Suid-Afrika se ?swaard, hongersnood en pes?

Deel op

Image Die huidige staking laat mens dink aan die Bybelse eindtyd, meen Jeanette Koekemoer.

Met die oopmaak van die derde seël in die Bybelboek Openbaring 6, hoor Johannes ’n stem sê: “‘Kom kyk!’  En ek het gesien, en kyk, daar wag ’n swart perd; en hy wat daarop sit, het ’n skaal in die hand.  En ek het ’n stem tussen die vier lewende wesens hoor sê: ‘’n rantsoen koring vir ‘n penning en drie rantsoene gars vir ’n penning; en moenie die olie en die wyn beskadig nie’”.

Die swart perd beteken reeds onheil.  Die ruiter se skaal toon dat hy iets sekuur wil afmeet sodat daar geen vermorsing plaasvind nie.  Dan word daar rantsoene van koring en gars afgemeet omdat daarvan nie oorvloed is nie. Die vermaning om die olie en die wyn nie te beskadig nie, beklemtoon die skaarste aan lewensmiddele.  Dat dit nie luukses is nie maar noodsaaklike middele, dui daarop dat die hongersnood reeds heers vóór die grootskaalse menseslagting deur “swaard, hongersnood en pes” soos in die vierde seël beskryf. Dit is wat Johannes in sy geestesoog sien aangaande die begin van die eindtye.
Deel op

Suid-Afrika kan binnekort aan hierdie beskrywing voldoen: ’n eens Eerstewêreldland, omgedolwe in ’n misdaadmekka waar dood meer volop is as voedsel; waar die korrupsie van die ANC lei tot chaotiese opstand en produksiestilstand as gevolg van slepende landswye stakings. Voorwaar ’n donker prentjie!  Kom ons meet die moontlikheid daarvan aan ons eie ‘swaard, hongersnood en pes’ naamlik korrupsie, inflasie en chaos:

Oor korrupsie deur die ANC-regime hoef daar nie veel gesê te word nie. Almal weet dat magsbeheptheid en geldsug hulle dryfkrag is, ’n toestand waarin niks anders vir hulle saak maak nie. Soos ’n stakende werker van Binnelandse Sake dit stel: “Dis net die president wat ’n groot verhoging kry en hy doen niks. Hy betaal nie huur, water of elektrisiteit nie, en hy onderhou nie kinders nie.  Die regering gebruik ons net.  Hulle hét geld om vir ons verhogings te gee”.  Goeie insig vir ’n arme Binnelandse amptenaar…

Ter wille van kontinuïteit stel ons chaos hier voor inflasie:

Chaos in ’n kommunistiese land word deur die staat self geskep; dis een van die uitstaande kenmerke van ’n kommunistiese staat.  Die rede:  sodat die regering kan “ingryp” en die held wees wanneer hy die situasie “red”.  Kyk net na die afgelope tyd se stakings:

Daar moet gevra word waarom die regering gewag het tot op die tweede dag van staking deur staatsamptenare om met ’n aanbod te reageer terwyl die onderhandelinge reeds verlede jaar begin het. Die staking kon dalk voorkom gewees het as dié aanbod vroeër gedoen is. Die gevolg is chaos en anargie. Sommige skole moes heeltemal ontruim. Waar kinders en onderwysers dit wel gewaag het om skool toe te gaan ter wille van eksamens, is hulle met sambokke en die dood gedreig deur oproeriges en het hulself angsbevange in skoollokale toegesluit. Verskeie skoolhoofde is deur swart massas op skoolterreine gedreig, ook met woorde soos: “Julle boere wil mos nie luister nie!”. Een skoolhoof en twee leerlinge is ernstig aangerand met knopkieries en sambokke. Met dreigemente soos: “If you can’t hear by ear, we will discipline you by skin”, weerklink rassehaat deur die land. En daar kom Pandor tot die redding deur in haar begrotingstoespraak te sê dié optrede behoort met minagting verwerp te word, en die Raad van Onderwysministers dreig skoolbeheerliggame met ’n interdik as hulle tydens stakings skole sluit. Die regering beoog selfs dat weermaglede en polisie by skole ontplooi word. En nou is alles reg want die regering het mos ingegryp, al duur die stakings voort!

