewel effe afsydig, is sterk gebalanseerd en tydloos.

In skerp kontras daarmee is daar ʼn werk soos van Salvador Dalí se Persistence of Memory. Net ʼn kenner, met ʼn fyn oog, sal dit na waarde kan skat. Tog sal die lag om jou mondhoeke pluk, selfs al staan jy verstom oor jou eie onbegrip van die kompleksiteit van hierdie werklikheid.

As hul pa’s-se-jammer-liefdes kan mens die dogters van die beskuldigdes almal as temas op Sir Joshua Reynolds se Age of Innocence teen die mure hang. Selfs al het hulle soveel groter geword sedert die saak se begin en al het sommige van hulle hul kinderskoene ontgroei.

As onderafdeling van die hoofuitstalling is daar ʼn Moeder-en-Ouma-deel:

Die Seun in blou soos van Thomas Gainsborough trek dadelik mens se aandag. Met soveel moederliefde en deernis sal sy hom graag klein wou hou. Hy is egter so selfstandig en vol lewenskrag, dat jy verwag om haar bo hom in goedkeuring te sien glimlag.

Langsaan is ʼn Madonna  – soos dié een met die angelier van Leonardo Da Vinci – met haar hand koesterend na haar kind gehou.

Na Vryheid wat die volk lei van Delacroix kan ʼn mens maar net in verwondering bly staar. Om haar vlag te laat sak, sal meer verg as hierdie Vervolgingsgesag.

In opregte ouwêreldse vertroue en ewige moederliefde is daar een in ʼn houtraam. Aan die bokant is blomme helder gekleur in die glas en onder in  ʼn halfmaan loer die teksvers in blink papiertjies deur: De Heere is mijn licht en mijn Heil. Ps. 27:1  

Stil in haar gryse ouderdom, skynbaar verwese, sit ʼn ouer dame, soos Whistler se Arrangement in grey and black,  'n portret van die kunstenaar se moeder. ʼn Vaas van fyn porselein is kunstig vasgevang op die stillewe in die volgende skildery. Die patrone op die doek is met ʼn veerdun kwassie ingelas. Tekeninge wat lyk soos die  Vrou wat ‘n brief opskeur van Dirck Hals, met ʼn leë stoel agter haar, pas by die twee moeders wat weduweeskap moes aanvaar.

Daar is skoonmoeders van die gevangenes, wat hulle deur die jare – soos die Gleaners van Millet – ontferm het oor die versorging van die fyner detail in hul dogters se lewens. Met dieselfde "epiese grandeur" waarmee kritici die oorspronklike skildery beskrywe het…

Sprekend van ʼn ouma se liefde: soos in Oppasser en kind  (die portret van Catharina Hooft van Frans Hals) sal jy op die kindergesiggies die lag kan sien van die sorg wat die volgende vrou gebring het. Ook hoe sy haar kleinkinders onder die omstandighede, in die fynste kant geklee het.

In die gang hang daar een soos die Kleinboere se dans van Breughel, vol vrolikheid. Een wat haarself, met watter geleentheid ook al, uitbundig kom voeg by dié wat gereeld daar pryk.

ʼn Kalm en rustige natuurtoneel, asof deur die meester John Constable op die doek vasgelê, beklee ʼn ereplek vir die vrou wat tot die dood haar kant gebring het.

Dan is daar die vaag uitgestalde groep. Diegene wat net halfpad deel is van die verrigtinge, wie se betrokkenheid vir eers die tronk gespaar is.

Laastens is daar die geslote deel van die galery. Die groep van wie nog net die illusie oorgebly het – diegene wat gekies om hul plekkies leeg te laat raak: Tretchikoff se Orgidee wat verspil op die kliptrappe lê.  ʼn Naïewe kinderprent wat jou aan die hart ruk. Een soos ʼn hersenskim – tot die naam het onleesbaar geword. ʼn Ander minder onduidelik maar tog ook wasig dof – geteken met oogwater uit ʼn egskeidingsbevel. Daar is ook die gesofistikeerde, realistiese een, wat gou-gou op haar eie weg gegaan het. Daar is die impressionistiese een – wat gedink het sy kon probeer. Dan is daar die leë plek, wat mens jou net kan verbeel dat die naamplaatjie nog die spasie teen die muur in bewaring hou.

Die plakkaat wat die uitstalling adverteer, lyk soos van Gogh se Gevangekamp. Dit is ook die hoofskildery. Die bindkrag – of dit nou bloot ʼn moontlikheid of reeds ʼn jarelange werklikheid is – wat die vroue hier vasgevang hou soos olie op ʼn doek.

Die versameling is so uiteenlopend van aard, dat geen kunshandelaar dit sou waag om daarmee te koop te loop nie. Ten spyte daarvan is die galery al jare lank reeds oop en die sluiting daarvan nog in die toekoms versluier.

Die musiek en klanke van hierdie uitstalling is ook uniek. Daar is gereelde gelag – soms vol vreugde en soms net skel – maar meestal, stille onbegrip. Soms ʼn asem-snak van verbystering oor wat werklik gebeur. Met geleentheid, rou snikke van intense seer. Tog, in weerwil daarvan ruis deur die brose leegheid, ʼn teer melodie van hoop… dat eendag wel sal kom!

Die raarste van die galery is dat die uitstallers letterlik self betaal – duur, met trane, smart en alleenbestaan.  Tog hang hul trou en trots teen die galery se muur – met hul enigste beloning – die hoop dat hul opoffering bewaar sal bly, as iets wat waarde had.

slots playДанильченко Юрий прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.