Nadat dit bekend geraak het dat wetenskaplikes selulêre materiaal deur 'n speekselmonster van die Suid-Afrikaanse atletiekster Caster Semenya aangevra het, geniet vrae oor die uitkoms van die werklike geslag van die atleet tans die wêreld se aandag.
Volgens sportwette, moet die paneel deskundiges wat die ondersoek gaan voer, 'n endokrinoloog en 'n sielkundige insluit.
Daar was al talle gevalle van doodgewone oneerlikheid en onderduimsheid, maar ook gevalle waar atlete wat as vroue geklassifiseer is, hulle hele lewe lank deurgaan met manlike chromosoommateriaal waarvan hulle nie bewus is nie.
In die 1930's is die Duitse hoogspringer Dora Ratjen ontbloot as Hermann, 'n man wat homself as 'n vrou voorgedoen het. Hy het daarna gesê die Nazi's, met hulle obsessie oor die volk se meerderwaardigheid, het hom daartoe gedwing
In 1964, is die Poolse naelloper Ewa Klobukowska met twee medaljes by die Somerspele in Tokio beloon, maar het in 1967 'n chromosoomtoets nie geslaag nie.
Die mees misterieuse geval bly egter dié van Stella Walsh, nog 'n Poolse naelloper. Sy is in 1980 in 'n gewapende roof gedood en 'n nadoodse ondersoek het aan die lig gebring dat sy manlike en vroulike geslagsdele gehad het.