In mediese kringe is die krisis groter. Ambulanse word van hospitaal na hospitaal gestuur omdat ongevalle-eenhede nie die pasiënte kan help nie. Paramedici is so moedeloos dat hulle vir hospitaalamptenare jok oor waar die betrokke ongeluk plaasgevind het; ander doen vir ure lank oproepe om te hoor waarheen hulle pasiënte kan neem, maar die aantal private hospitale is te min want die gesondheidsowerhede het die afgelope sewe jaar 44% van aansoeke om nuwe hospitale en klinieke te bou, afgekeur. Staatshospitale se kraamsale is gesluit; beddens is beset maar daar is nie verpleegpersoneel nie; werkers wat nie meedoen aan stakings nie, word met sambokke aangerand. Jong, afgestudeerde dokters wat nog praktiese ervaring moet opdoen, kla omdat hulle operasies moet uitvoer waarvoor hulle nie gekwalifiseerd is nie. Dan kom die direkteur-generaal van Gesondheid, Thamsanqa Mseleku tot die redding, en hy sê aan die stakende personeel: “Daag op of word afgedank!”  En Geraldine Fraser-Moleketi, minister van staatsdiens en administrasie, bepaal dat verpleegsters geensins mag staak nie en daar’s die hele wêreld reg want die regering het ingegryp, al duur die stakings voort!

Inflasie sal nie maklik gekeer word nie, al verhoog die Reserwebank tien maal hierdie jaar sy rentekoers. Sakevertroue in Suid-Afrika is laer as verlede jaar in Mei, en so sal dit in Junie nog laer wees as gevolg van stygende inflasie. Kredietverlening aan die private sektor het net in Maart vanaf 24,1% tot 25,8% versnel, en saam met 8,6% styging in voedselpryse, 13,2% styging van petrol en die 15.5% van huispryse, is die inflasie-aanwyser VPIX reeds op 6,3% gebring en aandeelpryse oorboord gegooi.  Met 12% verhoging geëis deur staatsamptenare, 15% deur Anglo Platinum-werkers en 11% deur die metaal-en-ingenieursvakbond, sal Suid-Afrika se inflasie dié van Zimbabwe volg. Maar dan red Tito Mboweni, president van die Reserwebank, die land as hy sê: “Tot hiertoe en nie verder nie!” en hy verhoog die rentekoers met ’n half persent, en siedaar, alles is reg want die regering het ingegryp, al verstaan die monetêre-beleidskomitee nie dat ’n verhoging in rentekoerse die huispryse laat styg, persoonlike besteding verlaag en dit inflasie verder verhoog nie!

 As die dokters in Zimbabwe met hulle 600% verhoging steeds staak omdat hulle voorsprong binne drie maande ongedaan gemaak is deur wegholinflasie, kan hulle seker nie verkwalik word vir hul opdrag aan nooddienste om slegs pasiënte wie se derms letterlik gesien kan word, te verwys na die minister van Gesondheid nie?  Die res word huistoe gestuur of kan kies om tussen lyke in die vuil sale te lê tot hulle derms wys. Ook die onderwysers het 600% verhoging gekry maar beloof om binne drie maande nog ’n verhoging te vra as gevolg van inflasie. So het die swak ekonomiese toestand in Zimbabwe veroorsaak dat minstens ’n derde van die bevolking in 2008 van hongersnood kan omkom omdat die 4,1 miljoen mense daar nie die 552 000 ton graan en 90 000 ton ander voedsel sal hê wat hulle nodig het nie.

So snel ook Suid-Afrika op die bose pad van korrupsie, inflasie en chaos die “swaard, hongersnood en pes” van Openbaring ses na ’n algehele ineenstorting sonder dat ons volksgenote dit besef!

гидроаккумулятор харьковлобановский класс

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.