Afrikaans mag binne twee of drie geslagte uitsterf

Deel op

Vrydagaand 14 Augustus (GRA-dag) het ek die onderstaande toespraak gelewer tydens 'n debat oor die toekoms van Afrikaans wat deur die Genootskap vir Handhawing van Afrikaans gereël is. Mnre. Louis Smuts van Tabok en Cornelius Janse van Rensburg van die Vryheidsfront Plus se jeugbeweging het die saak vir die voortbestaan van Afrikaans verdedig, terwyl mnr. Henk van de Graaf van Radio Pretoria ook my pessimistiese prognose vir Afrikaans ondersteun het. Op pad na die Hervormde Kerksaal in Du Toitstraat in die middestad van Pretoria, het ons die indruk gekry dat ons vreemdelinge in die stad was. Terwyl die strate van Pretoria op 'n Vrydagaand wemel van mense, is daar geen blankes of Afrikaners te sien nie. 'n Mens wonder wat Paul Kruger en die oorspronklike stadsvaders daarvan sou gedink het, maar die demografiese transformasie – om 'n gepaste term te gebruik – van Pretoria ondersteun insgelyks my argument, dat Afrikaans sonder een of ander groot poging deur Afrikaners of 'n radikale staatkundige verandering in Suid-Afrika, bestem is om algaande te kwyn en dan uit te sterf.

Deel op

Sedert Brittanje onder aanvoering van Lord Craig vir die eerste keer die Kaap in 1795 binnegeval het, het Nederlands, of dan die latere Afrikaans, byna konstant verliese van sprekers teenoor Engels getoon. Vandag bestaan daar vele mense in die land met Afrikaanse vanne wat nie Afrikaans magtig is nie. Hulle gaan nooit ‘n Afrikaanse boek lees nie, ‘n Afrikaanse film of TV-program kyk nie en natuurlik sal so ‘n persoon net in buitengewone omstandighede sy of haar kind na ‘n Afrikaanse skool stuur.

Van die groot aantal Afrikaner-emigrante wat sedert 1994 die land verlaat het, kan mens gerieflik sê dat slegs ‘n minderheid se kinders wat in die buiteland gebore is, nog Afrikaans praat. My beste vriend op skool – ek was aan die Hoër Seunskool Helpmekaar in Johannesburg – se kinders verstaan geen woord Afrikaans nie, want hy is met ‘n Engelse vrou uit Natal getroud en agterna het hulle in Londen gaan woon waar hy sedertdien as advokaat praktiseer. Op een van my rare besoek aan hul woning het ek en hy oudergewoonte met mekaar Afrikaans gepraat.

"Daddy, what language is that?" het sy oudste seun in die geselskap gevra. "Dis Afrikaans," het sy pa geantwoord.

Net so hoor mens vele Afrikanerkinders wat binne enkele jare in Australië verengels aan hul Australiese maats sê: "My dad speaks Afrikaans." Maar self het hulle die taal verloor.

Een van die punte wat ek hier gaan benadruk, spreek uit dié voorbeelde: 'n ouer kan moeilik sy eie taal aan sy kind oordra indien die kind in 'n geheel en al anderstalige omgewing grootword. Onlangse studies wat in Kanada gedoen is, het bevind dat 'n groot persentasie kinders van Franssprekende ouers wat buite hul tuisprovinsie Québec grootword, eenvoudig verengels omdat sulke kinders in 'n sogenaamde "see van Engels" opgroei. Kanada, wat tweetaligheid ernstig opneem, anders as die huidige Suid-Afrika wat slegs lippediens aan sogenaamde "meertaligheid" bewys en in wese reeds 'n Engelse staat is, neem tweetaligheid ernstig op. Die staat stel selfs spesiale hulpmiddele en Franstalige skole in Engelse gebiede aan ouers beskikbaar en die bevordering en beskerming van Frans word as 'n belangrike aspek van staatsbeleid beskou.

Franstalige Kanadese of Québecois voel nasionalisties oor hul taal en is oor die algemeen baie taalgetrou, waarskynlik baie meer as Afrikaners. Desnieteenstaande en nieteenstaande tweetalige kommunikasie deur die staat en genoegsame Franstalige skole en amptelike steun vir die Franse kultuur, ondervind ouers buite die Franse gebied van Québec dit toenemend moeilik om hul moedertaal aan hul eie kinders oor te dra, net soos die Afrikaners in Australië, Nieu-Seeland, die Verenigde Koninkryk en elders. Daar word verwys na "die see van Engels" wat hierdie kinders omring en wat uiteindelik sterker is as die ouerhuis se invloed om die eie kultuur te handhaaf.

