Die Zimdollar is dood, lank leef die Zimdollar!

Deel op

Image

‘n Paar ‘klein’ Zimdollarnote

'n Swartvrou betaal haar busgeld met 3 triljoen ou-Zimbabwiese dollar – gelykstaande aan vier rand. Die kondukteur aanvaar die baksteen netjies gevoude bondels van 'n triljoen elk sonder om die moeite te doen om die note te tel.

"Dit lyk nie asof iemand omgee nie en dit werk," sê die swartvrou, Lucy Denya, 'n sekretaresse in Harare wat beweer dat sy polisiebeamptes gesien het wat ou note gebruik om op busse toegelaat te word.
Deel op

Die Zimbabwedollar is amptelik dood. Dit is van kant gemaak in die hoop dat die wêreldrekordinflasie van miljarde persentasiepunte in Zimbabwe gekeer kan word en Zimbabwe het dit met die VS-dollar en SA rand vervang.

Maar die rol van die ou-Zimdollar, soos dit bekend is, bly vloeibaar. Dit word steeds gebruik en het nog 'n geskilpunt vir die land se verdeelde leierskorps geword. Danksy die geldkrisis, is Zimbabwe nou een van die armste lande ter wêreld.

President Robert Mugabe het gevra vir die herinstelling van die Zimdollar as wettige betaalmiddel omdat die meeste Zimbabwiërs oor geen valuta beskik om basiese lewensmiddele te koop nie. Die sentrale bank onder goewerneur Gideon Gono, 'n Mugabe-lojalis, het die druk van ekstra plaaslike geld erken wat gebruik is om staatsbesteding te befonds, wat sodoende die inflasie gestook het.

Maar die minister van finansies, Tendai Biti, wat by die regering aangesluit het as deel van 'n magsdelingsooreenkoms tussen sy Beweging vir Demokratiese Verandering en Mugabe se ZANU-PF-party, het verklaar dat die plaaslike dollar vir altyd uitgedien is. Hy het gedreig om te bedank indien 'n terugkeer na die plaaslike geldeenheid op hom afgedwing sou word.

"Ons plaas nou die grafsteen op die lyk van die Zimbabwedollar," het Biti aan wetgewers tydens 'n sesmaandelikse fiskale beleidsverklaring gesê.

In 'n toespraak aan sakeleiers, het hy gesê: "Ons druk nie meer ons eie geld nie."

Volgens Biti het maandelikse inflasie in Junie effens gestyg, tot 0,6 persent, vanaf nul persent die vorige maand. Hy het die styging aan prysverhogings in eiendomsverhuring, petrol en ander nie-voedselitems toegeskryf. Hy het ook erken dat die BNP per kop van Zimbabwe van VS$720 in 2002 tot VS$265 verlede jaar gedaal het, wat die tekort aan kontant in die ekonomie weerspieël.

Daardie tekort word nie deur die stand van die globale ekonomie, waarvan Zimbabwe afhanklik is, aangehelp nie.

Met die ineenstorting van die land se landbou-ekonomie ná die beslaglegging op duisende blanke plase in 2000, het 'n beraamde 4 miljoen Zimbabwiërs – waarvan vele geskoolde werkers was – die land verlaat op soek na werk in Suid-Afrika en ander lande. Die sogenaamde "diasporadollar" het by verre die land se grootste bron van buitelandse valuta geword.

Maar weens die globale resessie is dié invloei besig om af te neem, sê die bankiers. In 'n tipiese geval het 'n sakeman se dogter in Brittanje 'n e-pos aan hom in Junie gestuur om te sê dat sy voortaan net die helfte van haar maandelikse bedrag van $400 aan hom sou stuur.

Die onafhanklike Zimabwiese Nasionale Kamer van Koophandel blameer die akute tekort aan valuta op bedrae wat nou bestee word om basiese goedere wat voorheen in Zimbabwe vervaardig is, soos seep en kookolie, van Suid-Afrika aan te koop.

Al wat die busbestuurders met Zimdollars kan doen, is om hulle aan ander passasiers teurg te gee as kleingeld vir Amerikaanse note. In een geval waaroor berig is, het 'n passasier 'n vuurwapen uitgehaal en op 'n busbestuurder gerig wat daarop aangedring het om vir hom kleingeld in plaaslike note te gee.

Buite die stedelike gebiede, waar valute moeilik bekombaar is, word Zimbabwe-dollars soos skuldbriewe in klein transaksies gebruik. En Zimbabwiese note van 'n triljoen dollar, wat die wêreld se grootste note verteenwoordig, word deur versamelaars op eBay opgeraap. In Zimbabwe verwissel hulle van hande soos koepons of beloftes om te betaal.

Winkels sonder kleingeld in valuta bied nie die uitgediende Zimdollars in ruil aan nie, maar gee gewoonlik lekkergoed of sjokoladestafies of handgeskrewe "koepons" op kasregisterstrokies wat in die toekoms opgeëis kan word.

Irene Gwata, die eienaar van 'n klein smouswinkeltjie op die noordwestelike platteland van Zimbabwe, sê valuta syfer in die onlangse tyd nie meer deur na haar klante toe nie. Die plaaslike bevolking verhandel nou bokvleis, hoenders en emmers mielies vir goedere, sê sy.

Sy het 'n swartvrou uit 'n stat op 'n bus sien klim en met 'n lewendige hoender in 'n draadhok betaal vir die reis van 150 km na Harare.

Met die gelate humor van die Zimbabwiese swartes, sê Gwata: "Mense wou weet of sy eiers vir kleingeld gaan kry."

штукатурка цементная ценаФильчаков прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.