Obama se ongewildheid

Image

Obama as Skoppensboer

Enigeen wat slegs Afrikaanse koerante lees of na plaaslike TV- en radionuus kyk en luister sal sekerlik dink dat Barack Obama steeds die gewildste president is wat Amerika in sy onlangse geskiedenis gesien het. Dit is egter geruime tyd nie meer waar nie, en eintlik presies die teenoorgestelde – sy gewildheid het oor die eerste ses maande van sy presidentskap geval soos 'n klip in water na ongekende laagtepunte vir 'n nuwe president.

Volgens die jongste peiling van Rasmussen Polls keur slegs 47% van voornemende kiesers Obama se beleidsrigtings goed en 52% keur dit af. Die ommeswaai teen Obama het sowat ses weke gelede gekom – skaars ses maande na sy inhuldiging toe sy gewildheidsyfers gestaan het op 65% vir en 29% teen. Dit word bestempel as die grootste daling vir enige nuwe president die afgelope 50 jaar en meer. Selfs Bush het beter gevaar!

Rasmussen het 'n bykomende maatstaf wat nog interessanter is. Hulle onderskei tussen “sterk goedkeuring” en “sterk afkeur“. Volgens die jongste peiling op 13 Augustus staan die sterk goedkeurders op 29% teenoor die sterk afkeurders op 40 persent. Die negatiewe indeks van 11 (-11) persentasiepunte is die hoogste nog vir 'n president. Dit het ‘n skrale 3 maande gelede op +1 gestaan en aan die begin van die jaar op +25.

Hoekom ek self Rasmussen se syfers verkies bo dié van Gallup en ander wat deur TV-nuuskanale soos CNN gebruik word, is dat Rasmussen seker twee maande gelede en meer die eerste was om te wys op Obama se toenemende ongewildheid. Dit het die ander peilers twee weke en langer geneem om dit raak te sien en te erken. Rasmussen verduidelik dat hy slegs voornemende kiesers se menings gebruik, want dit is die menings wat eintlik tel.

Obama se gewildheid het begin afneem met sy hantering van die insinking in die Amerikaanse ekonomie, maar dit het vinnig versnel toe hy en sy handlangers feitlik vir General Motors en Chrysler gedwing het om tydelike bankkrotskap te aanvaar, die GM-grootbaas en ander direkteure eenvoudig in die pad gesteek het en nuwes – onder meer uit sosialistiese vakbondgeledere –aangestel het om die eertydse motorreus te bedryf. Die reaksie teen hierdie "nasionaliserng" van GM soos dit gesien is, was sterk. Een van die insiggewendste aanduidings hiervan is die jongste motorverkoopsyfers in die VSA. Ford, wat nie staatshulp gevra of gevat het nie, se verkope het skerp gestyg en die van GM en Chrysler het gedaal. Dit is in nuusberigte bestempel as motorkopers wat met hul geld teen regeringsbeheer en van GM stem. Op een van die regse nuuskanale het ‘n tekenprentjie verskyn van Chavez, die ultra-linkse president van Venezuela wat vir Castro van Kuba sê: “Hierdie Obama is ‘n baie beter sosialis as ons. Hy nasionaliseer sommer die hele GM!”

Wat Obama se aansien ook skerp laat daal het, is sy plan om die Amerikaanse gesondsheidstelsel te hervorm. Dit word bestempel as onverbloemde sosialisme met algehele staatsoorname van alle gesondheidsdienste en 'n einde aan privaatverpleging en mediese versekeringsdienste. Die Demokrate in die Amerikaanse kongres met Nancy Pelosi, Speaker van die Huis van Verteenwoordigers en tweede in die ry van potensiële president (net na die vise-president) as Obama iets oorkom, op die voorpunt, is sterk voorstanders van die plan, maar is besig om groot teenstand te kry – in die afgelope dae selfs uit Demokratiese geledere. 

In die afgelope week of so was die ontwrigting van vergaderings wat die kongreslede in hul kiesafdelings gehou het om die plan te verduidelik, die grootste nuus in die VSA. Teenstanders teen die plan – natuurlik hoofsaaklik Republikeine – het in hul massas na die vergaderings opgeruk en luidkeels hul teenstand gewys. Hulle is uit liberale kringe en veral deur die liberale media skerp veroordeel, maar die teenstand laai eerder verder op.

Maar die enkele insident wat Obama die kwaaiste geknou het, was toe hy 'n wit polisieman in reaksie op 'n beweerde rasse-insident as "stupid" bestempel het. Die storie – wat na die beste van my wete nie juis aandag in plaaslike media gekry het nie – het begin toe 'n vrou in Cambridge, Massachusetts, die polisie gebel het en gesê het dat daar twee mans is wat lyk of hulle by haar buurman se huis inbreek. ‘n Patrollie is uitgestuur en hulle het ‘n swartman in die huis gekry. Die man het aan die polisie gesê dat dit sy huis is, maar toe die wit polisieman, sersant Crowley, hom vra vir identifikasie, begin die swarte op hom vloek. Hy is aangekla van poging om die polisie in die uitvoering van hul pligte te belemmer, maar vrygelaat toe dit blyk dat hy wel die eienaar van die huis is. 