Die meeste Afrikaners is trots op hul Dietse of Nederlandse afkoms. Maar as ons praat van taalgetrouheid is Nederlanders wêreldwyd die immigrantegroep wat die vinnigste hul taal verloor. In sowel Australië as Kanada verloor 87% van Nederlandse immigrante in dié lande binne een geslag hul taal!

Redelik gou ná 1994 het ons agtergekom dat die politieke revolusie wat mnr. F.W. de Klerk in sy wysheid ontketen het ook 'n taalrevolusie was. Die ou tweetalige Suid-Afrika, wat ook vir die ontwikkeling van swart streekstale in die ou tuislande voorsiening gemaak het, het 'n Engelse land geword. Binne enkele jare het die grondwetlike illusie dat Afrikaans gelyke status teenoor Engels in die staatsdiens en in die openbaar sou geniet, so te sê soos mis voor die son verdwyn. Die staat doen nie eens moeite om simboliese fieterjasies te handhaaf wat selfs die indruk sou skep dat Afrikaans nog enige amptelike status sou geniet nie.

Duisende jare gelede kon 'n taal oorleef al is hy deur slegs enkele honderde mense gepraat wat aan dieselfde stam behoort het. Afrikaans is egter 'n moderne, ontwikkelde kultuurtaal wat grootliks in die twintigste eeu gestandaardiseer en gevorm is. As sodanig, het Afrikaans – soos enige ander taal ter wêreld – bepaalde elemente nodig wat die werking en voortbestaan daarvan verseker. Ek wil nou poog om sulke elemente te identifiseer:

