Grondwetregter trek te velde teen Afrikaanse skool

Deel op

Image

Leerlinge aan die Ho?rskool Ermelo betoog teen die verengelsings van hul skool deur die onderwysdepartement van Mpumalanga

Regter Kate"O'Regan van die Grondwethof het gister gesê "die houding van Hoërskool Ermelo pla my… dis nie 'n  houding wat ons grondwet in die vooruitsig stel nie". Hiermee het O'Regan na die 100%-slaagsyfer van Ermelo, 'n Afrikaansmediumhoërskool verwys, en by implikasie gesê dat die skool met sy slaagsyfer spog terwyl omliggende Engelstelalige skole swakker vaar.

Deel op

Die adjunkhoofregter, Dikgang Moseneke, het hom insgelyks negatief oor Afrikaanse taalregte uitgelaat. Moseneke het die "toelaatbaarheid van 'n reg" bevraagteken indien dit ander se regte om by 'n bepaalde skool toegelaat te word ondermyn.

"As jy een reg het wat bo 'n ander gestel word… is dit gewoonlik 'n rooi verkeerslig. Om daarop geregtig te wees om enkelmedium in te stel… dis 'n reg maar dit word bokant 'n ander reg gestel om akkomoderend te wees en ander tale te erken," het Moseneke gesê.

Die staat en die onderwysdepartement voer aan dat Ermelo se taalbeleid, wat reeds 93 jaar oud is, nie "die regte van kinders voorop stel nie".

Die staat se senior advokaat, Bantubonke Tokota, het gesê: "Die Afrikaanse taalbeleid by die skool wat ten alle koste gehandhaaf word, demonstreer dat die beheerliggaam die bedoeling het om die skool eksklusief vir Afrikaners te behou.

"Dit kom by implikasie regstreeks of onregstreeks neer op diskriminasie op grond van taal en dienooreenkomstig bring dit 'n grondwetlike geskil na vore."

Tokota het ook aangevoer dat die onderwysdepartement oor die mag beskik om die beheerliggaam van 'n skool op te skort en self oor die taalbeleid van 'n skool te besluit deur dubbelmedium af te dwing.

In sy teenargument, het senior advokaat Wim Trengove namens die skool en sy beheerliggaam aangevoer dat Mpumalanga se onderwysdepartement geen reg had om die skool se taalbeleid te verontagsaam en dubbelmedium in te stel nie.

"Die magte om die skool se taalbeleid te bepaal, berus uitsluitlik by die beheerliggaam… Die beheerliggaam was andersins verplig om die skool se taalbeleid vas te stel in die beste belang van die skool en die leerders se opvoeding. Dis wat die skool gedoen het," het hy gesê.

Trengove het insgelyks aangevoer dat die geskil oor die toelating van nie-Afrikaanssprekende leerlinge by die skool vermy kon gewees het indien die departement die kwessie van oorbevolking in die Engelsmediumskole aangespreek het, wat daartoe gelei het dat die leerders hulle na Hoërskool Ermelo vir toelating gewend het.

Op hierdie punt het regter Kate O'Regan, een van die linkse Engelstalige regters van die Grondwethof, die "houding van die skool" gekritiseer.

'n Ander senior advokaat, Johan du Toit, het namens die Federasie van skoolbeheerliggame vir Suid-Afrikaanse skole (FEDSAS) opgetree.

Du Toit het gesê dat beheerliggame grondwetlik gemagtig is om die taalbeleid van skole wat hulle dien, vas te stel.

"Artikel 6(2) van die SA skolewet verleen aan skole se beheerliggame die mag om 'n skool se taalbeleid te bepaal. Die liggaam behoort toegelaat te word om dit te doen sonder onregmatige belemmering of verhindering.

"Siende dat die beheerliggaam deur wetgewing tot stand kom, behoort geen ander liggaam daardie funksie te vervul nie, bowenal nie 'n liggaam van onverkose buitestanders soos die tussentydse komitee wat (by Hoërskool Ermelo) oorgeneem het nie," het Du Toit gesê.

Hoofregter Pius Langa het uitspraak in die saak voorbehou.

камины в стиле лофтФільчаков прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.