Pieter de Villiers: die Springbokke se grootste hindernis?

Deel op

Image

Die ‘besnorde filosoof’ in aksie

'n Kampioen, word daar gesê, is iemand wat iets regtig moeiliks en ingewikkelds maklik laat lyk. Dink maar aan 'n Darryll Cullinan wat 'n wegbewegende snelbal deur die dekke kon dryf met soveel elegansie en presiese aanwending van spoed en tydsberekening dat iets ontsaglik veeleisends as baie eenvoudig voorgekom het. ("As 'n mens teen Darryll geboul het, was dit altyd asof die kolfblad twee meter langer was," het Andrew Hall by geleentheid beduie.)

Deel op

Wel, wat dan van iemand wat iets baie makliks so vrekkens moeilik laat lyk? Die maklikste werk, in die post-Jake White-era is dié van Springbok-afrigter. Dít is moontlik sy grootste bydrae tot die eierbalsport. Voor White het die Springbokafrigter al die werksekuriteit van 'n Kongolese mynopspoorder gehad. Van die eerste ná-isolasieafrigter, John Williams, tot en met die einde van die bisarre Rudolf Straeuli-heerskappy, het net Kitch Christie die goeie grasie gehad om te bedank voordat die Rugbyraad se swaar stewel sy agterwêreld getref het. Williams, Macintosh, Markgraaff, Du Plessis, Mallett, Viljoen en Straeuli het almal saggies in die donker by die agterdeur uitgesluip na bitter, verwytende aftredes. Maar Jake White het met "Bill", (soos die Aussies die William Webb-Ellis-trofee noem) in sy handbagasie van die Wêreldbekertoernooi in Parys teruggekeer. Hoewel dit in ‘n relatiewe bloedlose veldslag gewen is (sonder om met Australië, Nieu-Seeland óf die Franse slaags te raak,) is 'n Wêreldbeker 'n Wêreldbeker, en hierdie een is gewen met 'n span wat oor vier jaar sorgvuldig versamel, geslyp en aanmekaar gesit is. Al wat die nuwe afrigter moes doen, was om die span as’t ware in die regte rigting te beduie, 'n klap op die boud te gee en te kyk hoe hulle holderstebolder oor die opposisie stormloop. Jy hoef nie vir hierdie rugbymonsters te beduie wat om te doen nie – elkeen ken sy werk, sy plek en sy doel en hy weet hoe om dit te doen.

Hierdie jaar het die werk nóg makliker geword met die Bulle wat 'n onstuitbare voetbalpatroon bemeester het: Gebruik 'n strategies bedrewe losskakel om die vyand in sy eie gebied op hok te hou en versmoor hom daar met jou trop voorspelerbuffels totdat hy onder die druk knak en jy jou ligvoetige missiele op die vleuel kan afvuur of, as die bui jou voorspelers pak, hulle sommer kortpad bo-oor hom hardloop. As jy die wedstryd in hierdie pan bak, en jou span se bestanddele is in elke opsig beter as jou opponent s’n, dan gaan jy elke wedstryd wen. So nou hoef die Springbokafrigter nie eens meer spelers van ander provinsies in te vlieg nie. Hy kan maar net, in die woorde van daardie melodieuse pleidooi, Bokke van al die Bulle maak: Trek die hele span in groen aan, gee hulle daai klap op die boud en laat hulle jou bel wanneer hulle die Leeus vernietig en die Drienasiesbeker gewen het. Maklik.

Maar blykbaar is niks vir Pieter de Villiers, die besnorde filosoof, maklik nie. Die Springbokke het verloor toe hulle moes gewen het en het net-net gewen toe hulle die opposisie moes verbrysel het. Die maklike het moeilik geword en is nêrens meer sigbaar as by die afrigter self nie. Hy, wat nooit 'n senior span afgerig het nie, was uitdruklik 'n regstellende aanstelling, en nie bestand teen die onthutsing wat só 'n posisie gewoonlik by die begunstigde veroorsaak nie. Nog voordat hy sy intrek in die afrigter se kantoor geneem het, het hy dit duidelik gemaak dat hy nie tevrede sou wees om 'n blote proseliet en voortsetter van die Jake White-doktrine te wees, sê nou maar op die manier wat Frans Luddeke die werk van Heyneke Meyer in Bloubulland voortbou nie. Hy sou sy eie voetbalfilosofie ontwikkel en toepas. In 'n ommesientjie het hy die Springbokke gekondisioneer om alles wat hulle oor die wen van wedstryde en wêreldbekers geleer het, te vergeet. Hy het in 'n swerm woorde iets onsamehangends verduidelik. Blykbaar was sy meestersidee om die Springbokke nie op die veld te jaag met 'n enkele wedstrydplan nie, maar met vyftien wedstrydplanne. Die Springbokke, wat soos die Bulle, gedy het omdat elkeen sy plek, funksie en aanwending verstaan het, moes nou elkeen 'n "besluitnemer" op die veld word. In krygsterme was hulle vyftien geheime agente. Van 'n eenvormige doelgerigtheid was daar niks te sien nie.

Wat 'n eenvoudige veldtog was om die Drienasiesbeker langs Bill te laat inskuif, het gou in 'n verbysterde gespartel, 'n ellendige geploeter ontaard. 'n Middelmatige All Blacks-span, wat nog aan bomskok ná die Wêreldbekertoernooi gely het, asook 'n lotjie ondergemiddelde Wallabies het die Springbokke met 'n sekere doelgerigtheid afgeransel.

Iewers in die proses verlede jaar, het senior spelers, vernaamlik Victor Matfield en John Smit, 'n satynrevolusie gelei. De Villiers is agteraf gepaai en vooraf opgehemel… terwyl die senior manne die woord laat uitsypel het dat die span maar net die woorde van agter die snor moet verontagsaam. Die ommeswaai het net betyds vir die laaste Drienasieswedstryd gekom en die Springbokke, met stoere Jake White-doelgerigtheid, het die Wallabies met 'n rekordtelling afgeslag en later, op die Britse toer, die Engelse op Twickenham, ook met rekordpunte, verneder.

De Villiers en sy voetbalfilosofie het 'n doelgerigte terugkeer hierdie jaar gemaak en dit was net die half-toevallige ingrype van die klassieke Blou Bul-losskakel, Morné Steyn, wat vir die Springbokke 'n sege oor die Britse en Ierse Leeus gegee het. Een van die stelreëls van die Jake White-stelsel is dat 'n oorwinning  'noorwinning is. Ja, maar regtig… Met die rypste oes primatalent wat Suid-Afrika in dekades gehad het, moes die Leeus opgefrommel en weggepak gewees het.

Die Smit-Matfield-metode het weer die oorhand gekry en die Springbokke het 'n goeie openingsalvo in hierdie jaar se Drienasies geskiet. De Villiers is weereens sielsaliglik uitgeskuif om onsamehangende uitsprake in mediamikrofone te maak.

Hierdie afgelope week sê hy in 'n televisieonderhoud dat die Springbokke uiteindelik geleer het om volgens sy patroon te speel. Agteraf grinnik Matfield en Smit. Laat hom maar so dink. Dis nie dat daar nie 'n leerproses was nie. Daar wás! Hulle hoop net Pieter de Villiers vergeet nie alles wat hy geleer het voor die volgende toets nie.

play slots forтопкарго

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.