  1. 'n Taal het sprekers nodig. Afrikaans beskik sekerlik steeds oor sprekers, maar van ons mees opgevoede en geskoolde mense word deur regstellende aksie landuit gedryf. Na raming het reeds 'n miljoen Afrikaners die land verlaat en waarskynlik gaan hulle kinders en kleinkinders hoofsaaklik Engels praat en deel van die 87% Dietse taalsprekers word wat binne een geslag hul taal verloor.
  2. 'n Taal het instellings soos skole, kleuterskole, universiteite, 'n akademie wat die taalreëls vasstel, asook biblioteke, museums en ander bewaringsinstansies nodig. Ná 1994 is feitlik alle staatshulp aan die S.A. Akademie vir Wetenskap en Kuns onttrek. Afrikaanse universiteite is deur Kader Asmal saamgesmelt met die uitsluitlike doel om die Engelstalige studente aan die meeste Afrikaanse universiteite in die meerderheid te stel sodat hulle gouer kan verengels. Die Hoërskool Ermelo en vele ander laer- en hoërskole is onderwerp aan dikwels hardhandige maatreëls om hulle op die pad van tweetaligheid en verengelsing te plaas.
  3. Elke taal ter wêreld, selfs groot tale soos Frans, Duits en Spaans wat elkeen oor honderde miljoene sprekers beskik, ontvang staatshulp as dit kom by die befondsing van vertalings, die publikasie van tegniese en literêre boeke, 'n eie film- en TV-bedryf, asook die bevordering van daardie taal in die eie land en internasionaal. Danksy die de facto-status van staatlose taal wat Afrikaans sedert 1994 beklee, ontvang ons geen staatsondersteuning nie en sal enige Suid-Afrikaanse ambassade in die buiteland ons waarskynlik uitlag indien ons vra dat ons taal, letterkunde en kultuur ook elders ter wêreld bevorder moet word, veral onder die groot aantal Afrikaner-emigrante, maar ook onder sprekers van verwante tale soos Nederlanders, Vlaminge en Duitsers.
  4. 'n Taal moet 'n nuttigheids- of handelsfunksie hê, anders sien nóg moedertaalsprekers, nóg vreemdetaalsprekers enige nut in die handhawing of aanleer van die taal. Weereens, in ander tweetalige lande soos België en Kanada, bestaan streng wetgewing wat die swakker ekonomiese taal teen mededinging beskerm. In Vlaandere, die Nederlandstalige gebied van België, word geen Franse reklameborde of ander tekens toegelaat nie. In Québec weer, beskerm die Franssprekendes hulself teen mededinging van Engels en bestaan daar 'n spesiale staatsliggaam wat algemeen as die "taalpolisie" bekendstaan wat sorg dat Frans die heersende handelstaal bly en ook dat geen maatskappy in Québec 'n webwerf aanhou waarop Frans nie voorrang teenoor Engels geniet nie. Hoeveel Afrikanersakemanne in Suid-Afrika adverteer hul produkte of dienste in Afrikaans, wonder ek? Maar ons beskik oor geen taalpolisie of ander staatsinisiatiewe wat die gebruik van Afrikaans in die handel bevorder nie.
  5. 'n Taal het behoefte aan wat ek 'n "regverdige bestel" sou noem. In 'n meertalige land sou dit beteken dat daar 'n behoorlike grondwet en taalwette bestaan wat die staat, die administrasie en die burgers ernstig opneem. Ons het nou al male sonder tal gesien dat ons Engelse staat hom glad nie aan enige reëls steur wat die de facto-hegemonie van Engels sou belemmer nie.
  6. Uiteindelik – en dit is my eie oortuiging ook – is daar 'n verband tussen taal en grondgebied. Die internasionale voorbeelde, soos Vlaandere en Québec, vertel ons dat 'n situasie van taalongelykheid en konstante taalverskuiwing van die ondergeskikte taal na die dominante taal slegs gestabiliseer kan word deur 'n bepaalde gebied aan die taal toe te ken. Selfs kleiner tale of dialekte kan baat by of gered word deur 'n sogenaamde Sprachinsel of "taaleiland", 'n eie gebied wat binne die meerderheidstaalgebied aan so 'n taal of dialek toegeken word. Vir alle praktiese doeleindes beskik Afrikaans oor geen gebied in die land nie, hoewel daar vele dorpe, stede en streke bestaan waar ons taal deur die meerderheid inwoners gepraat word. In dié opsig handhaaf die RSA die ou Sowjetbeginsel waarop Hermann Giliomee reeds gewys het. Russies het in die ou Sowjetunie die "reg van toegang" tot die gebiede van ander tale gehad, maar die omgekeerde het nie gegeld nie. Engels in Suid-Afrika beskik oor die "reg van toegang" tot Afrikaanse gebiede of instellings, maar die omgekeerde geld nie. Waarskynlik is dit 'n biologiese beginsel, maar sonder grondgebied of een of ander vorm van territorium wat op sy eenvoudigste 'n Afrikaanse skool kan wees, kan geen taal oorleef nie. As ons eerlik is, moet ons erken dat Afrikaans hom tans binne Engels-verowerde gebied bevind en kan ons nie eens permanente aanspraak maak op die mees basiese instellings wat vir ons 'n vorm van territorium sou kon bied nie.
  7. In die moderne samelewing speel media natuurlik 'n geweldig belangrike rol. Een van die voordele van 'n eie land, volkstaat of gebied is dat jy nie net die grondgebied beheer nie, maar ook die luggolwe waar jy vrylik uitsaailisensies aan radiostasies en televisiekanale in jou taal kan toeken. Helaas, by gebrek aan 'n gebied, beskik Afrikaners of Afrikaanssprekendes glad nie oor dié voorreg wat vir baie ander taalgemeenskappe wêreldwyd 'n reg is nie. Radio Pretoria, 'n Afrikaanse gemeenskapsradiostasie, moes op eie koste 'n tienjaarlange hofstryd voer vir die reg om in Afrikaans uit te saai. Enige nuwe Afrikaanse stasie of kanaal moet 'n magdom Engelse vorms vir Okosa invul en sal waarskynlik deur die Engelstalige owerheid afgekeur word omdat 'n Afrikaanse medium nie sogenaamd "inklusief" genoeg is nie.
  8. 'n Laaste element waarsonder geen taal kan oorleef nie, is die taalgetrouheid of die taalnasionalisme van sy sprekers. Afrikaans het in die verlede die hindernisse van 'n tweetalige staatsbestel en Engelse oorheersing oorkom omdat die taal deur 'n baie sterk nasionalistiese beweging onder skrywers, taalkundiges, historici, omroepers, dramaturge, filmmakers, onderwysers, predikante en die gewone man op straat gedra is. Tans leef ons in die sogenaamde "globale tydvak" in 'n land wat hom as deel van die internasionale Engelse kultuur sien en daarom per definisie vyandig staan teenoor enigiets wat die staat of sy apologete as "etniese nasionalisme" sou tipeer. Afrikaans of dan Standaardafrikaans of die Afrikaanse kultuurtaal, is die gevolg van 'n nasionalistiese beweging. By gebrek aan so 'n taalnasionalisme, binne 'n reeds Afrikaansvyandige staatsbestel, is dit feitlik 'n uitgemaakte saak dat Afrikaans gaan uitsterf.

Tot dusver het ek agt elemente geïdentifiseer waarsonder geen taal op die duur kan oorleef nie. Ons het gesien dat Afrikaans oor geen van dié elemente wat ander, groter tale onderskraag, beskik nie.