Die moles het eintlik begin toe dit bekend word dat die man, Louis Gates, nie alleen ‘n professor is aan die wêreldbekende Harvard nie, maar ook ‘n persoonlike vriend van Obama is. Gates het later erken dat hy en ‘n vriend probleme gehad het om sy huisdeur oop te kry nadat hulle met vakansie was, maar nogtans ten hemele geskreeu teen wat hy as rassisme deur wit polisie bestempel het. Obama het feitlik onmiddellik in reaksie te kenne gegee dat die polisie “stupid” was in hul optrede. Hy – en Gates – moes vinng terugkrabbel toe opnames van radio- en telefoongesprekke geopenbaar is en dit geblyk het dat die polisieman deurentyd reg en ordentlik opgetree het en dit Gates was wat rassisties en ongeskik was. Maar dit het nie ongesiens verbygegaan dat Obama nie verskoning gevra het vir sy verkeerde reaksie nie – al het hy toe vir Gates en Crowley genooi om in die Withuis se tuin bier saam met hom bier te drink. 

Dit was olie op die vuur vir regsgesindes wat geruime tyd al vir Obama beskuldig van openlike rassisme, veral met sy aanstellings in top regeringsposte. Dit is waar dat ‘n buitengewone hoë persentasie van die poste nou deur swartes beklee word – aansienlik meer as die bevolkingverspreiding waarvolgens slegs 10% van Amerika se burgers swart is. Daar is mense wat al sê dat Amerika nou ‘n swart minderheidsregering het!

Een van die interessante gevolge van hierdie anti-Obama houdings is dat kiesers skerp teen die Demokrate en vir die Republikeine swaai.Volgens die peilings sal 43% van voornemende kiesers vir Republikeinse kandidate stem in volgende jaar se kongresverkiesings, terwyl 38 persent die Demokrate steun. 

Maar vir my is seker die veelseggendste aspek van die gebeure die nuus wat nou die dag op sekere webwerwe verskyn het dat Hillary Clinton besig is om fondse in te samel vir die vale om Obama aan te vat vir die presidensiële kandidaatskap van die Demokratiese Party wat oor sowat twee jaar weer begin. Dit is heftig ontken, maar daar is sekerlik ‘n rokie wat waai. Die Clintons – wat mens ook al van hulle mag dink – is uitgeslape politieke waarnemers en dit maak baie sin dat hulle ook opgemerk het dat die knou wat Obama se aansien gekry het, hom uiters kwesbaar vir herverkiesing maak.

Suid-Afrikaners wat nie DSTV het nie, sal egter nie van al die dinge weet nie en dan sal hulle ook baie dikwels na CNN se politieke programme moet kyk waar dit tog ‘n bietjie uitslaan of na die finanskanale soos Bloomberg en CNBC. Die beste plek om ‘n redelike prentjie te kry van wat aangaan, is egter die regse nuuskanale soos Newsmax en Rightwingnews op die internet.  

Daar is kostelike goed daar te sien – soos die plakkate wat enkele dae gelede op mure en pale verskyn het – Obama as die “joker” (Skoppensboer) in ‘n pak kaarte. Dit versprei soos ‘n veldbrand – en die linkses is woedend.

Blykbaar verkoop selfs aandenkings soos t-hemde en koffiebekers met negatiewe slagspreuke oor Obama al hoe flukser. Baie gewild is die 'No we can't!', in teenstelling met sy vroeëre belofte van 'Yes we can'.

Die Amerikaanse politieke prentjie het in net ses maande ongelooflik verander, maar lesers van Beeld en kie soek verniet na berigte hieroor want sedert Charles Smith teruggebring is nadat hy in ekstase was oor Obama se verkiesing, is daar bitter min berigte oor wat in die VSA aangaan. Naspers maak nou staat op Leopold Scholtz in België – en dit lyk my hy kyk net Europese TV!

Praag het so week of twee gelede ‘n spotprentjie op die nuusblad gehad oor ‘n man wat aan sy vriend vra: “Is jy dan ‘n liberalis dat jy Obama nog steun?” “Nee, ek is ‘n Europeer,” antwoord die vriend. Ek wonder hoeveel van selfs Praag se lesers het mooi besef dat die prentjie eintlik vertel dat daar net nog ‘n klompie slinkslinkse liberales in die VSA (en in SA?) is wat Obama steun.

шланги для

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.