Gee jy nog om vir Afrikaans?

Image

'n Mens kan nie ontken dat 'n wolk van mismoedigheid en magteloosheid toegesak het oor dié wat nog vir Afrikaans omgee nie. Van alle kante word Afrikaans getakel – as dit nie van staatskant is nie, kom dit uit die geledere van Afrikaanssprekendes self, soos Koos Kombuis wat in sy kenmerkende mieksertaal in 'n rubriek in Rapport reken Afrikaans is 'n "pavement special".

Koos se "pavement special" slaan op die gemengde afkoms van Afrikaans. Hy reken Algemeenbeskaafde Afrikaans (die suiwer ras) moet die knie buig vir die "eiesoortige, loslit-Afrikaans" (die basterras) wat in koerante soos Die Son en The Voice gebruik word. Sien, want ons mag nie ons bruin broers en susters onwelkom in ons taalstal laat voel nie. Die feit dat die meeste bruinmense vere voel vir Afrikaans en so gou as moontlik wil verengels, ontgaan hom heeltemal. Die feit dat invloedryke bruinmense Afrikaans aktief by akademiese instellings ondermyn, is blykbaar nie ter sake nie.

Om van iemand soos Koos Kombuis – wat 'n vadoek dra om die werklikheid van sy kaalhoofdigheid te verdoesel – te verwag om verder as sy ingeteelde skuldgevoel en naïwiteit te dink, is egter te veel gevra. Ek los die man en sy brabbeldenke dus maar in die kombuis met sy voorraad doeke … ekskuus … vadoeke.

Waaroor dit egter gaan, is die vraag: Wil die Afrikaner nog vir Afrikaans veg? soos Dan Roodt tereg in 'n onlangse artikel gevra het.

As jy nog omgee, hier is één manier hoe jy kan veg: Jy kan die Hoërskool Ermelo ondersteun in sy stryd vir Afrikaans teen die ANC-regering. 'n Geskiedkundige toetssaak vir Afrikaans vind op 20 Augustus in die Grondwethof plaas.

Mpumalanga se departement van onderwys het na dié hof geappelleer nadat die Appèlhof beslis het dat die skool se beheerraad, en nie die onderwysdepartement nie, die laaste sê oor die taalbeleid van die skool het.

Die onderwysdepartement wil die skool, die enigste Afrikaanse hoërskool in die provinsie, dwing om na parallelmediumonderwys oor te skakel omdat 27 leerlinge toegang tot die skool wil hê en nie in Afrikaans geleer wil word nie. Daar bestaan genoeg Engelse skole in die omgewing waar die kinders in die taal van hul keuse onderrig kan word.

Parallel- en dubbelmediumonderrig is die eerste stap na 'n eentalige Engelse skool of universiteit, soos die dalende getal Afrikaanse onderwysinstansies al duidelik bewys het.

As 27 Afrikaanse leerlinge nou toelating tot 'n Engelse skool soek en aandring dat hulle in Afrikaans onderrig word, wat sal gebeur? Is daar in die hele land 'n enkele voorbeeld van Afrikaanse leerlinge wat by 'n Engelse skool durf vra het om in hul eie taal, wat deur die grondwet gewaarborg word, onderrig te word?

Luister na die geskrewe argument wat die departement by die Grondwethof ingedien het: "We submit that the refusal by the governing body of the school, despite several endeavours to change the language policy so as to be inclusive of other language groupings, and the persistence to retain Afrikaans medium of instruction as an exclusive language policy at the school, has a direct impact on the provisions of … the constitution which prohibit discrimination on the grounds of language.

"We submit, despite the denial by the respondents, that the preservation of Afrikaans language policy at the school at all costs by the governing body demonstrates that the governing body intends to preserve the school exclusively for Afrikaners. This effectively amounts to discrimination directly or indirectly on the grounds of language and accordingly this raises a constitutional issue."

Is dit ironie? Massale selfmisleiding? Die blatantste vorm van vermetelheid denkbaar? Met die fanatisme van 'n Middeleeuse inkwisiteur jag die ANC-regering "rassiste" soos hekse terwyl hy self die flagrantste rassediskrimineerder en skender van taal- en menseregte is.

Die Hoërskool Ermelo het jou hulp nodig om sy saak te verdedig. Dis een skool teen die mag van die hele staat. In werklikheid gebruik die ANC my en jou belastinggeld om ons taal te beveg. (Sal 'n mens lag of sal 'n mens huil?)

Jy kan R10 vir die skool se regskoste skenk deur die woord ERMELO na 38655 te teks. Die burgerregte-inisiatief AfriForum het onderneem om 'n bykomende rand te skenk vir elke rand wat die publiek só bydra.

Ek skenk R100 en ek is 'n arm vryskutter wat sommige maande R0 verdien. Wat gaan jy, wie se gordel nog nie tot by die vierde gaatjie ingetrek is nie, bydra?

Die ANC-regering sal geen rus vir sy siel kry tot hy die blankes en by name die Afrikaner en sy taal uitgeroei het nie: hulle is 'n pynlike doring in sy vlees wat hom voortdurend aan sy onvermoë en agterlikheid herinner. Dié wat nog glo dat Zuma & Kie dit goed bedoel met die Afrikaner, wat nog glo 'n mens moet die man 'n kans gee, se oë sal baie vinnig moet oopgaan.

Watter enkele voordeel het Zuma se aanstelling die Afrikaner en Afrikaans al besorg? Pieter Mulder se aanstelling as adjunkminister van landbou? Wat was die koste in terme van verdere verdeeldheid in die reeds verskeurde Afrikanergeledere?

насосного оборудованияданильченко юрий брониславович прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.