Volgens taalkundiges is daar tans omtrent 5500 tale in die wêreld oor, waarvan sommige Indianetale is wat deur slegs enkele stamme gepraat word. Dieselfde taalkundiges beweer dat 90% van daardie tale in hierdie eeu gaan uitsterf teen die tempo vaon ongeveer een per week. Indien die huidige toestand in Suid-Afrika voortduur, gaan iemand beslis vir Afrikaans tydens een van daardie weke 'n grafsteen oprig, daarvan is ek oortuig.

Afrikaans is op die oomblik soos 'n pasiënt in die vroeë stadium van terminale kanker; hy lyk nog gesond, maar as die dokter – of in dié geval die taalkundige – hom bietjie ondersoek, is al die tekens daar dat ons taal ernstig siek is.

'n Mens hoef maar net Sewendelaan of Villa Rosa op die televisie aan te skakel, of te luister hoe hoërskoolkinders praat, om agter te kom dat baie sprekers van Afrikaans reeds 'n stadium bereik het wat as "oorgangstweetaligheid" bekendstaan.

Konstante taalverskuiwing van een taal na 'n ander lei uiteindelik tot die dood van die taal wat al die sprekers afstaan. Die proses waardeur 'n individu of gesin hul taal verloor, is eintlik baie dieselfde as die manier waarop die taalgemeenskap in sy geheel sy taal prysgee.

Wanneer die kind van 'n Nederlandse immigrant in Australië of Kanada – onthou 87% van hulle verloor hul moedertaal – in die sogenaamde Engelse see grootword, mag hy nog enkele Nederlandse woorde praat wat hy van sy ouers geleer het. Alles in die samelewing rondom hom is egter Engels en hy gaan in Engels skool. Alle komplekse begrippe kan hy slegs op Engels uitdruk. Selfs al praat so 'n kind sy moedertaal, gaan dit gemeng wees want vir 'n groot aantal begrippe, name of uitdrukkings in sy omgewing beskik hy gewoon oor geen terme in sy moedertaal nie. Uiteindelik kwyn die moedertaal en op die ou end bly feitlik niks oor nie. Natuurlik gaan enige kind van die volgende geslag geheel en al die oorspronklike taal verloor het.

Vele sprekers van Afrikaans bevind hulself reeds in 'n toestand van oorgangstweetaligheid. Hulle ken of gebruik nie meer alledaagse Afrikaanse woorde soos "loodgieter", "pragtig" of "polisiestasie" nie. Hulle praat van "plumber", "awesome" of "police station", bloot omdat dit die woorde is wat hulle in hul omgewing – hulle 100% Engelse omgewing – aantref.

Terwyl daar 'n polities korrekte argument bestaan dat die gekleurde sprekers van Afrikaans, veral in die Wes-Kaap, die "toekoms van Afrikaans" verteenwoordig vanweë hul relatief hoë bevolkingsaanwas, is die taalverskuiwing onder Afrikaakssprekende kleurlinge in die groter Kaapstadgebied nog veel erger as onder Afrikaners. In 'n redelik onlangse studie wat deur plaaslike en internasionale taalkundiges word die volgende kommentaar op bl. 95 aangetref:

"English has replaced Afrikaans as the most widely-used home language amongst primary school children in the metropolis, something that could indicate the beginnings of a language shift from Afrikaans." *

Terwyl die meerderheid kleurlingoupas en -oumas in die Kaapstadomgewing Afrikaans-eentalig was, is hul kinders tweetalig. Die huidige geslag kinders het egter nou die oorgang na Engels gemaak. Die proses van taalverskuiwing is reeds aan die gang en terwyl dit onder blanke Afrikaners minder opmerklik is, gaan die huidige verlies aan Afrikaans se hoër funksies in die staatsdiens, die howe, universiteite, banke en ander groot maatskappye en uiteindelik ook die skole verreikende implikasies vir die voortbestaan van Afrikaans hê.

Sonder om alarmisties te wees, moet ons besef: die krisis is baie groter as wat ons dink. Indien die status quo voortduur, gaan Afrikaans binne twee of drie geslagte vir alle praktiese doeleindes uitsterf.

Die skrif is aan die muur vir Afrikaans. Indien ons nie 'n baie groot poging aanwend nie, is dit feitlik onomkeerbaar.

 * Language policy implementation and language vitality in WesternCape primary schools deur Peter Plüddemann, Daryl Braam, Peter Broeder, Guus Extra, Michellé October. Praese Occasional Papers nr. 15, Universiteit van Kaapstad, 2004.

ролики детскиепрокурор Фильчаков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.